Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Tourneo bied jou weelde op wiele

Kyk, gesinsbussies is maar soos tuinmaak. Ure se plesier vir ’n paar, terwyl die res van ons darem die mooi gesnoeide heining sal kan waardeer.

So ’n dekade of twee gelede was dié kombi’s nog heel bekostigbaar, sodat dit ’n gewilde gesinsryding was in die voorstede. Jy’t die baksteenvormige bussies gereeld by skolebyeenkomste raakgeloop.

Maar vandag het die rand so platgeval dat hierdie ingevoerde voertuie peperduur geword het, en buite die bereik is van die gemiddelde gesin.

Vervaardigers plaaslik het hierop gereageer deur enersyds die groeiende toerismemark raak te sien, en andersyds te besef dat diegene wat wel nog ’n miljoen rand kan uithaal vir ’n voertuig, bes moontlik nie sal omgee om nog ’n verdere R100 000 te hoes nie. Dus, laai daai bussie maar vol met weeldetoerusting.

So, die rooivellies-bus van weleer het ’n transformasie ondergaan, van ’n basiese gesinsvoertuig met ’n bank vir elke kind plus nog ’n groot laairuim heel agter, tot ’n deftige maatskappymotor waarmee oorsese direkteure by die lughawe opgelaai kan word, of waarmee buitelandse toeriste in lugversorgde weelde na die vyfster-lodge vervoer kan word,

Ry rus-rus in ’n outomatiese Ford Tourneo-bus. Die Tourneo Custom-bussies het nou ook op die koop toe ’n outomatiese ratkas as keuse ryker geword.

Lig op die kap

Dis nou ’n lang inleiding, maar dit verklaar waarom jou bussie vandag so duur is, en ook so deftig afgewerk. Hy speel nou in ’n nuwe marksegment.

Dis teen hierdie agtergrond wat Ford sy nuwe Tourneo Custom-bus eerstens na die land gebring het, en tweedens waarom hy hom onlangs ook opgeknap het. Meer weelde-items, ’n kragtiger enjin, ’n lieflike outomatiese ratkas, en ’n kajuit wat ’n direkteur tevrede sou stel.

Onder die enjinkap sit Ford se nuwe enjin-en-ratkas-kombinasie waarmee hy verlede jaar ook sy Ranger en Everest toegerus het.

Dis die nuwe 2.0-liter-turbodiesel, gekoppel aan ’n sesgang- outomatiese ratkas.

Terloops, waar die Ranger en Everest se enjin met ’n nuwe tiengang- outomatiese ratkas gekoppel is, kry die Tourneo net ’n ouer, goedkoper sesgang-outokas.

Ons vermoed Ford wou die bussie in ’n bepaalde pryssegment posisioneer, en die tiengang sou hom oor daardie rand gedruk het.

Die enjin is in twee kragvlakke beskikbaar, maar in ons toetsmotor se geval was dit die frisste van die twee, waar 136 kW en 415 Nm wringkrag deur die agterwiele tol.

Wat die ry-ervaring betref ry dié bussie nou glad nie meer soos die bus waarmee jy op skool grootgeword het nie.

Eerstens is die kajuit baie na aan klankdig.

Jy hoor skaars die enjin dreun, of windgesuis of ’n gesing van die bande op die oop pad. Perfek om agter te sit en werk gedoen te kry op jou skootrekenaar, of ’n Zoom-sessie in die ry af te handel sonder om te moet skree.

Vir die bestuurder is die ervaring net so positief. Die Tourneo is ’n groot bus, maar plant jy die regtervoet, skiet daardie tweeliterturbo soos ’n skrikgemaakte springbokkie weg. Dis werklik opvallend, en alte heerlik.

My verbruiksyfer het gou tot rondom 8,0 liter gedaal, of nog laer geduik as jy ligvoets op die oop pad ry.

Weliswaar sonder genoemde direksielede agterin, maar steeds.

Gerieflik binne

Die kajuit se afwerkings is wel grootliks dit wat jy in ander bussies in hierdie klas gaan aantref (VW Caravelle, Hyundai H-1, Toyota Quantum, Mercedes Vito). Daar is skuifdeure weerskante, en dis elektronies sodat jy net aan die handvatsel hoef te pluk dan gly dit vanself heeltemal oop.

Die sitplekke in die tweede ry kan ook heeltemal omswaai, en die rugleunings plat lê, om ’n raadsaal in die kleine te vorm. My model het ook ’n trukamera en gonsers agter gehad wat gehelp het met parkeerwerk in smal parkeergarages.

Afsaal

Met toerisme wat deesdae so ’n groot rol in ons ekonomie speel, het dié bussies skielik ’n moet-hê-item geword op safari-lodges en groot maatskappye se lysies. Die keuse is inderdaad nogal groot.

Daar is goedkoper kandidate as die Tourneo, maar as iemand wat van puik aandryfstelsels en tegnologie hou, het die Tourneo se puik dieselenjin en ratkas ’n sagte plek by my.

Prys: Ford Tourneo Custom 2.0 Limited – R740 900.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.