Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Vat arrogante bestuurders vas

Knormoer is absoluut verstom oor die arrogansie van die bestuurder wat verlede Vrydag net voortgejaag het terwyl ’n verkeersbeampte bo-op haar enjinkap om lewe en dood vasgeklou het.

Rule Brittania! Of wag, wat is hierdie Brexit-ding? Duitse en Franse vervaardigers is bekommerd oor die impak wat dit op hul balansstaat kan hê.

Net om die geheue te verfris. ’n Vrouebestuurder is Vrydag in Krugersdorp afgetrek en beboet omdat sy op haar selfoon gepraat het terwyl sy bestuur het.

Terwyl die lang arm van die gereg nog besig was om die kaartjie uit te skryf, besluit die bestuurder dié is sommer twak, sy gaan spore maak.

Dit alreeds maak Knormoer vies. As jy bewustelik oortree het, vat jou pak slae op die ken.

Die volgende oomblik spring die beampte toe op die enjinkap, in ’n poging om haar te laat stop. Maar om een of ander duistere rede besluit die motoris iemand se lewe en veiligheid is nie veel werd nie, ons gaan die voet op die pedaal hou.

Knormoer is verafsku deur hierdie gebaar van dubbele arrogansie: vir iemand se veiligheid, en vir ’n verkeersbeampte.

’n Mens doen nie so iets nie. Jy speel nie met ’n ander se lewe nie, en as jy oortree het, maar jy voel verontreg, gaan baklei jy in die howe verder.

  • Mag die owerhede dié motoris hard slaan. In triplikaat, soos net ’n goeie amptenary kan.

Intussen, in Brittanje

Terwyl Haar Majesteit se kleinkinders heerlik op hul Afrika-safari in die lenteson baljaar, is dinge effe koud daar bo in Europa. ’n Groep Europese motorvervaardigers – met die Duitse en Franse verteenwoordigers aan die spits – het pas die naweek ’n skerp verklaring uitgereik oor die gevolge van ’n Brexit-afskeiding sonder ’n ordelike wegstap-ooreenkoms.

Die vervaardigers sê in- en uitvoertariewe kan outomaties inskop sou Brittanje die Europese Unie verlaat sonder ’n gereëlde skikking.

Bedrae van 5,7 miljard word genoem, wat vir Knormoer na die maandelikse begroting van ’n jong koninklike gesinnetjie klink.

Maar behalwe vir in- en uitvoertariewe wat skielik gehef sal moet word – koste wat na die verbruiker afgewentel sal word – is daar ook die “net betyds”-beginsel wat by fabrieke regoor Europa geraak gaan word.

Motorfabrieke hou deesdae nie meer groot voorrade van onderdele aan nie. Soos wat ’n kar op die produksielyn voortrol, kom die enjin, ratkas, wiele, deurpanele en sitplekke als net betyds per trein daar aangesit.

Dit benodig egter oop grense sodat goedere maklik en vinnig van die plek van vervaardiging af na die motorfabriek verskuif kan word. Dus, Mercedes bou ’n Mini se enjin in Duitsland, maar verskeep dit dan na Engeland, waar die Mini gebou word.

Dink die politici in Brittanje ooit hieraan? En het die kiesers destyds hieraan gedink toe hulle hul kruisies getrek het?

Die Britse politici draf tans vinniger deur premiers as wat ons vleisprys styg. Maar einde Oktober moet sake afgehandel wees.

  • Knormoer sien ’n ongeluk in stadige aksie voor hom afspeel.
Meer oor:  Motors  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.