Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Vars Santa Fe kry nou frisser asem

Die Koreaanse groep Hyundai het ’n lang paadjie gestap van daardie eerste Santa Fe met die golwende heuplyn van die vroeë 2000’s tot vandag se vierde generasie.
Motots
Onder: Hyundai se opgeknapte Santa Fe is ’n gerieflike langpad-toerbus deesdae. Die dieselenjin sal jou ook see toe neem sonder om ’n drinkslag by die vulstasie aan te vra.

Weg is die lawwe ontwerp-idees en na vore tree die opgeknapte Santa Fe met ’n forse voorkoms en moderne, weelderige sportnuts-kajuit.

Ons Santa Fe is sedert 2018 al op die pad, wat ’n model-opknapping heel gepas maak. Die opvallendste is sekerlik die nuwe sierrooster met sy robuuste patroon wat ’n aanwins vir enige braai-lapa sou wees. Maar, grappies tersyde, ek hou van die forse nuwe voorkoms.

Dit word aangevul met T-vormige LED-lampies op elke hoek, wat veral snags ’n treffende voorkoms bied.

Agterlangs kry jy twee, rooi LED-stawe wat oor die breedte van die agterklap strek tussen die remligte; en die uitlaatpype is nou netjies agter die buffer versteek.

Die reeks bestaan plaaslik uit die gewone Executive en die deftiger Elite. Dis slegs ’n spesifikasie-verskil wat hulle onderskei, want albei word aangedryf deur ’n 2.1-liter-turbodiesel en gekoppel aan ’n agtgang- outomatiese ratkas.

Bygesê, die Elite is wel 4x4-vaardig, terwyl die Executive slegs agterwielgedrewe is.

Hyundai het ook ’n paar meganiese veranderings aan sy Santa Fe aangebring wat redelik ongewoon vir so ’n opknap-proses is.

In die Santa Fe se geval voeg dit beslis waarde by.

Die kajuit is heel deftig. Let op die gebrek aan ’n rathefboom – jy druk net ’n knoppie om die outomatiese ratkas te aktiveer.

Die ou turbodiesel van 2 199 cc is nou ietwat verklein tot 2 151 cc, met die enjinblok wat nou ook volledig uit aluminium gegiet is. Die enjin lewer danksy hoër brandstof-inspuitdruk ’n raps meer krag as tevore – 148 kW en 440 Nm wringkrag teenoor die ou model se 145 kW en 436 Nm.

’n Ander tegniese hoogtepunt is die nuwe dubbelkoppelaar-agtgang- outomatiese ratkas wat nou in die Santa Fe diens doen.

Benewens ’n vinniger skakelaksie bied dit ook ’n matige verbetering in verbruik, sê die Koreaanse vervaardiger.

Lang bene

In die binneruim val die groot raakskerm in die middel van die breë instrumentpaneel dadelik op. Die beeld voor die bestuurder is digitaal, en in die topmodel verander die voorkoms daarvan na rooi as jy hom in sportmodus sit.

Van modus gepraat, die Elite het vier ritmodusse plus drie veldry-verstellings wat jou ratskakeling en vastrapstelsel se ingryping aanpas na gelang van jou gekose terrein (sand, sneeu of modder).

Die padrit-modusse bied benewens sport ’n Eco-modus wat vir beter brandstofverbruik sorg (die ratkas skakel baie vinnig oor na ’n volgende rat). Trouens, Hyundai reken jy sal tot 1 200 km met een tenk diesel kan haal as jy mooi ry in Eco-modus.

Wat geriefsitems betref, het die deftige Elite ’n panoramiese sondak, trukamera, koordlose herlaai-vakkie vir jou slimfoon, ’n elektries beheerde luikdeur en flikkers in die kantspieëls. Daar is ook ’n gonser wat waarsku teen kruisverkeer as jy tru ry, en ’n veiligheidsfunksie waarin die blikbrein self die agterste deure sal sluit as iemand dit wil oopmaak wanneer ’n voertuig van agter naderkom. Dis nou om te keer dat ’n kind die deur net oopmaak en uitklouter, reg voor ’n aankomende voertuig in.

Gooi kole

Op die oop pad het die Santa Fe se lekker stewige vastrap en koersvastheid op teer sowel as grondpaaie opgeval (ons het die 4x4-model gery, wat hiermee gehelp het).

Die kajuit was ook stil tot so min of meer 120 km/h, waarna die kantspieëls van hulle laat hoor het. Hyundai het inderdaad meer moeite gedoen om die pad- en enjingeraas meer effektief uit die kajuit te ruim.

Die dieselenjin voel lewendig en jy hoor hom glad nie, selfs nie onder harde versnelling nie.

Stof tot stof

Hyundai se groot sportnuts is deesdae meer van ’n vaardige bussie as ’n hardebaard-veldryer. Ons eerste indrukke is heel positief oor wat die Koreane met hom reggekry het.

Meer oor:  Motors  |  Brandstof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.