Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Waai koebaai aan gesinsmotor

Daar het jy die Suid-Afrikaanse Gini-koëffisiënt sommer net daar op die handelaarsvloer in ’n neutedop. Navorsers hoef nie verder as hul naaste motorhandelaar te soek om te sien hoe wyd uitmekaar die Suid-Afrikaanse samelewing vandag is nie.

Welkom terug by ’n herleefde Motors, ná ’n afskryf-jaar van pandemiese proporsies. Die motorbedryf was nog altyd ’n sosiale spieëlbeeld van die land in die kleine, en die Covid-19-pandemie het dit net weer onderstreep.

Hoes die politikus agter sy megafoon, hyg ek en jy by die bank as die rand se waarde verder val.

Maar die motorbedryf staan nie net aan die ontvangkant van die pap wisselkoers nie. Dit bied ook ’n barometer vir die stand van ons nywerheidsektor.

Nog ’n nefie uit Indië – Suzuki se klein S-Presso, wat inderdaad heel skaflik ry, ondanks sy vreemde stilering. Meer hiervan is ons voorland.

Daar is ’n vreemde liefde-haat-verhouding vanaf owerheidskant teenoor ons groot vervaardigingsektor. Sosialisme is die voorliefde, maar die motorvervaardigers bied duisende werkgeleenthede aan laaggeskooldes. Plus dit voer netsoveel voertuie uit as wat dit plaaslik verkoop. Dit is derhalwe ’n beduidende en broodnodige verdiener van skaars buitelandse valuta vir die regering.

Hy kan die motorvervaardigingsektor dus nie wegwens nie. Selfs al is dit een van die opsigtelikste versinnebeeldings van kapitalisme.

Daarom sit ons onder meer met die teenstrydigheid dat die owerhede uit die een mond mooi woorde sal spreek oor die groen-ekonomie en -mikpunte, maar uit ’n ander mond genoeg taks op e-voertuie sal hef dat dit onrealisties is om dit in te voer.

Maar daar is nog ’n vlak waar die motorbedryf ’n lakmoestoets vir die Suid-Afrikaanse samelewing is. Ons sosiale toestand.

Ideologie lei tot ekonomiese beleid, wat op sy beurt ’n impak het op die maatskaplike gehalte van ’n samelewing. Kan ’n samelewing ekonomies floreer, en kan hy suksesvol handel dryf? Dit is die vrae wat beleidmakers hulself moet afvra, maar die antwoorde is meestal maklik op die markvloer te sien.

Wanneer beleid veroorsaak dat jou geldwaarde arbitrêr deur die buiteland as al hoe swakker beoordeel word, maak dit die dryf van handel moeiliker. Goedere word meestal ingevoer, en hiervoor moet jy stelselmatig al hoe duurder betaal. Belangrik egter om te onthou, is dat oorsese pryse nie styg nie. Danksy hul sterk ekonomieë en lae inflasie, kan hulle hul pryse jaar ná jaar konstant hou.

In Suid-Afrika daarenteen styg die prys van enigiets van jou mandjie kruideniersware af tot by jou nuwe motor dramaties.

Die toonaangewendste plek waar dit gesien kan word, vandag, is op ’n handelaar se vloer.

Danksy die rand wat binne ’n handjievol jare vanaf R10 per euro na R20 per euro verswak het, het gesinsvoertuie uit Eerstewêreldlande onbekostigbaar duur geword. Verbruikers kan die randwaarde van ’n moderne Golf, Mégane, 3-reeks of C-klas net nie meer bekostig nie.

’n Vervaardiger se grootbaas noem verlede maand aan my, met ’n ligte skouerophaal, “R800 000 is die nuwe R600 000”.

Dus, wat in Januarie nog R600 000 sou gekos het, sal vandag R800 000 wees.

Ons het nie meer die bekostigbare Camry op ons toonvloere nie. Vervaardigers bring óf ’n goedkoop, Indies vervaardigde koekblik-op-wiele hierheen – wat gesinne ten minste kan bekostig. Óf hulle bring ’n handjievol kroonmodelle van die Golf en Mégane hierheen, wat peperduur is. Maar geen gewone, gemiddelde, tussenin-modelle soos van ouds nie. Dié het onbekostigbaar geword vir die middelklas.

Op die toonvloer sal jy die sakpas, askies-ek-lewe-tjorrie uit Indië sien. En in die hoek die Europese model met sy selfoonnommer lange pryskaartjie.

Dit is die ekonomiese beleid se skuld, wat begin by ’n ideologie gewortel in ’n Koue Oorlogse beskouing van die wêreld.

Dit hoef nie so aan te karring nie. In die T&T-era (Thabo Mbeki en Trevor Manuel) is ’n markgerigte ekonomie nagestreef, met die rand wat teen R9 per euro verwissel het. Dis pariteit.

Intussen, raak maar trots op jou Indiese galoppie. Jy’s nie meer alleen nie. Daar’s ’n string op pad – ’n spieëlbeeld van ons flaters.

Meer oor:  Marnus Hattingh  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.