Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Yster uit Stuttgart
Twee van die wêreld se beste en suksesvolste motormaatskappye setel in Stuttgart. Een uit elke kamp – die monsteragtige Mercedes-AMG GT R en die brutale Porsche 911 GT2 RS, beidealbei met agterwieldryf – het Egmont Sippel se rughare orent laat staan. 

Mercedes-AMG GT R .
Egmont Sippel looi die Porsche 911 GT2 RS op Portimão.

Daar’s baie dinge wat Mercedes-Benz oor die jare heen reg gedoen het. Daar’s ook baie wat verkeerd gedoen is en steeds verkeerd gedoen word, as jy fyn ontleed.

Op die Mercedes-AMG GT-reeks is ergonomie byvoorbeeld teleurstellend, veral die tonnelkonsole se te-ver-na-agter-geplaaste beheerknoppe en ratkierietjie, laasgenoemde amper onder die drywer se elmboog.

Positiewe hersteltekens begin egter ook soos paddastoele opslaan. Die monsteragtige R-weergawe van die GT-koepee is byvoorbeeld – nes die nuwe E-klas, asook iets soos die lieflike AMG GLC43 Coupé – een van ’n paar relatief onlangse modelle waarmee die driepuntster uiters tevrede kan wees.

Die GT R ryg hoogtepunte inderdaad in soos ’n boeretannie sosaties maak.

By uitstek is dit die gorilla-enjin asook die motor se bombastiese projeksie wat tref. ’n Mens verwág grofgeskutkrag en -spoed van iets wat die GT R se Panamericana-rooster dra. Dis nuut op die GT-reeks, hierdie vreesaanjaende gesig wat jou aan ’n oervis met 15 tandlemme herinner, een gulsiger as die ander.

Die 4.0-liter-V8 span hoeka twee turbo’s in die vallei tussen die twee banke kokers in om ’n magtige 430 kW en 700 Nm via die agteras pad toe te vlam.

En nie met ’n aanjaer se tradisionele fluisterstemmetjie nie, maar met ’n Wagneriaanse brul, knetter en knal.

Die hele motor, die totale ervaring, is uiters Teutonies, uiters Affalterbach.

Laasgenoemde is die tuiste van AMG, wat vanjaar ’n halfeeu oud is. Dinge kom mooi bymekaar.

Soos in die GT R.

Rit en roer

Die middelvoorgeplaaste-V8 mag nou wel ’n motorlyf van 1 630 kg saamsleep, maar die R is ernstig oor spoed op ’n Jonah Lomu-manier. Jy kan sien hoe teenstanders van hom sal wegskil as hy vorentoe bars.

Om óm hulle te hardloop, soos ’n Breyton Paulse, of ’n Porsche, is nie die GT R se ding nie. Hy hardloop déúr versperrings.

En tog, nieteenstaande hierdie brute aanslag, word die twee verblydendste aspekte nie in spiersyfers op papier gereflekteer nie, maar deur iets veel subtieler wat jy net kan ervaar deur die R self te bestuur.

Ons praat van ritgehalte en daai roer, laasgenoemde spesifiek omdat AMG dapper genoeg was om hidrouliese kragondersteuning in sy volle GT-reeks in te span.

En dis nou verrassend, of selfs ironies, dat Mercedes, al is dit net momenteel, ’n leier op die gebied van stuurstelsels geword het – die R s’n met goeie, suiwer, ongekorrupteerde reaksies en terugvoering – en dit nogals deur die gebruik van ’n uitgediende tegniese oplossing.

In toeka se tye was Benz-roere altyd maar vaag, selfs nadat Stuttgart van hersirkuleerbal na kleinrat-en-tandstang oorgeskakel het.

Nie meer nie. Die GT R se stuurgewig is goed, die indraai vlymskerp.

Omgekeerd is die draaisirkel traag.

Dit help egter dat die R via al vier wiele stuur. Tot by 100 km/h swaai die agterstes tot ’n maksimum van 1.5 grade in die teenoorgestelde rigting as die voorstes, maar bó 100 km/h mik al vier wiele in dieselfde rigting as jy van koers verander, vir beter hoëspoed-stabiliteit.

Verrigting en dinamika

Die resultate is ’n vinnige neus as jy een soek, en ’n motor wat teen enige en alle snelhede so stabiel en veilig soos ’n goudstaaf in Fort Knox voel. Dinamika word ook aangehelp deurdat Affalterbach die
R tot 1 630 kg verskraal het. Dis steeds heelwat meer as die Porsche 911 GT3 waarteen die GT R meeding, maar darem al 70 kg ligter as die GT S waarop die R geskoei is.

Voeg hierby die helse momentum
wat opgebou word as jy teen die soort grense ry waartoe ’n R in staat is – ’n ligte 318 km/h op ’n reguit plat pad – en dis duidelik dat die stuur, remme en bande hul portuur in dinamiese oomblikke moet staaf.

Die 100 km/h-merkie flits, terloops, in 3.6 sekondes verby en omgekeerd stop die GT R in minder as 38 meter van 100 km/h af, as al vier Michelin Pilot Sport Cup 2-bande optimale vastrap vind, iets wat 275/35- en 325/30-geskoeide 19- en 20”-voor- en -agterwiele soos klokslag doen.

Op die agteras – en breed

Nog ’n konstante is ’n 1,94 m-wye bak. Dis amper so breed as wat Eben Etzebeth lank is. Teen 1,937 m, het mens destyds gevoel, was die Porsche Panamera – wat ’n halfmeter langer as die GT R is – al óp die grense van hoe ver ’n kar van kant tot kant kan strek.

Daarby sit jy in die Merc agter ’n ellelange enjinkap met ’n stuur wat verder suid as Tierra del Fuego gedruk word, juis omdat die V8 agter die lyn van die voorwiele maar voor die tweesitplek-kajuit monteer.

Die resultaat is dat jy feitlik op die agteras sit. En láág. Jy voel soos ’n muis wat aan ’n renoster se stert vasklou. Voor jou is die enjinkap met sy twee fluite en hoë kantriwwe, agter jou dik rolhokstawe en rondom jou die sportskottels se hoë flank- en dy-stutte (wat dit, terloops, moeilik maak om in en uit te klim).

Die R is ’n wa wat eintlik vir die renbaan ontwikkel is.

Maar ek kies hom steeds bo die effe meer padvriendelike GT S, vir vyf goeie redes: ekstra krag en veral klank; ’n wonderlike skerp stuur; steeds uitstekende ritgehalte; ’n verstelbare drukvlerk; en daai diep-geel knop op die voorpaneel waarmee jy traksiebeheer in ses stappe kan uitskakel.

Só enorm is hierdie kar se greep egter, dat jy steeds sukkel om die stert skuins te swaai.

Maar doet so, en jy weet hoe dit vir ’n muis voel om ’n renoster te tem.

Porsche 911 GT2 RS

Ground Control to Major Tom / Take your protein pills and put your helmet on . . .

Dit nou David Bowie op sy snit “Space Oddity”, wat minder as ’n week voor die lansering van Apollo 11 uitgereik is. Teen die tyd dat Neil Armstrong en Buzz Aldrin dus op 20 Julie 1969 voet aan’t maan gesit het, was Major Tom reeds “one hundred thousand miles” die ruimte in . . .

Maar hier’s die vraag: Het jy jouself al probeer voorstel hoe dit moet wees om in daai vuurpyl te sit, as stukrag van 7,5 miljoen pond – oftewel die ekwivalent van 30 moderne Boeing 747’s – hom uit sy kettings lig?

Stel jouself drie 747’s voor wat langs mekaar opstyg. En vermenigvuldig die krag met tien.

Hoe sou dit voel, reguit die ruimte in?

Wel. Vat jou proteïenpille en klim in ’n Porsche 911 GT2 RS en vind uit. En ja, onthou jou valhelm, veral as jy op die punt staan om Herr Röhrl soos ’n skaduwee te probeer volg.

Agtergrondwenke

Agtergrondwenk nommer een: Met die moontlike uitsondering van Sébastien Loeb is Walter Röhrl, volgens baie kenners, die beste tydrenjaer nog. Met die lang skraal Duitser se baanvermoëns skort ewe min.

Agtergrondwenk nommer twee: Ons is op die Portimão-renbaan in Suid-Portugal en Röhrl gee die pas aan. Hy’s in die voorste GT2 RS, die kragtigste padmotor wat Porsche nog gebou het, terwyl die uwe die GT2 RS beman wat vir Röhrl moet jaag, of net probeer volg, of naastenby moet bybly.

Agtergrondwenk nommer drie: Dit alles op ’n baan en in die soort kar wat Herr Röhrl soos die palm van sy hand ken, en die uwe nog nooit voorheen gesien het nie. Nog die baan. Nog die wa.

Agtergrondwenk nommer vier: Laat die proteïenpille asseblief tog net genoeg yster afskei om die adrenalien in toom te hou. Tos wil mens die RS nie van die baan af tos nie. Want hei, Porsche se nuutste supermotormonster kos R4 miljoen plus ’n Hilux 2.4 GD-6 4x4 se geld.

Verrigting

Die Lamborghini Aventador 6.5-liter-V12 (Rapport was toevallig die enigste publikasie wat hom in 2012 op Suid-Afrikaanse paaie getoets het) het 510 kW en 690 Nm na al vier wiele gesuier.

Die GT2 RS draai 515 kW en 750 Nm los en stuur alles na die agteras.

Dít in ’n 911 wat só deur die supermodernste tegnologie onderskei word dat hy net 1,45 ton weeg.

Probeer nou om so ’n bulletjie te tem op ’n baan van sovele opdraandes, afdraandes, vinnige draaie, stadiges, rondings, heuwels, blinde draaie, versteekte rempunte en negatiewe dwarshellings.

Saam met ’n valhelm trek jy dus ’n diepe besef oor jou kop dat dit ’n orrel vol registers gaan kos om saam met Herr Röhrl musiek te maak, behalwe as die goeie, gemoedelike, lang Duitser – nou al 71 jaar oud – dalk ’n sigaret aansteek en ’n koppie koffie drink terwyl hy wieletjie op Portimão draai.

Anders as Walter Raleigh egter, wat Engeland volgens oorlewering aan tabak en twak bekend gestel het, rook Walter Röhrl glad nie. Liewe hemel, hy rook nie eens sy bande nie. Wieltol, soos enige ordentlike renjaer weet, is ’n blote mors van goeie rubber.

En dis een van die groot truuks daaraan om die GT2 RS vinnig te bestuur, om wieltol suksesvol in toom te hou en die agterwiele te laat byt as jy uit draaie uit gas gee, sonder om die stert soos die heupe van ’n buikdanseres heen-en-weer te laat wulps.

Nieteenstaande die breedste stewels wat Porsche nog op ’n standaard-911 vasgebout het – Michelin Pilot Sport Cup 2s, presies identies (selfs in maat) as die Merc-AMG GT R s’n – breek die GT2 RS dit agterlangs weg soos ’n nat koekie seep wat te styf vasgeklem word. Jy dínk nog jy vat . . .

Portimão-pylvakspoed

Ontspan dus bietjie op die versneller. Voer die krag geleidelik in. En laat looi eers met die gas as alles onder beheer is.

Soos deur Portimão se laaste draai, ’n lang nimmereindigende afdraande veeg na regs, met die baan wat na buite wegval. Die invalspunt begin duskant ’n boggel wat die apeks versteek, sodat jy die veeg as’t ware blind nader. Die boggel sorg boonop dat die wiele lig raak, halfpad deur jou indraai en dis verontrustend.

Herr Röhrl slag bietjie spoed, verdwyn oor die boggel en snuif vir ’n wyle aan die baan se binnesoom. Dan val die hamer en die RS waaier wyd uit die apeks tot teen die baan se buitesoom, vol op die gas.

Op die laaste ronde van agt sien ons 291 km/h aan die einde van die hoofpylvak. Agterna vra ek een van die ander Porsche-toetsbestuurders waffer soort Full Monty-snelhede hulle haal, Herr Röhrl ingesluit, voor mens hárd op die ankers moet klim, teen ’n steil afdraande af, om die eerste draai na regs teen omtrent 100 km/h te beredder.

“So 290 km/h,” seg hy, “of dalk 294 km/h as jy alles reg doen en teen ’n waarlik ordentlike spoed uit die laaste veeg slinger.”

Hoofindrukke

Die hoofindrukke?

Wel, dit was ’n Walter Mitty-agtige droomervaring om in Walter Röhrl se wielspore om Portimão te jaag, en dit in ’n Porsche 911 GT2 RS. Dat die kar nie soos 30 Boeing 747’s in die lug opgestyg het nie, is waarskynlik aan daai enórme drukvlerk op sy stert te danke.

Hier’s egter die les wat bybly: Dis bhglêgghie moeilik om hierdie kar – flêt-stieks – op die teer te hou. Sy 3.8-liter-twinturbo-platses is so vol proteïenpille gestop, en die 7-g-dubbelkoppelaar-PDK-kas is so weerligvinnig, dat die GT2 RS jou standaard-0-100 km/h-lopie in 2.8 sekondes verpletter.

Die Aventador doen dit in 2.9 sekondes, en dit met die hulp van alwieltraksie!

Die Porsche se topspoed van 340 km/h is boonop bandbeperk; met Tarzan-tekkies kan hy 370 km/h haal.

En hoekom was dit, uit draaie uit, dat Herr Röhrl se kop so agteroor sou ruk? Proteïenpille wat hy in sy keel afgooi? Of wragtag ’n sluk oggendkoffie, so elke dan en wan?

Nie in hierdie kar nie, meneer. Nie in die GT2 RS nie, nee.

Want dis nou een stel wiele hierdie wat selfs Walter Röhrl se aandag boei.

  • Pryse: Mercedes-AMG GT R Coupé – R2,813 miljoen; Porsche 911 GT2 RS – R4,411 miljoen
  • Egmont lewer binnekort ’n tegniese verslag oor die Porsche. Dis veral die plasing van die RS se enorme turbo’s wat interessant leesstof bied.
Meer oor:  Mercedes-Benz  |  Porsche  |  Stuttgart
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.