Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Toyota se Fortuner trek Epic-baadjie aan

Toyota het sy gewilde Fortuner-reeks aangepas met onder meer ’n nuwe Epic- en Epic Black-afwerkingspakket om meer in ooreenstemming te wees met dit waarna kopers vandag in ’n fris sportnuts soek.

Dié tipe 4x4’s word meestal as leefstylvoertuie ingespan, vandaar dan ook die gewildheid van mooimaak-pakkette wat jy by verskeie bakkies en sportnutse vandag aantref. Dink maar aan die VW Amarok Dark Label en Canyon, die Hilux Dakar of Ford Ranger WildTrak.

Ten eerste het Toyota die ou 4.0-liter-V6-petrolenjin uit die reeks weggelaat. Alle handratmodelle is nou ook gestaak, wat ’n weerspieëling is van hoe ons smaak verander het (en die tegnologie verbeter het).

Die reeks sal voortaan uit die 2.4- en 2.7-liter-petrolmodelle bestaan, asook die 2.8-liter-turbodieselweergawes.

Wat die 2.8-liter-diesels betref, kry almal nou die windmaker Epic-pakket terwyl daar ook ’n deftiger Epic Black-model in die reeks te kies is.

Die gewone Epic-pakket behels ’n swart bosbreker voor met “Fortuner” daarop gegraveer, terwyl ’n sleephak agter standaard bygevoeg word.

Binnelangs ontvang jy silwer skermplate by die deurdrempels en spesiale matjies met ’n “Epic”-kenteken daarop geborduur. Swart leerbekleedsel vir die sitplekke is standaard.

Die Epic Black volg die jongste tendens wat so gewild by leefstylvoertuie geword het. Jou Fortuner het swart allooivellings, swart kantspieëls, ’n swartgeverfde dak en ’n swart dakrak. Die voertuig is ook net in ’n dowwe wit kleur beskikbaar, wat die swart aksente treffend laat uitstaan.

Die gewone Epic-modelle kan jy in wit, silwer, grys of koper bestel.

Die Fortuner Epic Black lyk spoggerig met sy swart wiele en donker aksente op die bakwerk.
Meer oor:  Toyota  |  Fortuner  |  Epic
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.