Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek: Porsche se jaar. Klaar!
Van die kant lyk James Bond se nuwe Aston Martin DB10 fantasties, maar van voor word die rooster te veel weggesteek.
Valentino Rossi kyk na Marc Márquez voordat hy die Spanjaard tydens laasjaar se Maleisiese MotoGP van sy fiets afgeskop het.
Die Nederlandse renjaer Jos Verstappen se 17-jarige seun, Max, was die sensasie van laasjaar se F1-seisoen. Hier’s ’n wêreldkampioen op pad, seg Egmont Sippel.
Die water spat soos Giniel de Villiers sy pad oopkloof na nog ’n skitterende strekvertoning in vanjaar se Dakar-woesternyren (wat vandag die halfpadmerk bereik).

Oor die afgelope paar weke het Voet in die Hoek die jaar se beste motors gekies, ’n paar Kerskouswense uitgespreek en ’n opsomming van die jaar se belangrikste ­motorgebeur­tenisse gelewer.

Vandag lewer Egmont Sippel en Stuart Johnston verslag oor dinge – reise, ervarings, gebeurtenisse – wat hulle op persoonlike vlak geniet of teleurgestel het.

Egmont noem ses hoogtepunte, waarna hy ’n oorgangspunt bereik voordat hy met drie teleurstellings afsluit.

Stuart noem vyf hoogtepunte.

Egmont aan’t woord:

1.Om Porsches om Le Mans te looi

Daar’s droomscenario’s. ’n Kronkelpas deur die Alpe. ’n Swiepende strek in Mpumalanga. Eau Rouge op Spa-Francorchamps. Die Long Tom-pas.

Of wat van Le Mans?

In ’n Porsche?

Ná al die jare was dít my allermees fantastiese dag agter die stuur, toe ’n paar Suid-Afrikaanse joernaliste laasjaar die kans gegun is om ’n viertal Porsche-missiele om Le Mans se korter Bugatti-baan te looi – einste waar MotoGP se Lorenzo en Márquez en Rossi mekaar pak as hulle in Frankryk jaag.

Die kronkeldeel van hierdie baan was uiteraard die lekkerste wat pure drywers­plesier betref.

Maar om teen Le Mans se hoofpylvak af te saag, tussen daai twee magtige pawiljoene deur, op pad na die eerste blitsveeg wat regs teen die heuwel opswenk, deur die S-kinkel en dan onder die legendariese Dunlopbrug deur . . .

Man, dis epies!

Om dit dus vir vyf of ses rondtes elk in ’n Cayman GT4, die nuwe Boxster Spyder, die 911 Turbo en in die kar van alle karre, die GT3 RS, te doen . . .

Flêt out! Voet in die hoek!

Wat net een vraag laat: Waar was Derek Bell, Jacky Ickx en Tom Kristensen?

Bring ’em on!

En ontspan, dis net ’n grappie. Of dan Hoofstuk 2 van die droomscenario, om teen sulke groot geeste in die hoofpylvak af te saag, almal in Porsches.

Wat anders? Dis ’n vervaardiger dié wat Le Mans laasjaar vir die 14de keer ­gewen het.

2. ’n Midsomersdagdroom

Laasjaar se tweede beste ­motorervaring?

’n Volmaakte Italiaanse somersdag in die heuwels buite Monteca­tini, so halfpad tussen Floraans en Pisa, met vriend Stuart as mededrywer tydens die wêreldbekendstelling van die fantastiese nuwe Boxster Spyder, ’n afslaankap met 3.8F-plat-6-krag.

Sonder ’n turbo. Met ’n handrat. Plus ’n onderstel en bakintegriteit waarmee die seilkappie ’n paar maande later, tydens die Le Mans-ervaring, sy man volmaak teen ’n hardekap-Cayman GT4 gestaan het.

Die voordeel kom as jy die dakkie afslaan om des te beter na die klapperende uitlaatpype se rock-en-roll tussen Toskaanse heuwelwande te luister.

Eenvoudig briljant! Om nie van die wonderlike aandete in die piazza van Montecatini Alto, in die berge net buite die dorp, te praat nie.

3.Om die toekoms te bestuur

’n Derde hoogtepunt was om die geheel elektriese weergawe van die BMW i3 te bestuur.

Dit vat bitter lank – soos die hele nag lank – om hom uit ’n gewone muurprop te herlaai, waarna jy 100 km ver kan vorder, afhangende van bestuurstyl.

Maar hier’s die lekker dele: Die i3 dryf uit sy agterwiele. Hy’s stil en geruisloos. Hy hanteer goed merendeels omdat sy swaartepunt so laag is (al die batterye plaas in die i3 se pens).

En hy bestuur ontsettend maklik, om verskeie redes: versnelling is blitsig; outomatiese vaartvermindering weens die regeneratiewe remstelsel is ewe drasties as jy jou voet van die versneller lig; jy hoef nooit ratte te verander nie (die transmissie het net een spoed); en wanneer jy daai rat haak, beweeg die i3 onmíddellik. Nie twee sekondes later, soos in ’n Benz met ’n outokas nie.

Onmíddellik.

Die grootste wins kom in die omskakeling van tru na vorentoe. Dit gebeur letterlik in ’n oogwink: tru, woeps, vorentoe. En jy’s weg.

Daarby is die instrumentpaneel wonderlik eenvoudig, onderhoud en diens is nie ’n faktor nie en die oop kante van i3 se voor- en agterdeure ontmoet mekaar in die motor se middel; die i3 het geen B-pilaar wat in- en uitklim bemoeilik nie.

Saam met waterstofdryf is elektriese motors die toekoms. Selfs in ’n stil Chinese motormark het aankope van nuwe-energie-voertuie laasjaar 290% gegroei!

4.MotoGP se Goue Ren

Laasjaar se Australiese MotoGP word allerweë as die sport se beste en opwindendste nog beskou, met woeste brakgevegte tussen die topvier tot en met die laaste rondte toe Marc Márquez vir Jorge Lorenzo op dramatiese wyse getroef het – net om ’n paar dae later van Valentino Rossi te hoor dat hy wat Márquez is eintlik vir ­Lorenzo probeer help om die wêreldtitel te wen.

Nou hoekom, as dit só was, sou Márquez nie maar vir Lorenzo in Oz laat wen het nie?

Bisar, Valentino. Bisar.

5.F1 se Goue Trio

F1 is deur ’n bittere moeilike jaar, maar daar was ligpunte.

Soos Lewis Hamilton se vertonings tot en met die dag van sy derde wêreldtitel (waarna Rosberg hom ore aangesit het).

Soos Seb Vettel se drie skitterseges vir Ferrari.

Soos die 17-jarige Max Verstappen se verstommende jaar in ’n Toro Rosso, ­veral wat verbysteek betref.

(En ja, well, no, fine, dit was nie ­heeltemal so indrukwekkend nie, want party hiervan het geskied nadat die jong Nederlander al klaar 18 geword het, ­ha-ha!)

Nou, Giniel het niks met F1 te doen nie. Maar sy tweede plekke in die Dakar is altyd hoogtepunte – wat beteken dat ’n mens soos ’n sjampanjeprop sal rondvlieg, sou hy vanjaar wen.

Le Mans, Dakar en die Indy 500 is ­iedergeval besig om F1 se opperposisie

in die renkodes te kou.

6.Aandete in Dubai

In terme van goue motoroomblikke het 2015, wat Rapport betref, aan Porsche behoort. Jaareinde, en ons het gou vir aandete en ’n glasie wyn saam met die hoofindoena van die Midde-Oosterse sakestreek (wat ook Afrika insluit) na Dubai oorgevlieg.

Deesch Papke is daai hoofindoena, ’n Suid-Afrikaner in murg en bloed – en dis iets om op trots te wees.

Klaar geëet en dit was terug lughawe toe vir die 04:00-vlug na Suid-Afrika.

Lekker mal.

7. Iets tussenin

Die belaglikheid van ’n Aston Martin Vanquish wat in 2002 se Die Another Day as ’n Aston Martin Vanish aan Geheime Agent 007 toevertrou word omdat die kar homself “onsigbaar” kon maak, was selfs ’n vrotter kol as die res van die moewie se skop-, skiet- en klapper-orgie.

In daai jare het Aston egter aan Ford behoort en bywoning van die fliek se openingsaand was op uitnodiging van die moedermaatskappy. Bly sit het ek dus bly sit.

Dis meer as wat ’n mens van Bond se vyande kon sê nadat hulle in Goldfinger en Thunderball slagoffers van die DB5 se uitskietstoel geword het.

Sedert toeka al pas James en die mooiste van Engelse sportmotors dus soos vodka en martini bymekaar. Geskud en geskommel, natuurlik; nie geroer nie.

Nou’t die nuutste Aston sy verskyning in die nuutste Bond-fliek gemaak. Spectre se DB10 is ’n spesiale uitgif waarvan net tien eenhede gebou is (agt vir die fliek, twee as skoumotors), maar die hoofontwerper Marek Reichman bevestig dat dit toekomstige stileringselemente ontsluier.

En dís waar die mango in die martini val.

Want kyk net na roosterposisionering, van kop tot tone ónder ’n rif wat soos die boeg van ’n boot reg om die motor se neus span.

Dis die laaste ding wat ’n mens met die mooiste roostervorm in die ganse motordom wil doen, om hom daar onder iewers weg te steek.

Die res van die DB10 hou egter baie ­belofte in, sodat die skoumotor uiteindelik aandoen soos ’n Bond-martini wat geroer pleks van geskud is: ámper reg.

Maar nie heeltemal nie.

8.Volkswagen se uitlaat­skandaal

Die motorjaar se grootste teleurstelling was die VW-uitlaatskandaal. Voet in die Hoek het die sage al van alle kante belig, maar hier’s ’n laaste gedagte: Die vertrouensbreuk van ’n maatskappy wat die troon van integriteit op alle vlakke van die motordom bestyg het, is so groot dat dit selfs Duitsland se beeld skade aandoen – en soveel te erger, gesien teen die agtergrond van ’n geskiedenis wat kwalik beweegruimte vir morele oordeelsfoute laat.

Die Amerikaanse departement van justisie het juis in die afgelope week ’n siviele saak in Detroit, Michigan, teen VW begin. Boetes kan meer as $18 miljard beloop.

NB: In terme van wetsoortreding word ons plaaslike mark nie deur die skandaal geraak nie.

9.Lugsakke wat ontplof

Die plaaslike motormark is wel deur ’n lugsakprobleem getref toe derduisende Japannese motors (uit ’n totaal van amper vier miljoen wêreldwyd) herroep moes word vir Takata-sakke wat in die eerste dekade van die nuwe millennium gemonteer is.

Die rede vir die sakontploffings – wat al ses lewens en meer as 100 beseerdes geëis het – setel skynbaar in die verpakking van kragtige maar goedkoop ammoniumnitraat-plofstof wat onstabiel kan raak as dit vog kry.

Tyd dan om die Jazz onder my afdak ook te laat deurkyk.

10. Italiaanse skopkoning

In ’n week van pure para­noïese malligheid het Valen­tino Rossi, in aanloop tot die Maleisiese MotoGP, vir Marc Márquez daarvan beskuldig dat Márquez (op ’n Honda) in die vorige ren (in Australië) buitensporig hard teen Rossi (op ’n Yamaha) baklei het net om Jorge Lorenzo (ook op ’n Yamaha) na die wêreldtitel te help. Die aantyging het Márquez en Lorenzo duidelik geskok.

Die kersie op die koek was toe Márquez en Rossi in die Maleisiese ren in ’n titaniese stryd betrokke sou raak, totdat ’n gefrustreerde Rossi vir Márquez van sy fiets afgeskop het.

Die straf? Om laaste weg te spring in die seisoen se titelbeslissende eindren in Spanje.

Die resultaat? Rossi eindig vierde, ­Lorenzo word kampioen en respek vir die Italiaanse skopkoning tuimel soos ­VW-aandeelpryse.

Stuart se vyf

1. Dakar 2015

Die Dakar is die laaste groot motorverwante avontuur op aarde, en Giniel se tweede plek in 2015, asook Leeroy Poulter se blitsige strektye, verdien heldestatus.

2. Mercedes-Benz G-klas in die Alpe

Het saam met die 67-jarige Josef Schantl teen die hange van die Oostenrykse Alpe afgejaag. Schantl het die roete al in 1969 as Steyr se toetsdrywer bemeester en hy’t riwwe, rotse, dongas en spronge getakel asof hy iets wou afskryf – dalk die motor, dalk die berg. En nie ’n skwiek uit die G-klas toe ons onder uitkom nie.

3. Twee keer deur 300 km/h

Ek het in 2015 twee keer deur 300 km/h gebreek: eers in die Lamborghini Huracán en toe in die Mercedes-AMG GT S. En die Merc het kalmer gevoel; op die grense is dit ’n uiters vergewensgesinde super-sportmotor. Nog iets: Die verskil tussen 270 en 300 km/h is enorm. Teen daai spoed moet jy inligting so vinnig prosesseer dat elke ekstra km/h tel.

4. Le Mans 2015

’n Klassieke konfrontasie tussen Porsche en Audi het die beste uit albei spanne gehaal, en die emosie op die twee spanbestuurders se gesigte het vir puik televisie gesorg.

As die Dakar die planeet se laaste groot motoravontuur is, is Le Mans die laaste groot motorwedren. Daar’s meer wedywering in ’n ­enkele naweek as tydens die hele F1-seisoen.

5. Porsche Boxster Spyder

’n Hoogtepunt was om ’n motor met my groot vriend Egmont Sippel tydens die Spyder se wêreldbekendstelling in Toskane te deel.

Tussen besprekings oor die lewe, vroue en rock ’n roll deur het ons ons aan die Porsche-pakket se absolute integriteit verlustig; die manier waarop elke aspek van die motor op ’n intense maar aangename manier met insittendes kommunikeer.

Die dakkie was af, die son op en die paaie het net aangehou om deur ’n sprokieswêreld te kronkel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.