Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Vars Q7 ’n ware langpad-toerwa

Groot sportnutse vandag vervul meestal die rol van die destydse kombi. Daardie lekker groot gesinsryding waarin almal pas, plus die hond en kat, en die 17 reistasse wat saamgepiekel moet word.

Al wat verander het, is dat jy nou ’n lekker hoë ryposisie het, en jou voertuig tegnies 4x4-gedrewe is. Maar die meeste van die groot nutse is meer vir padgerief as grondpad-hardebaarde ingestel. Kyk maar net na hul groot wiele met die pragtige allooivellings en dun streep rubber waarop jy moet ry.

Soos nou met my mooie Audi Q7, Ingolstadt se groot sewesitplekker met 4x4-vastrap en ritmodusse vir sneeu- of grondpad-ry. Dis ’n lieflike, tegnies bekwame motor. Maar jy wil nie rêrig ’n kans waag op ’n stofpad met los klippers wat jou bakwerk, of jou sierwiele se 19-duim-allooivellings met hul fyn gekerfde patrone op, kan beskadig nie.

Selfs die rubber waarmee die wiele beslaan is, is vir teerpaaie bedoel. Ons toetsmodel, die Q7 45 TDI quattro, het ’n 55%-profiel gehad. Dis min rubber vir grondpaaie. Dit stamp hard oor groterige los klippe, en dit kan ook maklik deurstamp as jy op vaart ’n skerp rand gaan tref.

Daarom is vandag se groot nutse eintlik maar die eertydse kombi. En vervul hy daardie taak soveel beter.

Audi se groot Q7 bied ’n kombi se ruimte binne, maar met die draftekkies van ’n sportmotor op die oop pad. Foto: Marnus Hattingh

Jy kan steeds die hele gesin inpas. Maar hy is nou veelsydig ook. Ons Q7 se heel agterste ry sitplekke vou met ’n pluk van ’n lus en ’n trek van ’n hefboom in ’n kits plat, vooroor, dat jy ’n plat laairuim het. Ek het ’n groot, ou buffet ingelaai wat ek by die tweedehandsewinkel raakgesnuffel het. Die Q7 het dit met gemak ingesluk.

Daar’s deesdae net een enjin in die Q7-gesin, die 3.0-liter-V6-turbodiesel. Dis ’n ou bekende, en deesdae skop dit ’n puik 183 kW en 600 Nm wringkrag uit. Die Q7 is net oor die twee ton, maar die diesel-V6 voel dit skaars. Audi maak aanspraak op 8,3 liter, maar ek het so 8,7 liter gekry.

Met die opknapping was dit die kajuit wat grootliks gebaat het. Audi het sy jongste digitale instrumentpaneel in die Q7 ingebou, wat beteken daar is twee groot raakskerms wat vertikaal net voor die rathefboom geposisioneer is.

Die stelsel werk heel goed, en interessant het Audi besluit op ’n druk-funksie pleks van net ’n ligte vinger-tik, soos met jou slimfoon. As jy op ’n ikoon druk, maak dit ook ’n bevestigende klik-geluid.

Afsaal

Teen ’n miljoen rand (en meer) is hierdie tipe sportnutse glad nie meer goedkoop nie. Jy kry wel ’n kombi se ruimte binne, al die geriewe en weelde-items wat jy wou hê, en ’n meganiese pakket wat die sportnuts soos ’n sportmotor onder jou hande laat voel. Audi-ondersteuners sal nie teleurgesteld wees nie.

Prys: Audi Q7 45 TDI – R1 328 500.

Meer oor:  Gesin  |  Sportnuts  |  Langpad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.