Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Werkesels nou pronkperde

Gedink dinge soos raakskerms, selfstuur-funksionaliteit en media-konnektiwiteit is net vir luukse gesinsvoertuie? Wel, dink weer.

Mercedes het op die onlangse IAA-skou vir kommersiële voertuie in Hanover, Duitsland, van sy nuutste vragmotors, busse en afleweringsvoertuie ten toon gestel.

Die ster van die Mercedes-uitstalling was beslis sy nuwe vlagskip-vragmotor, die Actros. Suid-Afrika het die “vorige” Actros, wat reeds in 2011 oorsee bekend gestel is, maar eers vroeër vanjaar gekry, deels oor verskeie meganiese aanpassings wat eers gedoen moes word.

Meganies is die veranderinge nie groot nie, maar wat veiligheid en elektronika betref, bied die nuwe Actros vier wêreldeerstes. Die Actros is die eerste produksievragmotor in die wêreld wat van kameras gebruik maak in plaas van kantspieëls. Die kameras se beeld word binne die kajuit weerskante op twee skerms by die A-pilare vertoon. Dit werk baie soos gewone kantspieëls, maar bied ’n groter gesigsveld, asook die bykomende voordeel van brandstofbesparing, aangesien die afwesigheid van die kantspieëls veel minder windweerstand bied.

Die nuwe Actros. Nou sonder “bakore”, oftewel die kenmerkende groot kantspieëls wat deur kameras vervang is.Foto: Willem Fritz

Mercedes het ook die digitale roete in die binneruim gevolg met twee skerms wat die meeste van die instrumente vervang, een reg voor die bestuurder en ’n aparte raakskerm wat al die nutsfunksies bevat, asook verskeie apps.

Die Actros se veiligheidstelsels is ook opgeskerp met onder meer ’n sensitiewer remhulp-stelsel wat nou ’n noodstop kan uitvoer as ’n voetganger of voertuig skielik voor jou sou beland.

Mercedes het die Actros se selfstuurfunksies nou ook verder uitgebrei met Active Drive Assist.

Benewens dat die voertuig self kan rem en versnel soos wat jy by die verkeer bybly, behartig die blikbrein nou teen enige spoed ook baie van die stuurfunksies en kan boonop self bane verwissel.

Daimler, die moedermaatskappy wat onder meer Mercedes-Benz en Fuso insluit, wil elektriese aandrywing in feitlik al sy handelsvoertuie en busse bied. Dus is die eActros se teenwoordigheid op die skou geen verrassing nie.

Mercedes se vreemde Urbanetic bied verskillende bakwerkopsies wat verwyder en omgeruil kan word.

Die eActros is ten volle elektries en sy 11 litium-ioon-batterye gee hom ’n reikafstand van ongeveer 200 km. ’n Paar eActros-vragmotors is al op ’n toetsgrondslag by kliënte en Mercedes wil teen 2021 met volle produksie begin.

Wat sy afleweringsvoertuie betref, het Mercedes sy eVito en eSprinter vertoon.

Die eVito is reeds in Europa te koop en het ’n reikafstand van 150 km en ’n topspoed van 120 km/h wat hom ideaal maak as afleweringsvoertuig in die stad.

Fuso seelektriese vragmotor, die E-Fuso Vision One-konsepmodel. Hy kan ’n vrag van 11 ton vervoer en het ’n reikafstand van 350 km.

Sy groter boet, die eSprinter, word volgende jaar in Europa bekend gestel.

Mercedes se elektriese eCitaro-stadsbus het ook sy debuut op die IAA-skou gemaak. Die eCitaro het ’n reikafstand van 150 km, maar kan onder ideale omstandighede selfs 250 km haal. Met dié reikafstand, sê Mercedes, kan die eCitaro reeds ’n groot aantal dieselbusse vervang.

Mercedes het met sy effe eienaardige Vision Urbanetic-konsepmodel ’n blik gegee op hoe die afleweringsvoertuig en bussie van die toekoms kan lyk.

Die Urbanetic is ’n ten volle elektriese selfryvoertuig met verskillende bakwerkopsies wat verwyder en omgeruil kan word vir verskillende gebruike op verskillende dae.

Hy kan dus die een dag passasiers vervoer en die volgende dag gebruik word om pakkies af te lewer, afhangende van die behoefte.

Die fokus was egter nie net op elektriese aandrywing nie. Die Actros NGT en Citaro NGT loop albei op natuurlike gas, terwyl die Sprinter F-Cell-konsepmodel ’n inprop-hibried is wat van ’n brandstofsel en batterykrag gebruik maak en ’n heel skaflike reikafstand van 300 km of selfs 530 km kan bereik.

Meer oor:  Mercedes Benz  |  Duitsland  |  Vragmotors  |  Motors  |  Busse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.