Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
VW se baas laat mense regop sit

Volkswagen se grootbaas, Herbert Diess, het verlede week tydens ’n beleggerskonferensie in Berlyn beleggers – maar ook sy eie personeel – ongemaklik laat rondskuif met sy uitsprake.

Herbert Diess, grootbaas van Volkswagen, by die groep se nuwe ID 3, hul nuwe Golf-grootte e-motor wat Diess hoop dieselfde impak as die Kewer en Golf sal hê (daarom die naam “3”, die derde koersbepalende ryding).

Die hoof van die VW-groep, wat handelsname soos Bugatti, Bentley, Lamborghini en Ducati insluit, het gesê die groep sal sy fokus moet verander as hy nog relevant in die motorbedryf wil bly.

Dit is egter vir hom moeilik, het hy gesê, want baie mense in die groep skop nog vas teen verandering. Diess het verwys na die Amerikaanse e-motorvervaardiger Tesla wat inderdaad op die Nasdaq as ’n tegnologiegroep genoteer is, en nie ’n motorgroep soos Volkswagen (en ander tradisionele vervaardigers) nie.

Hy het gesê die Duitse motorreus sal dieselfde skuif moet maak aangesien tegnologie en sagteware eerder die toekoms gaan wees en ’n motorvervaardiger se voorsprong gaan bepaal as wat ’n goeie binnebrandenjin dit gaan doen.

Maar dit was veral Diess se reguit vermanings wat mense laat regop sit het. In sy toespraak het hy frases soos “ons sal ’n radikale koersverandering moet maak” en “ons sal ’n paar heilige koeie moet slag” gebruik. Hy het ook verwys na die groep se traagheid tans om daardie skuif te maak, en dat “die tyd vir die tradisionele motorvervaardiger verby is”.

Diess is moedeloos

’n Mens kan verstaan waar Diess se moedeloosheid vandaan kom. Hy staan aan die stuur van 12 handelsname en een van die topdrie grootste motorvervaardigers in die wêreld, maar die groep se huidige 11 miljoen verkope per jaar gaan nie noodwendig volgehou kan word as die wêreld oorbeweeg na e-voertuie nie.

Diess wil nou ál meer druk op sy direksie plaas om van die handelsname afstand te doen. “Ons moet eerder op ons kernsake fokus, en dit is om geld te maak.”

Bentley, het hy as ’n voorbeeld gebruik, het in 2019 altesaam 10 000 voertuie verkoop wat vir ’n weelde-handelsnaam heel billik is. Maar die handelsnaam het steeds ’n verlies gely.

“Ek sou liewer net 5 000 voertuie wou verkoop en ’n wins van 20% maak,” het hy opgemerk.

By 'n kruispad

Volkswagen is net soos al die ander tradisionele vervaardigers by ’n moeilike kruispad met die een keuse duidelik, maar die ander meer mistig. Druk vanuit owerheidskant af maak dat die vervaardigers miljarde in nuwe tegnologie moet belê om e-voertuie te bou. Maar daardie voertuie verkoop nie goed genoeg nie – nie naastenby om hul beleggings te verhaal of te regverdig nie.

Dit is waarom direksies nog vasskop teen ’n volle oorgang vanaf binnebrandenjins na e-voertuie. Tradisionele motors verkoop nog fluks. Waarom ’n sakemodel wegsmyt as dit goed werk en die alternatief newelrig ten beste is?

Tans sit vervaardigers soos VW eerder dus op die kantlyn en wag en kyk dat die tegnologie noodwendig verbeter en ’n duidelike oplossing en nuwe koers bied.

Die kwessie oor batterye

Batterye vir e-motors het nog nie naastenby goed genoeg ontwikkel (prys en effektiwiteit) om as haalbare alternatief vir die verbruiker te dien nie. Vervaardigers hoop dus dat óf die batterytegnologie verbeter vinnig, óf dat alternatiewe tegnologie na vore tree.

Dit sluit veral in die sogenaamde brandstofsel. Die voertuig word steeds deur ’n elektriese motor as enjin aangedryf, maar pleks van ’n battery kry hy sy elektrisiteit van ’n brandstofsel (wat met waterstof werk). Jy herlaai dus bloot jou waterstoftenk soos jy tans met petrol of diesel doen, wat veel vinniger as ’n herlaaisessie by ’n kragsok is (oornag). Boonop, met een tenk waterstof kan jy 50% verder ry as met ’n vol battery.

Intussen moet industriële reuse soos Volkswagen hulself op ’n mespunt balanseer tussen wag-en-kyk en pens en pootjies inplons in die onbekende.

Meer oor:  Volkswagen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.