Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Volvo tref middel van die kolf met klein XC40

Klein sportnutse is vandag waar die tombola-tafel in die 1970’s en die Chinese roerbraai in die 1980’s was. Geliefd, en oral teenwoordig.

Wit is straks nie die XC40 T5 se beste kleur nie. Maar ons hou van sy aweregse lyne, en die tweekleur-bakwerk. In T5-gewaad is hy ook heel lewendig. Foto: Marnus Hattingh

As selfs Volvo ’n warm sportnuts op die mark plaas, weet jy die gier het homself diep ingegrawe. Neem byvoorbeeld die Swede se nuwe XC40 T5, in sy opsionele R-Design-voor­koms­pakket soos wat ons verlede week gery het. Iewers voel dinge vaagweg bekend, soos in ’n nuwe Bond-fliek, maar terselfdertyd het net genoeg verander om jou geïnteresseerd te hou.

Die XC40 is die Swede se kleinste sportnuts, en skaars twee jaar oud ook. Die groep het laat tot die gier van kompakte nutse toegetree, maar met sy vierkantige lyf, tweekleur-afwerking en windmaker skuins C-pilaar lyk hy tog alte stylvol voor die operahuis Saterdagaand.

Die T5-model ontvang Volvo se warmste tweeliterturbo, wat 185 kW en 350 Nm wringkrag na al vier die wiele uitstoot. Dis genoeg om hom ’n versnellopie van net 6.4 sekondes te gee, wat ’n Golf GTI van onlangs jou nog gebied het.

As jy nog nie ’n XC40 van nader beskou het nie, doen jouself die guns. Die lyf is maar Golf-grootte, dus lekker kompak. Maar jy sit hoog bo die verkeer, en binne is als skoon en modern afgewerk.

Kyk byvoorbeeld na sy groot inligtingskerm, wat vertikaal pleks van horisontaal in die voorpaneel gedraai is. Die beeld is tipies Skandinawies met fyn, dun lyne afgewerk vir die teks terwyl ’n gryswit-agtergrond hersenskimme van ’n sneeulandskap opdiep.

Die stelsel werk heel goed: Jy vee horisontaal met die vingers tussen drie hoofblaaie, waarna jy binne elk vertikaal tussen tuimelkassies kan wissel.

Hier en daar sou ’n mens ’n skakelaar egter wel verkies het vir ’n direkter, vinniger toegang tot ’n funksie wat gereeld gesoek word. Soos om tussen die radio en musiekstokkie te wissel, of om uit die vier ritmodusse te kies.

Soos om tussen die radio en musiekstokkie te wissel, of om uit die vier ritmodusse te kies.

Nog iets wat ’n frons bied, is die rathefboom wat nie altyd ’n funksie registreer nie (as jy van R na D verwissel, byvoorbeeld). Ek het later elke verwisseling twee keer uitgevoer om seker te maak ek is in die regte ratseleksie, wat omslagtig is.

In die dorp ry die klein XC40 heerlik. Die vering is wel fermer gemaak vir die T5-weergawe, dus voel jy spoedwalle skerper as wat ’n gewone model sou doen. Maar versnelling geskied in ’n oogwink, wat verbysteek ’n droom maak. Of om tussen stadige verkeer deur te vleg.

Hy is ook ’n praktiese sportnuts. Ek het lang planke in ’n kits agter ingelaai deur die agterste rugleunings met net die trek van een knip by elkeen gou plat te slaan.

Met die opsionele R-Design-pakket lyk die XC40 heel spoggerig, beslis meer so as die BMW X2 en Audi Q2-mededingers. Die prys (hoewel hoog) is ook mededingend, veral vir die verrigting wat jy kry. Die sinvolle kopie sou egter een van die matiger modelle wees, sou die verrigting nie so belangrik wees nie.

Volvo XC40 T5 – R693 000.

Meer oor:  Volvo  |  Xc40  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.