Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Triton kan nou ook saamblaf

Mitsubishi het sy Triton-bakkie vroeër vanjaar opgeknap om dit enersyds ’n varser voorkoms te gee, en andersyds ook ’n meganiese inspuiting te gee met enkele nuwighede wat hom mededingender op die mark kan maak.

Van die mark gepraat, in die plaaslike hiërargie kraai Toyota (Hilux) en Ford (Ranger) koning, met die Triton en Isuzu D-Max wat om die derde plek stoei.

Die Triton het ongelukkig nie ’n top-verrigtingsmodel in die reeks soos die mededingers nie, wat hom straks ’n paar kopers kan kos. Maar wat voorkoms en verrigting betref, blaf hy met die groot honde saam.

Die opgeknapte Triton bied ’n stil, weelderige kajuit met ’n soepel rit en ’n opgeknapte meganiese pakket wat korte mette met donkiewerk maak. Foto: Marnus Hattingh

Wat’s nuut?

Die 2.4-liter-turbodiesel (133 kW, 430 Nm) is behou, maar ’n nuwe sesgang- outomatiese ratkas vervang die ou vyfgangratkas. Die skakelaksie is ook opgeknap, sê Mitsubishi.

Groter remskywe voor en groter dempers by die agterwiele help onderskeidelik met sterker stopkrag en ’n gemakliker rit.

En binnelangs?

Daar is nou meer silwerpanele op die instrumentpaneel om die ou pikswart-binneruim op te kikker. Meer sponsmateriaal is ook by al die raakpunte aangebring, soos by die handrem, die armleunings en waar jou knieë teen die sentrale konsole druk.

’n Groot raakskerm is nou standaard, net soos leerbekleedsel, USB-sokke, elektriese verstelling vir die bestuurder se sitplek en ’n stuurwiel wat vir sowel hoogte as reik verstelbaar is. ’n Trukamera rond die prentjie af .

Die gesig lyk nuut . . .

Die neus het ’n bonkiger voorkoms danksy ’n hoekige ontwerp vir die rooster en hoofligte wat nou hoër en op die hoeke geplaas is. Wielboë wat uitgebou is, bied ook ’n lekker deurmekaarkuif-voorkoms.

Gooi mielies

Ek moet erken, ek hou nogal van Mitsubishi se 2.4-liter-diesel. Die enjin is kompak dog kragtig en versnel heel fluks as jy in stadsverkeer ry.

Hierdie dubbelkajuite is meestal leefstylbakkies en bring lang ure in dorpsverkeer deur, en hier voel die Triton heel gemaklik.

Ek het hom egter ook vir ’n paar werkesel-take ingespan, soos om lang en swaar steiers te karwei. Hoe swaarder die vrag, hoe geriefliker het die Triton oor spoedwalle en knikke in die pad gevoel.

Sy verbruik het heeltyd net tussen 8,0 liter en 9,0 liter gebly, wat heel goed is. Die kajuit voel ook stil as jy op die oop pad is, en op die grondpaaie was die stuuraksie steeds heel lig.

Slotsom

Die Hilux sal altyd in Suid-Afrika goed verkoop. Die Ranger op sy beurt het onlangs moderne tegnologie gekry: ’n tweeliter-biturbodiesel en ’n tiengang- outomatiese ratkas. Daarby het die Ranger-gesin ook die nuwe Raptor-woemamodel.

Teen hierdie faktore gaan die Triton dus nie sommer enigeen onttroon as nuwe topverkoper nie.

Maar as ’n netjiese, moderne bakkie wat ’n lekker leefstylvoertuig kan wees of werkesel moet wees as hy moet, bied hy puik waarde. So onder die radar van die bekende name.

Prys: Mitsubishi Triton (4x4, out.) – R599 995.

Meer oor:  Mitsubishi  |  Nuwe Model  |  Motors  |  Triton-Bakkie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.