Dis jammer Volvo kan nie sy mooi, dieselgedrewe XC40 met ’n beter prys in ons mark bied nie.
Teen net onder R800 000 is dié kompakte sportnuts – ideaal vir jong gesinne wat van die buitelewe hou – doodgewoon buite die bereik van sy teikenmark.
Wat het ons hier?
Die XC40 is al so twee jaar met ons. Dis Volvo se kleinste sportnuts en ding mee met die BMW X1 en Audi Q3. Ek noem dit ’n kompakte nuts, maar hy sal steeds drie tieners agter kan inpas vir ’n rit na die strandhuis.
Mits jy dan ’n sleepwa haak vir jou bagasie.
Volvo bied ’n paar enjinkeuses en nadat ons die T5-tweeliter-turbo verlede jaar onder hande gehad het, was dit tyd vir die dieselgedrewe tweeliter, die D4.
Volvo het boonop vir ons die deftige afwerkingsvlak gebied, die R-Design, wat die XC40 sommer spiekeries laat vertoon met sierwiele en blink metaalafwerkings binne.

Ons hou sommer baie van Volvo se elegante XC40. In sy dieselgewaad kry jy ’n ware juweel – mits jy hom kan bekostig. Foto: Marnus Hattingh
Laai maar in
Ek sê dit al geruime tyd, maar hier’s dit weer: Doen jouself ’n guns en klim agter die stuur van ’n moderne Volvo in.
Die kajuit is goed deurdink en die afwerkings eersteklas. Als voel en lyk hoëgehalte.
Die sagte leeroppervlakke, die dubbele stikwerk, die mooi raakpaneel wat vertikaal geposisioneer is. Selfs die skakelaar vir jou ritmodus en die handrem is ’n stukkie kuns.
Dis soos om in ’n rykmansvriend se deftige sitkamer in te stap, en sy Pierneefs en geelhoutmeubels te bewonder.
Ek kon myself lekker hoog agter die stuur regmaak, en jou sig reg om die voertuig is eksieperfeksie. Met die aanskakel hoor jy skaars ’n dieselgedreun, en daarna kan jy die nutsfunksies van die raakpaneel bewerk, of met die skakelaars op die stuurwiel.
Laat loop, Seuna
Aangesien die turbopetrol meer kilowatt lewer vir sy identiese verplasing voel hy lewendiger as die diesel. En hy versnel tereg ook haastiger.
Maar die fris D4-diesel se 140 kW en 400 Nm wringkrag is glad nie te versmaai nie. Tik-tik net die rathefboom om hom twee ratte laer te sit en roer die pedaal met die voet, en daar gaat jy. Diesel of te nie.
Die kajuit is altyd heerlik stil en knus, en ’n gesprek is maklik om te voer teen hoë snelhede.
My verbruik kon nooit die syfers verskaf deur Volvo ewenaar nie (5,0 liter), maar teen so 5,6 liter was hy steeds suiniger as wat ek verwag het.
Standaarditems was ’n selfstop-funksie wat met radar in die neus werk (dit is soms sensitief vir iets soos ’n dier of voetganger op die sypaadjie, as jy skuins aangery kom soos om ’n draai). Daar is ook ’n tru-kamera, sleutellose toegang en ’n mandjie waar jy jou slimfoon koordloos kan herlaai. Dit als het ek nuttig gevind.
Die wakker-bly-gonser sou seker ook gaaf wees, maar die terugdu-funksie is ’n onnodigheid en kan inderdaad gevaarlik wees as jy bestuur.
Afsaal
Van al die deftige, kompakte nutse tans daarbuite (X1, X3, Q3, GLB en GLC) is die Volvo my gunsteling.
Dis nou wat voorkoms, afwerkings binnelangs en gemaklike rit als tesame betref.
Teen amper R800 000 is hy helaas te duur, maar wel mededingend (wat prys betref) met sy teenstanders. Dis ’n goeie manier om jouself te bederf.
Prys: Volvo XC40 D4 R-Design – R779 000.