Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Towerbus

In 1970 het die Britse rockgroep The Who ’n snit getiteld ‘Magic Bus’ uitgereik. Einde laasjaar het Kia hul Grand Sedona opgekikker. Egmont Sippel het die towerbus in die feestyd bestuur.

In die ou dae was daar die gesins­motor, die stasiewa, die weelde­limousine en ’n paar bakkies.

Aan die rante van hierdie kerngroep het ’n enorme verskeidenheid voertuie gelewe, merendeels pikkies en sportmotors, terwyl die naoorlogse jare boonop die minibus of veeldoeler gebaar het: geskik vir gesinsvervoer, karweiwerk of kampeeruitstappies.

Ruimte en funksionaliteit was die geheim, eerder as gesofistikeerde motortegnologie; die meeste veeldoelers is sommer op die onderlyf van ’n paneel- of afleweringswa gebou.

In die middel-1970’s het die sogenaamde es-joe-wie egter as ’n toegeboude bakkie op die horison verskyn. Hoogsit, nuttigheid en redelike veldvermoëns, dikwels via deeltydse 4x4-dryf, het die avontuurgees gestook, of ten minste die idee daarvan; baie lewenstylers word bloot net vir die beeld aangeskaf.

So, hoekom nie eerder ’n veeldoeler nie?

Laag en vaartbelyn

Wel, juis omdat hulle ’n meer behoudende beeld uitstraal, en weens lae pense veldongeskik is, en weens lang lywe moeiliker parkeer. Kombineer byvoorbeeld die Kia Grand Sedona se buffer-tot-buffer-maat van 5,11 m met ’n breedte van net minder as 2 m, en die voertuig lewer ’n enorme skaduspoor, groot genoeg om mense te intimideer.

Die voordeel is ruimte. Die Grand Sedona s’n is dalk nie heeltemal so grotagtig groot soos byvoorbeeld die VW Caravelle of die Benz V-klas nie, maar parkeer die voertuie naas mekaar en die rede is ooglopend: die Sedona se dakhoogte (1,74 m) is onderskeidelik 140 en 210 mm laer as die V-klas en Caravelle s’n.

Dit beteken dat mens makliker in die Merc en VW se agterkajuite rondbeweeg.

Maar die Sedona se laer dak bied terselfdertyd drie voordele.

Saam met ’n uiters plat voorruit lewer dit eerstens ’n veel slanker profiel, wat in kombinasie met Peter Schreyer se baaspen ’n waarlik aantreklike bus optower.

Om die waarheid te sê, is die Sedona ietwat van ’n kruis tussen ’n bus en ’n groot luikrug.

Tweedens sorg die laer dak, ten spyte van ’n effe breër voertuiglyf as die Caravelle of V-klas s’n, vir ’n kleiner frontale area wat saam met die Kia se vinnige voorruit maklik deur die wind klief.

Die Grand Sedona se 2.2-liter-turbo­diesel drink dus in die omgewing van ’n heel besadigde 8 tot 8,5 liter/100 km, wat meer as aanvaarbaar is in ’n voertuig van 2,1 ton.

Derdens waarborg die laer dak ook ’n laer voertuiggravitasiepunt. Synde die Grand ook in die orde van 300 kg minder as die ooreenstemmende VW of V-klas weeg en met ’n effe breër spoor spog, is die Sedona gemaklik die minibussegment se baashanteerder.

Die Kia se Hyundai-neef, die H-1, is, terloops, effe nouer en heelwat hoër as die Grand Sedona en hy dryf, interessant genoeg, deur sy agterwiele; die Sedona deur sy voorwiele.

Enjin en verrigting

Tot dusver het ons dus ’n pragtige, ruim sewesitplekbus wat goed hanteer.

Maar hoe ry hy?

Twee woorde: maklik en lekker op sy 235/60-R18-Kumho-kussings. Die bande se 60-profiele maak ’n goeie jop daarvan om die veer-en-dempstelsel se skokabsorpsie aan te vul, ten minste tot die mate wat dit saam met uiters stewige bouwerk verhoed dat die Sedona op enigiets buiten die rofste teer stampskud – en selfs dan herstel die bak blitsig tot ’n kalme postuur. Die uitstaande kenmerk van die Sedona in beweging is dus ’n rustige vermoëndheid.

Die 2.2-liter-CRDi-turbodieselbron lewer deesdae, met vierdegeslag-enkelspoorinspuiting, ’n lewendige 147 kW en 440 Nm – genoeg om die nasionale spoedgrens teen ’n lae 2 000 toere per minuut te handhaaf.

Woel die gladde en verfynde oliebrander tot by 2 500 r.p.m. en die Grand suig 150 km/h uit sy riet sonder dat jy daarvan weet, terwyl die ou sesgang-outokas met ’n splinternuwe agtgang-outo vervang is; ’n puik kas, om die minste te sê, en een wat deur Kia/Hyundai self gebou word.

Ratverhoudinge en enjinkrag kombineer boonop om die Grand se 2,1 ton in minder as tien sekondes van 0-100 km/h te versnel, amper vier sekondes vinniger as Merc se V200d en omtrent 1.5 sekondes vinniger as die VW Caravelle, laasgenoemde met ’n 2.0-liter-biturbo-diesel wat 132 kW en 400 Nm uitskop.

En dan’s die goedkoopste Caravelle omtrent R130 000 duurder as die duurste Grand Sedona, die SXL, wat deur Rapport getoets is.

Die goedkoopste V-klas wat (met 140 kW en 440 Nm) die naaste aan die Grand se 147 kW/440 Nm kom, is die V250d, wat R170 000 duurder as die Kia is.

Bygesê, dat die Benz V250d die 0-100 km/h-lopie darem in 9.1 s floukap, teenoor die Benz V200d se 13.6 s. Die gekuurde V-klas daag later vanjaar op, onder meer met ’n V300d (176 kW plus ’n 9G-Tronic-ratkas-opsie).

Stuur en stabiliteit

Dis duidelik dat die Kia uitblink as dit by ritgehalte en 2.0-liter-dieselverrigting in ’n swaar 5 m lange voertuig kom; inratversnelling is byvoorbeeld segmentleidend, al moet jy die wisselaar en versneller soms bietjie werk om verby te steek.

Teen spoed is die bus, juis weens goeie bakbeheer, ook besonder rigtingsekuur oor gebroke oppervlakke, terwyl die vaartbelynde vorm ordentlik onder windlawaai deur duik. Die Grand is boonop lekker stabiel as die Kaap se Sedoos tier; daai grote lyf plant hom.

Nou vir die laaste antwoord op die vraag oor hoe hy bestuur, en dit kom via ’n elektries-ondersteunde kragroer wat net-net-net aan’t ligte kant is; nommerpas vir ’n bus van hierdie grootte sodat jy so maklik as moontlik – met die hulp van kameras, sensors en ’n duidelike skerm – kan parkeer, terwyl die stuur op die oop pad ook net-net-net swaar genoeg vir goeie reguitlynstabiliteit is.

Modelle , kajuit en toerusting

Dit klink alles belowend. Maar hoe lewe die hoogs bekroonde Grand?

Net een woord: grênd. Wat anders verwag jy van goeie ontwerp, uitleg, toerusting en bouwerk?

Die gekuurde model wen eerstens aan al die normale kosmetiese kikkeringe (nuwe buffers, LED-ligte en dies meer), maar die vernaamstes is die nuwe voorpaneel en daai agtgang-outokas.

Die 3.3-liter-V6-petrol val boonop weg sodat die reeks nou bloot vier variante van die 2.0-liter-turbodiesel bied, waarvan die 11-sitplekker spesiaal bestel moet word; die EX en SXL bied sewe sitplekke elk, die EX+ sitplek vir agt.

Selfs die intreevlak-EX (op 17”-allooie) spog met ordentlike toerusting, waarvan ’n nuwe 7”-Apple CarPlay/Android Auto-aanraakskerm met duidelike ikone, Bluetooth op die stuurwiel, parkeerhulp via sensors en ’n kamera, ses lugsakke, sterk ABS-remme met EBD en ESB plus heuwelwegtrekhulp asook ’n kragbeheerde handrem (in stede van die vorige model se voetbeheerde stelsel) die belangrikste is.

Die EX+ en SXL voeg progressief nog toerusting by, waarvan die 8”-kleurskerm met satnav die opvallendste is, totdat die SXL met ’n vol huis spog, uiteraard met klimaat- en kruisbeheer, beheerknoppe vir die sondak/sydeure/luik vanuit die voorkajuit, ’n drywerstoel wat outomaties van die stuurwiel af wegtrek en terugskuif vir makliker in- en uitklim, asook voorste sitplekverwarming en -verkoeling, plus agtersitplekverwarming.

Die luik- en albei sykantglydeure word ook via krag en afstand beheer.

Die middelry bied twee individuele vliegtuigsitplekke wat na vore en agter skuif, of kan oprol vir maklike toegang tot die derde ry. Albei stoele het opgestopte armleunings en daar’s gryphandvatsels aan albei kante, plus vensterblindings, ’n sondak, ’n dakgemonteerde beheerpaneel vir temperatuur en waaierspoed en twee luggate in die dak.

Jy kan ook tussen die twee middelrystoele na agter deurstap, waar die Grand met twee bottelhouers aan elke kant spog, plus twee luggate in die dak, twee gryphandvatsels, vensterblindings en ’n USB-sok. Knie-en-kopruimte is voorts genoeg vir drie volwassenes op die banksitplek, wat 60:40 in die laairuim se diep bodem platgeslaan kan word om ’n groot gelyke laaivloer te lewer. Daar’s ook ’n oorvloed hake en nette om inkopiesakke vas te hou.

Die binneruim val voorts genoeglik op die oog, met mooi leersitplekke, hoëgehalte plastieke, ’n skoon nuwe voorpaneel en infoskerm, eenvoudige en duidelike instrumente plus infografika (vir byvoorbeeld satnav) en uiters netjiese en skoon ontwerp en uitleg alom.

Voeg hierby ’n 5 jaar/onbeperkte kilo’s­waarborg, ’n 5 jaar/100 000 km-diensplan en 5 jaar-padbystand, en jy kyk na die mark se beste weeldeminibus vir die laagste prys.

Hy skreeu dit nie uit nie.

Maar die Grand Sedona is inderdaad ’n towerbus.

  • Pryse: Kia Grand Sedona – R600 000 tot R783 000
Meer oor:  Kia
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.