Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Volvo waag groot met sy aanlyn planne

Die Sweedse vervaardiger Volvo het ’n yslike stok in die ratkas gesteek met sy aankondiging hy gaan van 2030 slegs batterygedrewe voertuie verkoop.

Maar wat regtig ’n rilling by handelaars se rug laat afloop het, was ’n verdere opmerking deur die groep se grootbaas, Hakan Samuelsson, dat alle verkope van daardie jaar slegs aanlyn sal geskied.

Die eerste voorstel is redelik dramaties, maar in die huidige klimaat nie te onverwags nie.

Volvo se eerste doelgeboude e-voertuig, die C40, is pas wêreldbekend gemaak. Die Sweedse vervaardiger wil oor nege jaar slegs elektriese voertuie verkoop – en als aanlyn.

Vervaardigers word in Noord-Amerika en Europa al hoe meer deur plaaslike wetgewers in ’n hoek gedruk om van petrol- en dieselvoertuie oor te skakel na elektriese voertuie om klimaatverandering teen te werk.

Dit was Volvo se tweede aankondiging wat die wenkbroue laat lig het.

Dit kan talle verkoopspersoneellede se poste in die gevaar stel wanneer Volvo-handelaars in die toekoms slegs versien­sentrums gaan word.

Hoewel omgewingsbewustes in die Noordelike Halfrond opgewonde is oor Volvo se toekomsplanne, plaas dit die groep se Suid-Afrikaanse bedrywighede in ’n netelige posisie.

Die land se herlaaistasie-netwerk is nog nie naastenby so uitgebreid as in Europa nie en die uitbreiding daarvan gebeur maar stadig. Trouens, Volvo se eerste doelgeboude e-voertuig, die nuwe C40 wat hy pas bekend gestel het, wil die plaaslike verspreider nie eens hierheen bring nie.

Maar oor nege jaar gaan al sy beskikbare modelle van Europa slegs e-motors wees. Dan gaan die Suid-Afrikaanse filiaal nie ’n keuse hê nie.

Daar is ook nie meer baie beweegruimte nie.

Volvo wil oor vier jaar (2025) reeds die helfte van sy hele modelportefeulje as e-voertuie hê, en teen 2030 moet dit ál sy voertuie wees (ook geen hibriedmodelle nie).

Klik-klik, klaar gekoop

Die tweede aspek van die aankondiging, oor slegs aanlyn verkope vorentoe, is net so omstrede.

Volvo sê dit is die manier waarop mense al hoe meer hul aankope doen. Om daarby in te val wil hy dus aan kopers ’n uitgebreide webwerf bied waarop ’n rits afgewerkte modelle te koop aangebied sal word. Dus, jy koop die voertuig presies soos hy daar toegerus is en jy kan hom onmiddellik by ’n handelaar gaan optel.

Kopers sal wel ook die opsie hê om self hul bepaalde voorkeur in ’n model in te bou, maar dan sal hulle moet wag dat daardie model eers gebou word.

Volvo wil die hele aanlyn transaksie baie meer vereenvoudig. Jy moet jou klaar afgewerkte voertuig daar kies, asook al die ekstra koste soos registrasie, die versienskedule van jou keuse, versekering, waarborg en padbystanddiens, wat dan ingesluit sal word vir een vinnige, omvattende transaksie.

Die webwerf sal jou ook aanmoedig om ’n tuis-herlaaistelsel te koop wat jou voertuig vinniger kan herlaai.

Wat gaan kopers sê?

Aankope geskied inderdaad al hoe meer aanlyn, en soos met vliegkaartjies en kospakkie-aflewerdienste gesien kan word, is die geheim van dié organisasies om allerhande ekstras aan jou te verkoop soos jy deur die betaalproses gaan. So word die finale koopbedrag ’n hele paar persent hoër gemaak, op ’n subtiele wyse.

Die klaar gemaakte e-Volvo’s beweeg wel net stroom-op in wat tans die paradigma in die motorbedryf is, naamlik om verpersoonliking voorop te stel.

Jy verpersoonlik jou gunstelingwebwerwe, maar ook jou voertuig wat jy koop. Veral met al die afwerkingsopsies wat vervaardigers aan kopers bied.

’n Mens wonder ook wat gaan word van kopers se verwagting om ’n voertuig eers te toets, daarin te sit en dit aan te raak, alvorens ’n koopbesluit geneem word. ’n Aanlyn aankoop is ’n baie meer kliniese, verwyderde koopbesluit vir ’n terrein (die motor) wat nog altyd as ’n emosionele koopbesluit gesien is (teenoor ’n bruinbrood of ’n liter melk).

  • Volvo het pas twee e-voertuie bekend gestel – die XC40 Recharge en die doelgeboude (op die groep se nuwe, toegewyde platform vir e-voertuie) C40 Recharge. Die C40 is ’n kompakte sportnuts met ’n moderne voorkoms om jonger kopers te lok.

Volvo sê die voertuig sal ’n reikafstand van 420 km hê, en in 40 minute van pap tot 80% by ’n kragtige herlaaipunt gelaai kan word.

Meer oor:  Volvo  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.