Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Vars 3008 wys sy styl, oui

Vir ’n voertuig wat in 2017 Europa se Motor van die Jaar was, sien ’n mens gans te min van Peugeot se pragtige 3008 op ons paaie. Blameer Suid-Afrikaners se konserwatisme (of handelsmerk-lojaliteit, as jy positief wil wees), maar landgenote weet bloot nie wat hulle misloop met dié stukkie voortreflike Franse mobiliteit nie.

Peugeot het pas sy 3008 plaaslik ’n verfrissing gegee en ’n mens hoop dat kopers op soek na ’n stylvol afgewerkte sportnuts hierdie keer ook ’n draai by hul Peugeot-handelaar sal maak. Hy’s die moeite werd.

Die leeu van Belfort se kloue

Voorlangs het die 3008 nou ’n treffende rooster gekry met ’n blink blokkiespatroon wat ’n driedimensionele effek skep. Die rooster (en daardie bewegende effek) vloei netjies ineen na die kante toe waar horisontale strepe al hoe dunner word soos dit na die hoeke strek. Dit is werklik vi­sueel treffend.

Europa was verlief op die 3008, en dis duidelik hoekom. Peugeot se middelslag-sportnuts is ’n treffende alternatief tot ’n rits Japanse en Duitse mededingers.

Op die hoeke is die strepiesdun, vertikale LED-ligte wat ons vroeër op die 2008 gesien het, nou ook op die 3008 te vinde. Dramaties, maar lieflik. Ook agterlangs is die “kloue” herhaal met die remligte wat in drie vertikale stawe geposisioneer is. Onder die rooi stawe skyn die oranje flikkerlig as ’n dun, horisontale streep, en dit brand in die rigting waarin die voertuig gaan draai (soos wat jy al op Audi’s gesien het).

Vir die kajuit het die meeste fokus op die topmodel in die reeks, die GT Line, geval (die Active en Allure is die ander twee afwerkingsvlakke). Die GT Line kry rooi of swart leersitplekke met kontrasterende stikwerk, en daar is ook mooi houtpanele oral op die panele by die deure en instrumentpaneel geplaas.

Die hoofligte bestaan uit LED-eenhede en kan vanself op domp gaan as ’n voertuig nader kom, terwyl die selfstop-funksie, benewens ’n kamera, nou ook met radar werk. Dit stel die stelsel in staat om ook saans in die donker mense of voertuie voor hom te herken en ankers te help slaan as die blikbrein vermoed jy gaan daarin vasry.

Interessant genoeg het Peugeot egter nie die 2008 se nuwe drie­dimensionele skerm voor die bestuurder ook vir die 3008 gebruik nie. Dalk is dit ’n bemarkingsbesluit.

Ons is gaande oor Peugeot se stylvolle binneruim deesdae. Let op die horisontale skakelaars en geskulpte oppervlakke.

Die 3008 het dus steeds die digitale skerm met sy spoed- en toerenaald, maar die beeld is skerper met ’n nuwe grys agtergrond en helderder letters en syfers.

Die reeks bestaan steeds uit drie afwerkingsvlakke (Active, Allure en GT Line), met al drie wat dieselfde (petrolgedrewe) 1.6-liter-turbo benut (121 kW, 240 Nm).

Ratskakeling geskied met ’n sesgang- outomatiese ratkas en krag gaan na die voorwiele.

Op ons kort toetsrit het die 3008 se redelik stil kajuit weer opgeval. Die vering is soepel, hoewel die GT Line-model se laeprofielbande enige knop of bult in die pad dadelik sal laat uitstaan.

Versnelling is billik, maar die 1.6-liter se sterk punt gaan sy suinige verbruik wees eerder as skop-in-die-rug-vermoë. Die sesgang-ratkas is ook nie so seepglad soos die agtgang-ZF-ratkas wat die Duitse groepe gebruik nie. Jy voel so ’n klein hup-en-’n-wip elke keer as rat verwissel word.

Die 3008 se sterk punt is sy voorkoms. Binne en buite. Ek het reeds genoem hoe treffend die rooster nou lyk. Maar kyk net na die instrumentpaneel – daar is die geskulpte oppervlakke, stylvol in hout afgewerk (vir die topmodel). Plus die ry horisontale knoppies vir verskeie nutsfunksies (hoewel die 3008 ook ’n raakskerm bo-op die paneel het).

Vir ’n deftige, middelslag-sportnuts verdien die Franse 3008 egter steeds meer aandag van Suid-Afrikaners as wat hy tans ontvang.

Meer oor:  Peugeot  |  Topmodel  |  Sportnuts  |  Treffend
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.