Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Valer Corsa stoei moedig voort

Dis ietwat van ’n vreemde gevoel om in die nuwe Corsa te klim. Opel is deesdae ’n volfiliaal van Peugeot, en benut dié se platforms, enjins en ratkaste vir sy toekomstige gesinsmotors. Rüsselsheim se unieke produk van weleer is dit nie meer nie.

Die nuwe Corsa, wat ’n maand of wat gelede sy buiging hier gemaak het, is ’n goeie voorbeeld. Dis in wese die Peugeot 208, darem net met ’n ander voorkoms buite en binnelangs.

Opel se jongste Corsa leen heelwat van sy meganika by die Peugeot 208. Ons mis iets van die ou Corsa se persoonlik-heid. Foto:MarnusHattingh

As jy verby dié puristiese brandnetels kan kyk, is die Corsa glad nie sleg nie. Want, wel, die 208 is nie te sleg nie!

My toetsmodel was die deftigste weergawe, die Elegance, wat geriefsitems soos ’n tru-kamera, ’n groot raakskerm vir jou nutsfunksies en ’n outomatiese ratkas ingesluit het.

Meganies bied die Corsa ’n soliede pakket. Die Franse se platform, saam met die 1.2-liter-turbo met sy drie silinders (96 kW, 230 Nm), bied ’n lekker klankdigte rit. Die kajuit is geïsoleerd van wind- en padgeraas en as jy eers op die oop pad is, is hy ’n kokon van sy eie.

Die klein turbo-enjin bied goeie woema vir verbysteek, gekombineerd met ’n ligte verbruik, selfs in die stad. Ek het so rondom 6,5 liter gehandhaaf.

Maar iets haper

Wat ek wel meganies sou verander het, is die Franse se sesgang- outomatiese ratkas. Die res van die Europese vervaardigers benut die ZF-agtgang-ratkas (BMW, VW, Jaguar) wat ligjare beter is. Die Corsa se sesgang-outomaties gee ’n hikslag elke keer as hy na ’n hoër of laer rat moet verwissel, en dit raak opvallend en later irriterend. Veral in die dorp as jy tussen verkeersligte kuier en die ratkas nie seker is of hy vierde, vyfde of sesde moet kies nie.

In die kajuit is hy netjies afgewerk. Glad nie die moderne, amper futuristiese uitleg van sy Peugeot-eweknie nie. Maar meer funksioneel. Die raakskerm is ’n aks na die bestuurder gedraai, en die stelsel werk maklik.

Van die plastiekmateriale voel kliphard en goedkoop, wat effe vreemd is omdat die res van die afwerkings so stylvol vertoon.

Vandag se Corsa is ook al heelwat groter as die 1990’s se eier-op-wiele. Dis nou ’n lang vierdeur-luikrug wat lekker baie knieruimte vir die agterste insittendes bied, plus pakplek vir ’n paar naweektasse.

Afsaal

In die oorhandiging van Opel na Peugeot het daar helaas iets verlore gegaan. Onthou nog die ougat Adam?

Ontwerp- en afwerkingsgewys was hy uniek en modern. Die nuwe Corsa voel so half teruggetrokke en weggesteek. Die reserwe-losskakel in die Naas Botha-era. Daar’s nie ’n eie stempel of persoonlikheid soos in die verlede nie.

Maar wat, meganies is hy heel goed en die afwerkings dienlik. Ondersteuners behoort redelik tevrede te wees.

Prys: Opel Corsa 1.2 Elegance – R386 900.

Meer oor:  Motors  |  Corsa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.