Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Volvo se (duur) XC40 is alles wat jy begeer
Ons hou sommer baie van Volvo se elegante XC40. In sy dieselge­waad kry jy ’n ware juweel – mits jy hom kan bekostig. Foto: Marnus Hattingh

Dis jammer Volvo kan nie sy mooi, dieselgedrewe XC40 met ’n beter prys op ons mark aanbied nie. Teen net onder R800 000 is dié kompakte sportnuts – ideaal vir jong gesinne wat van die buitelewe hou – doodgewoon buite die bereik van sy teikenmark.

Wat het ons hier?

Die XC40 is al so twee jaar met ons. Dis Volvo se kleinste sportnuts en pas so in die grootte van die BMW X1 en Audi Q3. Ek noem dit ’n kompakte nuts, maar hy sal steeds drie tieners agter kan inpas vir ’n rit na die strandhuis. Mits jy dan ’n sleepwa haak vir jou bagasie.

Volvo bied ’n paar enjinkeuses aan en nadat ons die T5-tweeliter-turbo verlede jaar onder hande gehad het, was dit tyd vir die dieselgedrewe tweeliter, die D4. Volvo het boonop vir ons die deftige afwerkingsvlak aangebied, die R-Design, wat die XC40 sommer spiekeries laat vertoon met sierwiele en blink metaalafwerkings binne.

Laai maar in

Ek het dit al geruime tyd gesê, maar hier’s hy weer. Doen jouself ’n guns en klim agter die stuur van ’n moderne Volvo in. Die kajuit is goed deurdink en die afwerkings eersteklas. Als voel en lyk hoëgehalte. Die sagte leeroppervlakke, die dubbele stikwerk, die mooi raakpaneel wat vertikaal geposisioneer is. Selfs die skakelaar vir jou ritmodus en die handrem is ’n stukkie kuns.

Dis soos om in ’n rykmansvriend se deftige sitkamer in te stap en sy Pierneefs en geelhoutmeubels te bewonder.

Ek kon myself lekker hoog agter die stuur regmaak en jou sig reg rondom is eksieperfeksie. By die aanskakel hoor jy skaars ’n dieselgedreun en daarna kan jy die nutsfunksies óf vanaf die raakpaneel bewerk óf met die skakelaars op die stuurwiel.

Laat loop, Seuna

Aangesien die turbopetrol meer kilowatt lewer vir sy identiese verplasing, voel hy lewendiger as die diesel. En versnel hy tereg ook haastiger. Maar die fris D4-diesel se 140 kW en 400 Nm wringkrag is glad nie te versmaai nie. Tik-tik net die rathefboom om hom twee ratte laer te sit, roer die pedaal met die voet en daar gaat jy. Diesel of te nie.

Die kajuit is altyd heerlik stil en knus, en ’n gesprek is maklik om te voer teen hoë snelhede. My verbruik kon nooit die syfers van Volvo self bereik nie (5,0 liter), maar teen so 5,6 liter was hy steeds meer suinig as wat ek verwag het.

Standaarditems is ’n selfstopfunksie wat met radar in die neus werk (dit is soms sensitief vir iets soos ’n dier of voetganger op die sypaadjie, as jy skuins aangery kom soos om ’n draai).

Daar is ’n trukamera, sleutellose toegang en ’n mandjie waar jy jou slimfoon koordloos kan herlaai. Dit als het ek nuttig gevind.

Die wakkerbly-gonser sou seker ook gaaf wees, maar die terugdu-funksie is ’n onnodigheid en kan inderdaad gevaarlik wees wanneer jy bestuur.

Afsaal

Van al die deftige kompakte nutse tans daar buite (X1, X3, Q3, GLB en GLC) is die Volvo my gunsteling. Wat voorkoms, afwerkings binnelangs en gemaklike rit als tesame betref.

Teen amper R800 000 is hy helaas te duur, maar wel mededingend (wat prys betref) met sy teenstanders. Dis ’n goeie manier om jouself te bederf.

Prys: Volvo XC40 D4 R-Design – R779 000.

Meer oor:  Volvo  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.