Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Vat 6 Lewis!

Lewis Hamilton het ’n week gelede, in Austin, Amerika, sy sesde F1-wêreldtitel verower, 20 jaar nadat Egmont Sippel hom die eerste keer ontmoet het.

Hamilton Saterdag in die Amerikaanse Grand Prix.Foto: usa today

Iewers het ek ’n foto van Lewis Hamilton. Dit insigself is niks vreemds nie. Vele mense het heelwat foto’s van hierdie 34-jarige Brit wat pas sy sesde F1-wêreldtitel gewen het.

Schumacher kon sewe verower. Fangio vyf. Prost en Vettel vier elk. Lauda, Senna, Stewart, Piquet en Brabham drie. Clark net twee.

Dit plaas Hamilton in stratosferiese geselskap. Met 87 troonposisies is hy los voor op die lys van F1-jaers wat Sondae aan die spits van sake aangetree het. Hy’s tweede op die sege-lys, agt agter Schumacher se rekord van 91. Vettel is derde (53), gevolg deur Prost (51) en Senna (41).

In die proses is Hamilton se wenpersentasie tans 33,47%. Dit plaas hom vierde; Schumacher is vyfde met 29,55%. Die drie manne bó die Brit het meer as ’n halfeeu gelede in die 1950’s en 1960’s al gejaag: Jim Clark (34,25%), Alberto Ascari (39,39%) en Juan Manuel Fangio (46,51%).

Dit was ander tye daai. Jaers het soms sommer met ’n skyf in die hand op die wegspringrooster rondgehang.

Hallo, Lucky Strike! Vandag is dit ’n groot taboe. Sigaretborgskappe is ieder geval 20 jaar gelede al verbied, alhoewel Ferrari oudergewoonte ’n manier gevind het om die verbod tot tyd en wyl te omseil.

Tweede in sy groentjiejaar

Wat Ferrari nog nie sedert die aanvang van F1 se hibriede era in 2014 kon vermag nie, is om Mercedes-AMG oor ’n seisoen te klop.

En synde nou ’n driepuntster-dienaar, was Hamilton Ferrari se grootste pyn. Nog net een keer had ’n Maranello-jaer ’n jaareind-oorhand oor hom en dit was in die Engelsman se groentjieseisoen toe Räikkönen die 2007-titel met ’n enkelpunt voor Lewis se neus sou wegraap.

Uiteinde van die storie was 110 koedoes vir Kimi, 109 vir Lewis en 109 vir Lewis se spanmaat, Alonso. Albei McLaren-jaers het vier keer gewen, maar Lewis was vyf keer tweede teenoor die tweemalige kampioen se vier.

’n Fenomenale prestasie? Inderdaad. Was dit nie vir ’n nalatige oomblik in China toe Hamilton in ’n sandstrook vasgeval het nadat hy in die kuipelaan van die nat baan sou gly nie, en hy’t die rekordboeke herskryf. Wat wel aan’t gebeure is . . .

Hamilton in 1995 as tienjarige waar hy aan ’n renstel-wedren op Kimbolton deelgeneem het. Let op die Senna-kleure van sy kophelm. En om goeie rede: Ayrton was en is steeds Lewis se groot held. Foto: getty images

Die eerste titel

Met matelose talent was dit net ’n kwessie van tyd voor die jongeling sy eerste titel sou wen, maar 2008 se oorwinningsriem is nog fyner as Räikkönen s’n in 2007 gesny.

Om kampioen te word, moes Lewis bloot vyfde in die titelbeslissende Brasiliaanse GP eindig. Sesde of laer sou Ferrari se Felipe Massa as koning salf, indien die Brasiliaan kon wen.

’n Halfdosyn rondtes voor die geruite vlag het dit begin drup en stuif. Timo Glock het plekke op droëweer-rubber gewen toe Hamilton en Vettel vir tussenweerbande gekuip het. Kort daarna het Vettel verbygeglip en Lewis was sesde, met Massa stewig op pad na ’n sege.

En hoe dink jy het dit op Interlagos gelyk toe hul liefling-Brasiliaan eerste verby die geruite vlag sou flits, met Hamilton in sesde gepen? Mal. Dis hoe dit gelyk het. En vir 40 sekondes lank was Massa Brasilië se eerste wêreldkampioen sedert Senna – bit.ly/2008Interlagos.

Vyf titels later

Waarvan feitlik almal onbewus was, was hoe erg Glock oor die middelstrek van die laaste rondte op droëweer-rubber sou spartel. Waar die reën Hamilton se titelkanse ’n jaar vantevore in China ontspoor het, was dit in Brasilië sy redding.

In die laaste draai van die laaste rondte van 2008 se laaste ren is Vettel én Hamilton aan Glock se binnekant verby.

Vir die dapper klein Felipe was dit so goed soos ’n Glock-pistool teen sy kop toe Lewis 38.907 sekondes ná hom oor die wenstreep sou suiker. In die vyfde plek. Vir ’n eerste wêreldtitel.

Sedertdien was daar ’n verdere vyf en in die proses het ons ’n paar dinge oor Lewis geleer.

Die eerste is dat hy blitsig in ’n renmotor is. Sy getuigskrifte is vroeg-vroeg gelewer toe hy as groentjie F1 se bitterste tweestryd sedert Senna en Prost met Alonso sou ontketen.

Die tweede is dat Lewis ’n stemmingsmens is. Op sy beste in ’n motor wat hom soos ’n handskoen pas is hy onstuitbaar.

Maar soms raak hy die slagoffer van geestelike en emosionele wanbalanse wat van buite af saam met hom baan toe gedra word.

Hamilton en Nicole Scherzinger in 2008.

Sewe maer en vet jare

Ses titels. Dis baie, veral vir ’n outjie wat net nou die dag nog, in 2007, vir die eerste keer F1-rubber gerook het.

Maar dis nog niks. In Jaar Een kon Lewis die titel dalk wen, maar hy het nie. In Jaar Twee het hy. Jare Drie tot Sewe was leeg. In sy sewe maer jare het Lewis Carl Davidson Hamilton darem een gelukskoot tussendeur beleef toe Glock ’n Glock-skoot na Massa sou vuur.

As Lewis, omgekeerd, nou in sy sewe vet jare is sal dit beteken dat hy, in ’n spieëlbeeld van sy sewe maer jare, volgende jaar se titel moet wen, want die enkele ongelukskoot het in 2016 reeds opgedaag toe sy Merc-enjin in Maleisië geglock het, wat die titel uiteindelik in sy spanmaat Nico Rosberg se skoot sou los.

Was dit nie daarvoor nie het die Hamer nou al sewe spykers in die totempaal van titels ingemoker. En sonder die elementêrste 2007-fout in China was dit agt.

Nou ís dit egter soos dit is. Die geskiedenis is geblik. Ons kan dit ontleed, maar nie verander nie. Al waaroor ons kan wonder, is wat die toekoms inhou. Gaan daar wel ’n sewende titel wees? ’n Agtste? ’n Verdere nege GP-seges om Schumacher se rekord te verbeter? En wat gaan die troontelling wees as Hamilton vir sy laaste wegspring aantree?

Om die lewe te ontdek

In die beginjare het Hamilton se fenomenale talent hom op die kruin van die golf geplaas. Toe’t hy die lewe ontdek.

Verby was die dae waarin pa Anthony drie joppe op sy rug moes abba om vir sy seun ’n ou tweedehandse renstel te lewer. Die dae toe Dad einste renstel in ’n gekrokte gesinswa moes laai en renbaan toe karwei omdat geld vir ’n sleepwa ontbreek het. Die dae toe ryk wit ouers van bedorwe brokkies in hul hande gelag het oor die swart man wat sy seuntjie se renstel in die gesinstjor rondry.

Dit was op een van daai dae dat Ayrton Senna da Silva op Imola sou sterf. Lewis het agter ’n vragmotor gaan wegkruip omdat hy sy trane vir Dad wou wegsteek.

Vandag nog is Senna Hamilton se held en baken. Lewis had ook ’n hegte vriendskap met oorle’ Niki Lauda. Respek is een van sy wagwoorde. Maar toentertyd was die fokus eksklusief op renstelle, spoed en die allesverterende begeerte om eendag F1-motors te jaag. In die jaar van Senna se dood het die negejarige pikkie op ’n Autosport-geleentheid na die McLaren-spanbaas Ron Dennis gestap en aangekondig: “Haai, ek is Lewis Hamilton. Ek het die Britse kadetklas-rensteltitel gewen en eendag wil ek in jou motors jaag.”

In 1998, op ouderdom 13, is Hamilton amptelik op McLaren se boeke geplaas, die jongste jaer nog wat deur ’n F1-span gekontrakteer is. Dit nou omdat die jongeling feitlik skoonskip gemaak het in alles waaraan hy sou deelneem. Ditto in die jare daarna in Formule Renault, F3 en GP2.

Sy pa, Anthony, was uiteraard sy leermeester, steunpilaar, motiveerder en bestuurder.

Maar uiteindelik, met die grootwordslag, het ’n wyer wêreld gewink. Op ouderdom 25 het die twee Hamiltons se paaie professioneel geskei.

Dit het die deur vir Lewis oopgemaak om homself te ontdek.

Hamilton Sondag met die Britse vlag nadat hy sy sesde F1-wêreldtitel beklink het met ’n tweede plek in die Amerikaanse Grand Prix in Austin. Foto: USA Today

Oor aan- en afwesigheid

Het hy gegroei? Weet hy al wie hy is?

Die fondamente is gelê. Lewis jaag motors en tussendeur meisies ook. Popsterre, skoonheidskoninginne en bikini-modelle is gunstelinge, met Nicole Scherzinger en Rihanna as die bekendstes.

Miskien ken hulle hom beter as die F1-media. Die glansmodel Veronica Valle beskryf Hamilton as ’n “vreemde karakter, ’n Jekyll en Hyde. Sy gemoedstemming verander vinnig”.

Dis iets wat in Hamilton se beginjare saam met Scherzinger reeds duidelik was. Soms het hy vir rennaweke opgedaag en “geestelik nooit ingeteken en aangeskakel nie”, soos sy oudspanmaat Nico Rosberg dit stel.

Interessant genoeg is ’n patroon gevestig waarin hierdie soort “afwesigheid” merendeels oor die eerste helfte van ’n seisoen sou plaasvind. Dis asof Lewis besef het dat geleenthede ná F1 se gebruiklike jaarlikse somervakansie vinniger sou opdroog en dat hy derhalwe meer sou moes gee.

Vanjaar was die eerste sedert sy twee groentjiejare dat Hamilton se intensiteit vanaf die eerste uitlaatbrul dwarsdeur die seisoen gehandhaaf is, al asof sy loopbaantrajek nou die gevestigde seisoenale patroon begin volg: hoe later, hoe kwater.

In die middelfase, ná daai skeiding met Dad, was Lewis gewis nie altyd super-betrokke nie.

In 2011 het McLaren my byvoorbeeld uitgenooi vir ’n voorskou van en toetsrit in hul nuwe MP4-12C-padmotor, asook besigtiging van die nuwe tegnologiesentrum te Woking, waar daar genoeg kans was om met F1-ingenieurs te gesels. Hulle was vol lof vir Jenson Button wat gereeld besoek afgelê het om die nuutste motor se vordering te monitor.

Lewis in daai jare? Baie skaars. Hy’t ander dinge in die lewe ontdek. Motors en meisies, ja, maar ook mode en musiek.

Fondamente en emosies

Daar was die gevaar dat sosiale belange Lewis se lewe sou oorrompel. Hy’t gereeld Amerika toe gevlieg. Hy put energie daaruit, was sy verduideliking, as hy wyer as die rensport kon lewe. Vir mense soos die Stevenage-knaap is eendimensionaliteit ’n doodsvonnis.

Maar dis waarín jy jou surplus-energie belê, en hóé, wat saak maak. Op die lange duur put ’n stralejakkery jou tog maar uit.

Dit, aan die een kant. En dinge agter die skerms waarvan ons dalk onbewus is, aan die ander kant. Dinge in Lewis se kop, sy handel, sy lewe.

Voor laas week se Amerikaanse GP het hy gebieg: “It’s been a roller-coaster ride in 2019. Mixed emotions . . .”

’n Op-en-af jaar? Hoe beskryf mens dan 2010, 2011, 2012 en 2016?

Hamilton het die fondamente van hoe hy sy eie lewe wil rigsnoer al uitgekristalliseer. Hy probeer bitter hard om ’n goeie mens te wees. Op die baan is hy, saam met Räikkönnen, F1 se skoonste jaer. Van die baan af poog hy om te inspireer en aan te moedig.

Via Twitter, byvoorbeeld: “Follow your dreams. Never give up. Keep pushing.”

Oor lesse, konflikte en foto’s

Dis ’n les vir homself soveel as vir sy volgelinge.

En daar’s meer: Hamilton beklemtoon voortdurend die waarde van dankbaarheid. Hy’t nie die gaping vergeet tussen waar hy was en waar hy is of dat hy netsowel sy serebraal verlamde halfbroer Nicolas kon gewees het nie.

Hy’t reikwydte ook, Lewis. Sy Twitter- en Instagram-kudde tel 5,25 en 5,8 miljoen. Deesdae bevorder hy boonop omgewingsbewustheid; Hamilton is ’n veganis.

Maar daar’s ook konflikte, of in Räikkönen se woorde: “F1 isn’t the best place to preach climate change.”

Einste konflikte broei in donker gemoedsholtes. Onlangs nog op Instagram: “Honestly, I feel like giving up on every­thing. Why bother when the world is such a mess and people don’t seem to care?”

By tye voel ons almal so. In Hamilton se lewe kan dit fataal wees as dié soort sentiment hom op die verkeerde oomblik oorrompel of in donkerte dompel. Hy’t ’n skeppende kunstenaarsiel wat, ten spyte van megasukses, steeds broos is, alhoewel daar in 2019 meer stewige ewewigtigheid was.

So, daai foto. Watter lig kan dit op Lewis Hamilton skyn? Wat hou die toekoms vir hom in? Wie sou kon sê dat die 14-jarige jong knapie wat ek in 1999 op Silverstone gekiek het, eendag ses F1-wêreldtitels sou wen?

En hoekom hý?

Hoekom het ek hóm, en nét hom, daai dag langs sy renstel gaan uitsoek en afgeneem? Daar was al fluisteringe oor spoed en talent, ja. En die kleine Hamilton was ’n Senna-fên.

Maar wie sou kon sê dat hy eendag dalk ’n tweede Senna sou word, of twee keer meer titels as Senna sou wen?

Mal. En dis hoekom ek daai foto soek.

As dit niks oor die toekoms sê nie, kan dit dalk iets oor die verlede belig.

Meer oor:  Lewis Hamilton  |  Egmont Sippel  |  Austin  |  Amerika  |  Voet In Die Hoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.