Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voertuigverkope val met amper die helfte

Covid-19 en die inperkingsregulasies het die motorbedryf hard geslaan. Egmont Sippel berig.

Die koronavirus maak dood. In die afgelope vier maande het amper 400 000 mense wêreldwyd gesterf. Dis ten spyte van die mees ekstreme maatreëls om Covid-19 te bekamp.

Ekonomieë loop uiteraard ook deur. Tot op datum is vanjaar se verkope van nuwe voertuie in Suid-Afrika amper 40% laer as 2019 se syfer vir die jaar se eerste vyf maande: 93 900 eenhede versus 153 000 (syfers is afgerond).

Hou voorts in gedagte dat Januarie, Februarie en ’n groot deel van Maart 2020 normale handelsmaande was.

Voertuigverkope was wel in hierdie tydperk laer as in laasjaar se ooreenstemmende strek daar sake- en verbruikersvertroue klaar deur rekordhoë werkloosheid plus Eskom se beurtkrag geknak is.

Swartgalligheid en die begin van ’n resessie het al vóór Covid-19 posgevat.

Nogtans was daar ’n verwagting dat die motoruitvoermark se opwaartse momentum ná twee rekordjare voortgesit sou word.

Covid-19 had ander planne. Van 27 Maart is handel in die motorbedryf tot 30 April deur vlak 5-inperkingsregulasies verbied, waarna die verkoop en aflewering van voertuie weer van 1 Mei ingevolge die vlak 4-regulasies toegelaat is.

Die impak is egter reeds deur Maart 2020 se syfers weerspieël: 33 500 voertuigverkope teenoor Maart 2019 se 47 700. Dit was ’n duik van meer as 14 000 eenhede, oftewel 30%.

En dit nadat net drie werkdae (27, 30 en 31 Maart) in die plaaslike motorbedryf vir vervaardiging en verkope verlore gegaan het.

Die vlak 5-regulasies het verseker dat April katastrofies sou wees. Waarskynlik weens spesifieke boekhouskemas het ’n paar vervaardigers wel verkope gerapporteer: Ford met amper 400 (meer as 300 plaaslik plus 79 uitgevoer); Toyota met 92 plaaslike verkope en 670 uitgevoer; Nissan met 148 uitgevoer; en Suzuki, Haval, Mahindra, Volvo en Jaguar Land Rover met ’n handjievol plaaslike verkope tussen die vyf.

Die res – ’n lang lys van Bentley tot by Volkswagen – het niks vervaardig of verkoop nie.

Laas maand se syfers het van die planke begin opstaan toe 12 900 voertuie plaaslik verkoop is.

Dit verteenwoordig ’n slagting van 68% teenoor Mei 2019 se 40 400; 65% minder passasiersmotors (9 000 teenoor Mei 2019 se 26 100); 75% minder ligte handelsvoertuie, bakkies en minibusse (3 100 teenoor 12 200); en 60% minder medium- en swaarvoertuie.

Terselfdertyd het uitvoerverkope met 64% gekrimp (10 800 teenoor 30 200).

Met die registrasiekantoor wat op 1 Junie eers weer oopgemaak het, is daar nog die hoop dat ’n agterstand in registrasies of lenings of bankuitbetalings of voertuig-ontvangste vir hierdie sukkelsyfers verantwoordelik was.

Maar as Junie, Julie en Augustus ewe sleg lyk, is daar duidelik probleme.


Meer oor:  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Pandemie  |  Motorbedryf  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.