Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Volgende Santa Fe kry
Die nuwe Santa Fe kry Hyundai se jongste ontwerptaal wat ons einde verlede jaar in die nuwe Kona leer ken het. Kyk net daardie dun hoofligte en breë aluminiumstrook.

Hyundai het pas die eerste foto’s van sy volgende Santa Fe laat uitlek.

Slegs beelde van die vooraansig en binneruim is te sien, maar dit is reeds genoeg om te besef die Koreaanse groep wil sy groot sportnuts graag ’n vlak hoër in die mark opbeweeg.

Die nuwe Santa Fe ry op ’n nuwe, langer onderstel wat ook ’n langer asafstand beteken. Dit beteken natuurlik groter binneruimte en beter beenruimte vir die passasiers.

Die voertuig kry vir die eerste keer ’n elektronies beheerde 4x4-stelsel waar die blikbrein self bepaal waarheen die krag gestuur moet word wanneer wieltol bemerk word.

Drie enjins sal oorsee beskikbaar wees: ’n 2.0-liter-turbodiesel, ’n 2.2-liter-turbodiesel en ’n 2.0-liter-turbopetrol. Almal sal met ’n agtgang- outomatiese ratkas toegerus wees.

Wat die voorkoms betref, kry die nuwe Santa Fe baie van sy lyne by sy nuwe kleinboet, die Kona. Die hoofligte is plat eenhede wat soos skreefoë vorentoe kyk, terwyl misligte net onder dit geplaas is.

Die sierrooster het nou ’n ­nuwe ontwerp en strek tot diep af in die neus. ’n Breë chroomstrook aan die bokant van die rooster aksentueer die neus, en strek ook weerskante tot onder die dun hoofligte om die voertuig se breedte te aksentueer.

Korea wil sy Santa Fe in ’n deftiger marksegment plaas. Afwerking lyk deftig danksy swiepende lyne wat vanaf die deure by die voorpaneel aansluit, en ’n groot raakskerm in die middel.

Binnelangs is die model op die foto met leerbekleedsel uitgerus.

Tweekleurafwerking gee die kajuit ’n moderne gevoel terwyl ’n netjiese raakskerm bo in die voorpaneel pryk.

Topmodelle sal gelaai wees met die jongste tegnologiese geriefs- en waarskufunksies. Dit sluit in ’n selfstopfunksie in stadsverkeer (as die radarstelsel ’n voertuig of voetganger voor jou bemerk). Daar is ook ’n gonser wat waarsku as jy van baan wil verwissel en daar is iemand in jou blindekol.

Verwant hieraan is ’n fisieke terugdu-funksie wat jou stuurwiel effe sal draai as jy uit jou baan uit sou sweef, om jou terug na die regte baan te dwing.

Verdere hulpmiddels sluit in ’n waarskuwing wanneer jy tru uit ’n parkeerplek ry en ’n voertuig is van die kant af op pad, asook ’n gonser wat afgaan wanneer die blikbrein vermoed jy begin indut agter die stuur.

Die satnavstelsel kan ook nou met stemopdragte beheer word, en jy kan die blikbrein ook vra om jou teksboodskappe op die skerm te vertoon of om ’n nommer te bel.

’n Verdere nuttigheid is die spesiale lêplek vir jou slimfoon wat jou foon tegelykertyd koordloos sal herlaai.

Die nuwe Santa Fe sal sy buiging op die Geneefse Motorskou vroeg in Maart in Switserland maak, waarna hy straks voor die einde van die jaar na Suid-Afrika sal kom.

Meer oor:  Motors  |  Hyundai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.