Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Wintie Kona reg vir die jonges

Dit was so amper of Hyundai het nooit sy mooi, moderne Kona na die land ingevoer nie. Die klein sportnuts word uit Europa hierheen gebring, en met ’n pap rand wat sy koopkrag verrinneweer het, het Hyundai Suid-Afrika al hoe meer na die groep se produkte wat in Asië gebou word, begin kyk.

Ons kry immers reeds die Creta wat uit Indië hierheen kom. Die ware knoop was dat die Kona in Europa as ’n rondritser vir jong gesinne en ongetroudes bemark word, met ’n prys wat dié segment kan bekostig.

Jy hoef nie ’n barista met ’n poniestert en titanium-fiets te wees om met ’n Hyundai Kona te ry nie. Maar die knapie sal baie goed by jou leefstyl pas. Foto: Marnus Hattingh

Om die Kona vir dieselfde segment in Suid-Afrika aan te bied, teen pryse wat daardie selfde groep hier sou kan bekostig, was die uitdaging. Want ons swak rand het sy gelande koste te duur gemaak.

Iewers is daar egter mooi broodjies gebak en hard onderhandel om ’n tafel, want uiteindelik het die Kona toe wel hier opgedaag, en dit boonop in ’n nie te swak afwerkingsvlak nie.

Twee modelle is hier te kry – ’n basiese 1.0 Executive-handrat vir so R380 000, en ’n deftiger 2.0 Executive-outomaties vir R400 000.

Wat pryse dus betref, kon Hyundai dit toe regkry dat die Kona mooitjies tussen die goedkoper Creta (R350 000 tot R415 000) en die spoggerige Tucson (R414 000 tot R580 000) in die portefeulje inpas.

Let egter mooi op, die Tucson en Kona is op Westerse markte gerig, en hul afwerkings en meganika weerspieël dit. Die Creta is ’n bietjie meer Spartaans, maar hy kos ook minder. Belangrikste, die Creta is ’n groot sportnuts – groter as die jappie-speelding van ’n Kona.

Wikkel die kuif

Moet egter niks van die Kona af wegneem nie. Soos genoem, hy is gefokus op die voorstede se jong, dinamiese mense wat ’n lekker aktiewe leefstyl het: kantoor toe in die week, maar ’n bergfiets-wegbreek oor die naweek.

Ons hou van sy windmaker voorkoms wat nommerpas hierby inpas. G’n skamerige outjie nie, die Kona, hy lyk kordaat met daardie dik, swart plastiek buffers en dakrak en kom boonop in ’n paar lekker op en wakker bakwerkkleure. Ons toetsmodel (2.0 Executive-outomaties) was juis in ’n vrolike lemmetjiegroen afgewerk.

Kyk ook na die dun rooster en die nog dunner streep LED-ligte. Die gewone hoofligte is veel laer ondertoe geplaas, sodat jy met die naderkom eerste die plat LED-ligte soos skreefoë na jou sien aankyk.

Ons hou van die prettige afwerkings wat ekstra kleur aan die binneruim bied. Die tweeliter loop streelglad in die dorp en verbruik is lig.

Goed toegerus

Net so is die binneruim vrolik afgewerk. Al die luginlate het ’n groen randjie om, en daar is groen aksente op die sitplekke, die gordels is groen en by die deure is groen strepe.

Ons het gesê die knaap is goed uitgerus met standaardtoerusting. Jy kry ’n satnav-stelsel standaard, nes ’n lugversorger, kontroles op die stuurwiel (hoogte en vir reik verstelbaar), ’n banddrukmonitor, drie ritmodusse, ’n (sagte) gonser vir jou blindekol en ’n trukamera.

Die kantspieëls vou ook plat as jy die motor toesluit, daar is spoedbeheer en die vermaakstelsel met sy raakskerm kan koordloos met jou slimfoon koppel en dié se toepassings op die skermpie vertoon om benut te word.

Ek kon myself gemaklik tuismaak agter die stuur en daar is klein ruimtes agter die rathefboom waar jy sleutels en afstandbeheerders kan bêre. Daar is ook USB- en 12V-sokke.

Sitplek agter is gemaklik vir ritte skool en sportveld toe, en die laairuim sal vier sagte reissakke met gemak sluk. Die vloer het ook ’n paneel wat jy kan oplig om ’n geheime bêreplek te ontbloot.

Gee gas

Aanvanklik was ’n mens huiwerig oor die normaal geaspireerde tweeliterpetrol (110 kW, 180 Nm), maar die enjintjie draf seepglad en versnel sonder moeite in stadsverkeer. Op die Hoëveld se dun lug sal die kleiner, maar ewe kragtige eenliter-turbo (drie silinders, 88 kW en 172 Nm) straks die slimste keuse wees, maar by kusvlak het die tweeliter geen probleme gehad nie.

My verbruik was ook heelwat beter as wat Hyundai formeel aangee – ek het in gemengde gebruik maklik 6,5 liter gehandhaaf, met Hyundai wat ’n konserwatiewer 7,2 liter voorspel.

Veral in die stad het die gladde werking van enjin en ratkas opgeval. Net onlangs nog het ons die Renault Duster gery wie se outomatiese ratkas heelwat meer rukkerig was in eerste rat.

Afsaal

’n Mens is bly Hyundai kon toe wel sy Kona hierheen bring. Die motortjie lyk lekker windmaker en pas by die jongklomp en hul buitelewe-leefstyl. Prakties gesproke sou ek bloot vir die beter prys en ekstra ruimte eerder die Creta aanbeveel, maar dan kry jy nie die moderne voorkoms en afwerkings nie.

Wil jy graag raakgesien wees tussen die wit luikrûe in die parkeergebied, haak dan ’n Kona nader.

  • Prys: Hyundai Kona 2.0 Executive – R399 900.
Meer oor:  Hyundai  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.