Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Vars A4 lyk strate beter!

Audi sê daar is steeds genoeg kopers in die land wat na ’n middelslag-sedan soek om die invoer van sy netjiese A4 te regverdig.

Die kompakte weeldesedan is pas opgeknap en lyk nou beduidend meer sportief en dinamies as vantevore. Saam met die BMW 3-reeks en die Mercedes C-klas ding hy jaarliks vir sowat 10 000 kopers se beursies mee.

Deur die jare het die A4 vanaf die vroeë 1990’s se kompakte, maar baie aantreklike stompstert-sedan, na vandag se groterige gesinsmotor omvorm. In die proses – en deels vanweë ’n fanatiese soeke na ’n eenderslykende produkreeks deur Ingolstadt – het die A4 al meer soos sy groter A6- en A8-stalmaats begin lyk. Tot so ’n mate dat hy as ’n steriele, persoonlikheidlose sedan verkwalik is.

Dit is nou wat Audi se ontwerpers grootliks wou verander met die jongste opknapping. Wat bakpanele betref, was dit nie net die gebruiklike (en goedkoper) roete van slegs die buffers omruil nie. Hierdie keer is die deure en wielboë ook aangepas.

’n Skerper gesig en ’n laer aksentlyn by die heupe gee die opgeknapte A4 nou ’n dinamieser voorkoms.

Kyk fyn na die foto’s. Die wielboë staan nou met ’n groter bult na buite oor die wiele, en by die deure is die aksentlyn nou ’n aks laer geskuif om ’n ingekeepte wang daar te stel.

Saam met die nuwe sierrooster en buffer met sy groot luginlate lyk die A4 sommer baie fors en dramaties. Ook agterlangs het die platter, breër remligte en chroomstreep vir ’n dinamieser beeld help skep.

Deesdae is afwerkingspakkette die groot nuus in die bedryf en in die A4 se geval kan jy kies tussen die Standard-, die Ad­vanced- en die S Line-pakket om jou A4 se voorkoms mee te tooi. Almal kry wel LED-hoofligte standaard ingesluit, terwyl die flikkerligte agter die “dinamiese” tipe is wat algaande na die buitekant aanskakel as dit flikker. Die groep se slim Matrix-hoofligte (die lig-eenheid bestaan uit verskeie LED-bondels wat elk individueel verdof kan word om nie aankomende verkeer te verblind nie) is opsioneel verkrygbaar.

Onder die enjinkap sal jy dieselfde gesin petrol- en dieselenjins vind as voorheen. Aan die petrolfront is daar die 2.0-liter-turbo wat in twee kragvlakke beskikbaar is (110 kW, 270 Nm, en 140 kW, 320 Nm), met ’n 3.0-liter-V6-turbo (260 kW, 500 Nm) wat in die S4-topmodel diens doen.

Wat verrigting betref, sê Audi, sal die S4 die versnellopie in net 4.7 sekondes kan kafdraf.

Die 2.0-liter-turbodiesel kom vroeg volgende jaar na die modelreeks.

Ons hou van die plat, breë rathefboom in die minimalistiese kajuit. Geen draaiknop meer hier nie, dis nou net vingers tik op die groot raakskerm daar bo.

Raakvat binne

Twee dekades gelede het Audi die voortou geneem met sy MMI-stelsel, waarmee jy die inligtingskerm se aksies deur middel van ’n draaiknop agter die rathefboom beheer het. BMW was wel eerste op die toneel met sy i-Drive-stelsel, maar Audi het dié omslagtige druk-en-tik draaiknop heelwat vereenvoudig en logieser gemaak. Tot so ’n mate dat dit vir jare daarna nog klasleidend was.

Wel, vandag het die raakskerm op die toneel verskyn. Weg is die groot, plat draaiknop op jou middelkonsole, en sê guten tag aan die skoon, gladde oppervlak van die raakskerm.

Die gedagte is dat dit die manier is waarop ons slimfone vandag benut. Dus is dit nie meer so vreemd vir die moderne motorbestuurder om ook in sy voertuig met die vingerpunt oor ’n skerm te vee, te tik en te knyp nie.

Die draaiknop het wel die voordeel gebied dat jou handpalm stabiel op ’n kussinkie kon rus terwyl jou vingers die wieletjie draai. Nou, met die raakskerm, moet jou hand in die lug hang terwyl jy fyn korrel en mik om die regte ikoon te druk.

’n Ander voordeel van die jongste tegnologie is dat jy jou voertuig met jou slimfoon kan laat “gesels” danksy ’n app wat jy kan aflaai. Dit sal jou onder meer wys waar jou voertuig geparkeer is, sê hoeveel brandstof nog oor is, en die lugversorger aansit. Jy kan ook ’n adres na jou voertuig stuur vanaf jou foon, sodat die blikbrein jou roete kan uitwerk.

Slotsom

Die A4 het vir ’n wyle water getrap in ons mark, maar ons reken met sy jongste opknappings lyk hy nie net heelwat beter nie, sy tegno-vernuf is nou ook op dieselfde peil as wat sy verbruikers van hom verwag.

Enkele pryse: A35 TFSI – R644 000;

A40 TFSI – R681 500;

S4 TFSI – R944 500.

Meer oor:  Audi  |  Sedan  |  A4
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.