Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Toyota-hemel, Merc-hel

Ten lange laas het Toyota die Le Mans 24-uur-uithouren in middel Junie gewen, terwyl laas naweek ’n ramp vir Mercedes-Benz in die Oostenrykse GP was, skryf Egmont Sippel. 

Max Verstappen op pad na sy oorwinning in die Oostenrykse Grand Prix.
Die Porsche 919 Evo.
Sébastien Buemi, Kazuki Nakajima en Fernando Alonso vier hul oorwinning in die Le Mans-24-uur-uithouren.

Sebastian Vettel moes vanjaar se Azerbeidjanse Grand Prix gewen het. Buiten 2018 se openingsren in Australië had Ferrari die vinnigste motor in Bahrain, China en Bakoe.

En toe skop Seb die ankers te styf teen die vloer vas en gly van die baan.

Niks te vrese nie, het die tifosi – hulle wat aan tifus-koors lei, oftewel Ferrari se fanatiese ondersteuners – agterna verklaar. Die SF71H gaan Mercedes-AMG se W09 vanjaar in ’n blik druk. Die spoed en die hantering is daar. Plus Vettel.

Einste Seb het nou al twee skitter-oorwinnings in Bahrein en Kanada behaal (en ’n gelukkige een in Australië), maar hy’t ook onnodig punte in Bakoe, Frankryk en Oostenryk weggegooi.

Tans is Vettel vanjaar se voorloper op die punteleer, maar ná Bakoe het Ferrari se vooruitsigte eintlik beter gelyk as op die vooraand van vandag se Britse GP te Silverstone.

Die verwagting was toentertyd byvoorbeeld dat Ferrari prominent in Spanje sou vertoon.

Toe nie. Pirelli het met ’n nuwe band waarvan die loopvlak 0,4 mm dunner was in Barcelona opgedaag. Die belang was dat die Merc, wat harder met sy rubber as die Ferrari of Red Bull werk, in staat gestel is om die wedren sonder enige bandblase te voltooi, juis omdat hitte-opbou op bande met ’n dikker loopvlak diep in die rubber plaasvind en derhalwe vasgevang word, met geen kans om te ontsnap nie.

Op bande met ’n dunner loopvlak kry die hitte kans om vinniger te ontsnap, wat blase verhoed.

Aangesien Mercedes in dié opsig kwesbaarder as Ferrari en Red Bull was, het die dunner bandloopvlak hulle uitstekend op die Kataloniese baan geval.

Einste band is ook twee weke gelede tydens die Franse GP op Paul Ricard gebruik, waar Hamilton maklik gewen het, terwyl Vettel punte vermors het deur in Bottas vas te kletter, asook in Grosjean, beide in die openingsrondte.

In Frankryk het Mercedes ook hul verbeterde enjin ingespan en laas week in Oostenryk ’n hele paar onderstelvernuwings wat veral meer stabiliteit aan die W09 se stert verleen, nie net onder remming nie, maar ook deur vinnige swiepe.

Silverstone het heelwat sulke swiepe en Pirelli se band met die dunner loopvlak word einste vandag weer vir die derde (en laaste) keer hierdie seisoen ingespan; al drie kere op bane met nuutgeteerde oppervlakke.

Nog ’n Hamilton-sege, dus?

Die kanse het vóór die naweek goed gelyk, maar met een bekommernis in Merc-geledere: Laas naweek se onttrekking van albei motors in Spielberg was die eerste keer sedert 1955 dat twee Silwer Pyle in dieselfde Grand Prix weens meganiese of tegniese probleme tot stilstand gedwing is.

Die vraag is of dit weer gaan gebeur en of Seb, Kimi, Max en Daniel Ricciardo dan voordeel uit Merc se motorsorge Z of die span se swak renstrategieë Z kan put?

  • Die Britse GP word vandag van 15:00 af op SS6 gebeeldsend. Die opbou begin om 13:30. Gister se kwalifiseringsessie word van 12:00 op SS2 herhaal.

Toyota se 20ste Le Mans

Agterna, as jy na die rubberstrepe op die baan moes kyk, was dit duidelik dat die motor wat daarvoor verantwoordelik was, skrootwerf toe is en die drywer dalk hemel of hel toe.

Maar op 13 Junie 1999, met meer as 23 uur van Le Mans se beroemde 24-uur-uithouren agter die rug, toe die linkeragterband op Ukyo Katayama se Toyota GT-One teen 330 km/h gebars het met Katayama net ’n minuut agter die voorloper – en besig om die BMW V12 LMR in te haal – het een van die groot oomblikke van suiwere drywersvernuf in die geskiedenis van motorsport aangebreek.

Voet in die hoek, net voor die Indianapolis-esse, was daar skielik ’n hinkepink in die Toyota se stert, gevolg deur ’n bol blou rook soos die linkeragterband gebars het.

Vroeër in die ren was daar op einste plek ’n amperse tragedie met geen strepe op die baan om van die nare waarheid te getuig nie, toe Peter Dumbreck se Mercedes-Benz CLR-GT1 soos ’n vegvliegtuig opgestyg en doer bo in die lug gebollemakiesie het om in die veld langs die baan tussen ’n klomp bome te land, gelukkig op sy wiele (bit.ly/LMongeluk)

Dumbreck was ’n blote passasier. Hy kon niks aan sy lot verander nie.

Katayama, daarenteen, is tot die uiterste beproef (bit.ly/LMpapwiel). So erg was die tweede hik uit sy Toyota se linkeragterhoek dat dit die kar van koers sou ruk. Vir ’n derde keer het die stert giftig na links weggebreek om die motor onherroepelik na regs te dwing, op pad na die breë grasstrook tussen die baan en die sperrelings.

Selfs met volle remkrag op die agteras sou dit katastrofies kon wees om teen daardie spoed op die gras te beland, maar Katayama het een laaste kans gekry.

Op die presiese punt waar die motor die buitelyn van die baan sou sny om gras te begin vreet, was daar ’n ekstra bietjie teer, ’n klein halfmaantjie wat soos ’n boepensie aan die pylvak gelas is.

Met die Toyota se neus klaar in die boepie het Katayama sy hings op die allerlaaste millisekonde aan die nek gegryp en terug pylvak toe gedwing om ’n liederlike ongeluk te vermy.

Dít nadat die GT-One ’n jaar vantevore 80 minute voor die eindstreep deur terminale ratkasprobleme van ’n oorwinning beroof is. In 1994 het Toyota selfs in die laaste uur nog voorgeloop.

Van 2000 tot 2011 was die Japanse motorreus afwesig voordat hulle in 2012 met hibriede tegnologie na Le Mans teruggekeer en goed gevaar het, tot ’n enorme ongeluk een van die TS030’s – nes 1999 se Mercedes – lugwaarts sou lanseer (bit.ly/LMToyota).

In 2013 eindig Toyota tweede, in 2014 derde en in 2015 sesde; in 2013 en 2014 nadat van hul motors in groot natweer-ongelukke betrokke was.

In 2016 kom Toyota binne 200 sekondes van ’n oorwinning, voordat Kazuki Nakajima se TS050 in die laaste rondte tot stilstand gerol het. En laas jaar moes die vervaardiger nogmaals met meganiese probleme uit die voortou onttrek.

Uiteindelik het Toyota egter vanjaar ’n langverwagte en welverdiende oorwinning behaal – einste met Nakajima, Sébastien Buemi en die F1-legende Fernando Alonso agter die wiel – met die tweede spanmotor as naaswenner; 388 rondtes (vir die wenmotor) van soete verlossing vir al die pyn wat Toyota in 20 probeerslae sedert 1985 in die wêreld se wreedste uithouren moes verduur.

Liefhebbers het ook nie ’n bloue duit omgegee dat Porsche, Audi, Bentley, Mercedes en BMW op die kantlyn was nie.

Wat getel het was dat Toyota se naam ook uiteindelik op die wennerstrofee kon pronk, die tweede Japanse vervaardiger naas Mazda. Sedert 1991 dus, het dagbreek nog nooit so mooi in die Land van die Opkomende Son se rengemeenskap gelyk soos op Maandag 18 Junie 2018 nie.

  • Met ’n gemodifiseerde, onbeperkte weergawe van hul Le Mans-motor wat laas jaar gewen het, het Porsche ’n week gelede die 1983-rekord van 6 min. 11.13 sek. vir die Nürburgring Nordschleife (deur Stefan Bellof, ook in ’n Porsche) met ’n tyd van 5 min. 19.545 sek. verpletter (bit.ly/porscherekord). Ná sy rekordpoging het Timo Bernhard die 919 Evo tussen twee slagspreuke op die baan geparkeer: “Be faster” en “Senna sempre” (“Senna vir ewig”).
Meer oor:  Toyota  |  Mercedes-Benz
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.