Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Wilde Ranger spel gevaar

Bakkies was nog altyd groot nuus in Suid-Afrika. Maar noudat die rand so moedeloos is en die pryse van sportnutse na die R800 000-kerf gespring het, het bakkies ’n tweede asem gekry – as leefstylvoertuie.

Ou hardebaard! Ford se opgeknapte Ranger lyk maar net so bekend, maar onder die vel skuil daar nou ’n Jacques Kallis van ’n tweeliter-biturbodiesel wat kan jaag en klouter en alles. Foto: Verskaf

Veral jou dubbelkajuite is die gewildste in dié segment, en al sê die vervaardigers wat, almal stoei kliphard om ’n lêplek vir sy fris klong te vind.

Daarom is die fokus ál meer daarop om die bakkies minder van ’n raserige, stamperige ryding te maak en dat hy eerder die ry-ervaring van ’n gesinsmotor moet kan bied.

Hoe doen hulle dit?

Kyk maar net na Ford se opgeknapte Ranger, wat hy pas verlede week in die land bekend gestel het. Ford het sy gewilde bakkie ’n groot opknapping gegee met aanpassings by die vering, ’n nuwe enjin, ’n nuwe ratkas en ’n rits nuwe stelsels in die kajuit. Als daarop gemik om die bakkie ’n sagter en gemakliker rit te laat bied.

Lig op die ’kap

Die veranderings buite langs is maar effe-effe. Daar is nou ’n streep LED-lampies by die hoofligte, en die sierrooster het ’n nuwe voorkoms gekry. Plus ’n nuwe skuurplaat onder die neus, wat grotendeels maar vir die voorkoms is.

Die warmste nuus is egter onder die neus te vind. Ford het sy nuwe tweeliter-turbodieselenjin na die Ranger-reeks gebring, wat beloof om sy mededingers regop te laat sit.

Die 2.0-liter is as ’n enkelturbo en ’n biturbo (in topmodelle) te kry. Natuurlik was Volkswagen al jare gelede die eerste in die bakkiemark om ’n klein biturbo in ’n bakkie te sit. Maar danksy fyner ingenieurswerk lewer Ford se moderner enjin inderdaad meer krag tesame met ’n ligter verbruiksyfer as die Volksie-eenheid.

Ford het egter nie net hier gestop nie. Daar is ook ’n nuwe tiengang- outomatiese ratkas aan die biturbo gekoppel – die ratkas met die meeste ratte op ons mark, dit nogal in ’n bakkie.

En laastens het Ford die Ranger se agtervering opgeknap met die herverpakking van ’n paar elemente sodat die rit nou sagter en gemakliker is, veral op klein stampe soos ’n sinkplaatpad.

’n Groot raakskerm oorheers die instrumentpaneel. Die tiengang outo’kas voel toe nie so besig soos ’n kwaito-danser op ’n warm plaat nie. Foto: Verskaf

Kuier-kuier binne

’n Sagter rit en ’n fênsie enjin beteken egter niks as jou bakkie steeds soos ’n afleweringstrokkie klink en lyk as jy wegtrek nie.

Die Ranger kry daarom nou die groep se jongste raakskerm-paneel waar al jou nutsfunksies (satnav, slimfoon-koppeling, radio, lugversorging) gehuisves word.

Die Wildtrak-topmodel kry interessant genoeg ook voortaan minder oranje panele op die sitplekke, deure en instrumente. Sleutellose toegang met ’n aansitknop is ’n ander toevoeging.

Straks die duidelikste voorbeeld van die leefstyl-karakter waarna die vervaardigers soek, is in die klein luidsprekertjie te vind wat Ford teen die bakkie se dak vasgeskroef het. Dit is ’n aktiewe stelsel waar die blikbrein voortdurend die geraas (hoorbaar en nie-hoorbaar) in die kajuit monitor en ontleed. Sekere klankgolwe word dan aktief uitgeskakel deurdat die luidspreker klankgolwe (geluidloos) uitstuur wat dit uitkanselleer.

Die gevolg is ’n stil kajuit. Gesinsmotor stil.

Maar hy haak ’n rat en byt vas tot die toere goed geklim het alvorens hy sal oorskakel.

Gooi mielies!

Ons het die Ranger oor ’n wilde 4x4-roete geneem waar die wielartikulasie tot die maksimum beproef is – wiele het soms in die lug gehang. Sowel die enkel- as die biturbo het die klouterwerk lag-lag afgehandel.

Veral met die biturbo is die krag onmiddellik te kry en is turbotraagheid afwesig (die eerste turbo is kleiner en werk teen lae toere, waarna ’n groter turbo teen hoë toere oorneem).

Die topmodelle soos die Wildtrak het almal ’n laestrekratkas, 4x4-vastrap en ’n sluitewenaar agter. ’n Mens sou dink die nuwe tiengang-ratkas sou rondspring en soek na die geskikte rat, veral met so ’n stadige kloutery. Maar hy haak ’n rat en byt vas tot die toere goed geklim het alvorens hy sal oorskakel.

Op die oop pad het die seepgladde skakeling verras, asook die stil kajuit teen snelweg-snelhede.

Afsaal

Ford het ’n streep in die sand getrek met sy opgeknapte Ranger. Die bakkie het meer en moderner tegnologie as sy mededingers, en hy is ’n bielie in die bos. As jy bloot weens verknogtheid aan ’n handelsmerk jou neus vir hom bly optrek, is die eier op jou gesig.

Meer oor:  Motors  |  Ranger  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.