Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Tourneo vir ’n langpad-toer

Groot sportnutse het meestal oorgeneem waar bussies soos die Kombi in die verlede ’n sterk teenwoordigheid gehad het.

Maar die afgelope jaar of drie het die bussie-segment weer lyf gekry, met die Kia Sedona en Hyundai H1 wat skouers skuur met Ford se Tourneo aan die goedkoper kant van die mark. Bo hulle kan jy Volkswagen se Caravelle op die proef stel, of Mercedes se V-klas.

Die Tourneo het einde verlede jaar ’n gawe regkam van die kuif ontvang om hom op gelyke voet met die duurder bussies te plaas.

Ford het eerstens sy fris nuwe – en tegnologies gevorderde – 2.0-liter-turbodiesel in die Tourneo geplaas, gekoppel aan ’n sesgang- outomatiese ratkas. Dis dieselfde nuwe diesel as wat jy in die Ranger kry, en in die bussie se geval is dit die enkelturbo-weergawe.

Vir die Tourneo-gesin kan jy kies tussen ’n makker weergawe van die enjin (96 kW, 285 Nm) en die kragtiger model (wat ons getoets het) met 136 kW en 415 Nm wringkrag.

Dan het Ford ook die binneruim opgeknap. Die instrumente is straks nie so deftig en modern as die Caravelle of Mercedes se digitale skerms nie. Maar die nuwe raakskerm in die Ford bied steeds ’n funksionele ervaring waar jy net met ’n vingerpunt verskeie nutsfunksies kan aktiveer.

Met sy opknapping het die Ford Tourneo nie net frisser kuite gekry nie, sy kajuit is nou ook modern en prakties gemaak.

Sowel die Volksie-bus as die V-klas het werklik groot skerms met ’n ruimte-eeuse voorkoms.

Daar is verskeie USB- en 12V-sokke regdeur die kajuit versprei, maar die kragtoer van die Tourneo is straks sy tweede ry sitplekke wat nou kan omswaai sodat jy ’n sitkamer-effek kan skep. Kompleet met “tafeltjies” deurdat jy die middelste sitplekke se rugleunings plat kan laat lê. Die sitplekke kan ook op spore vorentoe gly, en die skuifdeure weerskante is elektronies: Druk net ’n knop op die sleutel en dit skuif geruisloos oop.

Die Tourneo ry lekker lig en gemaklik. In so ’n groot bus verkies ek die sesgang-outokas bo die Ranger se nuwe tiengang. ’n Bussie se enjin moet heelwat werk, veral as jy mense karwei. Dan kan die tiengang met sy korter ratte maklik begin soek na die regte rat en kort-kort verwissel. Met die sesgang haak hy hom in vierde as jy die voet plant en dan laat hy die wringkrag al die werk doen, regdeur ’n lang toerestrek.

My verbruik was wel nader aan 8,2 liter as Ford se aanspraak van 6,7 liter.

Afsaal

’n Mens sien ál meer Tourneo’s op die pad en dis geen wonder nie. Met bussiepryse wat algaande die hoogte in skiet, bied die Ford billike waarde teen net onder die R800 000-kerf.

Prys: Ford Tourneo Custom SiT Limited – R763 200.

Meer oor:  Toer  |  Motors  |  Sportnuts  |  Langpad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.