Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Veteraanmotors sit beste wiel voor op skou

Dit het prof. Alex Duffy 15 jaar geneem om ’n 1908-Buick – die enigste motor in sy soort in Suid-Afrika – te restoureer.

Doug Anderson se wiele het gepas by dié van ’n Dodge Charger RT wat ook te sien was op die jaarlikse Cars in the Park-veteraanmotorskou by die Zwartkops-renbaan in Pretoria. Foto: Isabel Venter

Sy dogter, het Duffy op vanjaar se Cars in the Park-veteraanmotorskou vertel, het hom oor die jare heen gehelp met die restourasiewerk. Haar beloning was dat Duffy haar met dié spogmotor aangery het vir haar troue in 2013.

Hoe dan anders? Dit was ook glo genl. Jannie Smuts, die destydse eerste minister van Suid-Afrika, se voorkeurmotor.

Duffy, wat ’n professor van die kunste en teologie is aan die Universiteit van Pretoria (UP), het sy Buick in stukke opgetel op ’n plaas naby Lephalale (Ellisras) – opgeroes. Die eienaar het self nie mooi geweet wat dit is nie, maar Duffy het dadelik besef hy sit met ’n groot vonds.

Hy het begin navraag doen, want die wrak het nie saam met ’n enjin gekom nie, en ontdek toe ’n enjin in Polokwane (Pietersburg).

Groot was sy verbasing toe hy en die verkoper gesels en hulle kon vasstel dat dit die Buick se oorspronklike enjin was. Die enjin het glo met ’n lang ompad in Polokwane beland.

Die Cars in the Park-motorskou word jaarliks by die Zwartkops-renbaan in Pretoria aangebied.

Dit word aangebied deur die Pretoria Oumotorklub en ongeveer 100 motorklubs van oor die land heen het meer as 2 500 voertuie uitgestal.

Daar was iets vir elke smaak; of jy nou daarvan hou om die kilometers te voel verbyvlieg onder jou of net meer wil uitvind oor die geskiedenis van verskillende voertuie.

Oud en nuut was te sien op die jaarlikse veteraanmotorskou in Pretoria. Foto: Isabel Venter

Die Buick het byvoorbeeld die kollig op die skou gedeel met ’n Curved Dash Oldsmobile van 1902; een van die oudste motors in Suid-Afrika. Dit was glo een van die eerste motors wat op groot skaal geproduseer is. Vanaf 1901 tot 1907 is daar nagenoeg 19 000 van dié karretjies vervaardig.

Elkeen het ook saam met ’n rooi vlag gekom wat die eienaars volgens die veiligheidswette van die 1900’s verplig het om ’n handlanger vooruit te laat stap wat die vlag rondswaai.

Die enkelsilinder-kar kon tot soveel as vyf perdekrag uitstoot; en as hy gaan staan het, kon een “perdekrag” ingespan word om die motor in te sleep. Dit was standaard dat die Curved Dash, waarvan die ontwerp ook sterk herinner aan ’n perdekar, met perdestange gebou is.

Die organiseerders van die skou het hul 39ste skou as ’n reusesukses beskryf. Kaartjies was reeds vroeg amper uitverkoop.

’n Gedeelte van die geld word gebruik vir die klub se voortbestaan terwyl ’n deel ook aan plaaslike liefdadigheidsorganisasies geskenk word.

Daar word juis reeds iets groot beplan vir volgende jaar se 40ste skou.

’n Chrysler C8 Airstream (1936) was blinkgepoets vir die skares besoekers op Sondag se veteraanmotorskou, Cars in the Park, by die Zwartkops-renbaan in Pretoria. Foto: Isabel Venter
Prof. Alex Duffy saam met sy 1908-Buick, wat hy self gerestoureer het oor die verloop van 15 jaar. Foto: Isabel Venter
Vittorio Gello, eienaar van een van die oudste motors in Suid-Afrika: ’n Curved Dash Oldsmobile. In die 1900’s was daar verkeersreëls wat motoreienaars verplig het om ’n handlanger te huur om voor hul motor te loop en ’n rooi vlag te swaai. Foto: Isabel Venter

Meer oor:  Pretoria  |  Veteraanmotors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.