Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Wakker Polo GTI kry ekstra gim-klasse

Die naam GTI dra in Suid-Afrika al dieselfde emosie as potjiekos en braaibroodjies, daarom is ’n nuweling op die horison altyd goeie nuus.
Met die nuwe Toyota GR Yaris nou op die mark, gaan die Polo GTI sy sto­rie moet ken om kopers lojaal te hou.

Nuut is wel in dié geval ’n relatiewe begrip. Volkswagen se opgeknapte Polo GTI is pas in Europa onthul, met die plaaslike buiging wat vroeg volgende jaar sal geskied. Dit is dus nie ’n nuwe­ Polo nie, maar slegs die opgeknapte weergawe van die bestaande model.

VW sal wel voortgaan om die Polo – en sy GTI-vlagskip – in Kariega (Uitenhage) te bou, van waar dit na die res van die wêreld uitgevoer word.

Die opgeknapte Polo GTI kry ’n handvol voorkomsverbete­ringe buitelangs, nuwe tegnologie binne die kajuit en ’n warmer enjin.

Laat ons sommer met die enjin begin. Dieselfde 2.0-liter-turbo wat tans in die GTI diens doen, word vir die opgeknapte weergawe behou. Maar danksy ’n paar truuks aan die blikbrein draai hy nou hoër in elke rat, wat sy kilowatt-lesing van 147 kW na 152 kW opstoot. Wringkrag bly wel dieselfde op 320 Nm, wat beteken VW het niks aan die turbodruk gedoen nie.

Visueel sal jy die vars Polo GTI kan uitken aan sy nuwe­ rooster, LED-hoofligte en ekstra GTI-kentekens buite. Die swart rooster kry nou aan sy onderkant ’n dun LED-staaf wat permanent skyn en dadelik uitstaan. Die hoofligte self beskik oor die groep se Matrix-tegnologie, waar LED-lampies indivi­dueel verdof wanneer ’n voertuig van voor af naderkom en jy dus nie die bestuurder sal verblind nie. Dis nou standaard op die Polo GTI ingesluit.

Ons hou ook van die dun, rooi streep by die buffers wat saam met die rooi GTI-kentekens die klein Polo dadelik as die spesiale GTI-model laat opval.

Ons hou van die rooi afwerkings tesame met die blokkiespatroon-bekleedsel in die kajuit. Let op die nuwe raakskerm en elektroniesbeheerde outomatiese ratkas.

In die kajuit maak twee digitale skerms hul debuut op die instrumentpaneel. Die sentrale skerm huisves jou tru-kamera en nutsfunksies, terwyl die skerm voor die bestuurder dieselfde werk doen as die eenheid in verskeie Audi’s, waar jy die beeld kan wissel deur ’n groot padkaart te wys, klein toere- en spoedmeters of ’n groot toere- en spoedmeter.

Hulpstelsels vir die bestuurder sluit in ’n terugdu-funksie vir as jy uit jou baan uit sou dwaal, ’n selfrem-funksie as die motor vermoed jy gaan in ’n voertuig vasry en aanpasbare spoedbeheer.

Die kragtiger enjin verander niks aan die Polo GTI se verrigting nie, sê Volkswagen. Die warm Polo kan steeds in 6,5 sek. versnel en ’n topsnelheid van 240 km/h behaal. Die sewegang-outomatiese ratkas (dubbelkoppelaar-soort) is behou en die krag gaan na die voorwiele.

’n Elektroniese sluitewenaar op die vooras werk wringstuur teen en kies jy die opsionele Sport Select-pakket, kry jy aanpasbare dempers wat saam met die ritmodus-verstellings werk. In Sport sal die vering dus fermer word.

Die opgeknapte Polo GTI maak sy plaaslike buiging vroeg volgende jaar, met pryse en spesifikasies wat dan bekend gemaak sal word.

Meer oor:  Polo  |  Motors  |  Gti  |  Volkswagen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.