Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Zimmer laat BMW nuwe deuntjie sing

Sommige ouens wonder hoe ver hul elektriese voertuie kan ry. Ander, waar hy hom vanaand gaan herlaai. En dan is daar die ou wat drie treë terug by die verkeerslig stilhou – want netnou giggel die GTI-bende vir sy batterymotor se sagte gesuis neffens hul diep gegrom.
“Nee, ’sant, toe ons weer sien, toe sit hy daar.” Verkeersbeamptes in Slowa­kye het dié ongewone vangs op ’n snelweg raakgeloop.

Om hierdie eksistensiële angs aan die keel te gryp, het BMW nou die dienste van Hans Zimmer nadergeroep. Zimmer, as jy jou flieks ken, is een van Hollywood se grootste komponiste van klankbane.

Zimmer het ’n hele reeks klankprofiele vir BMW se toekomstige e-voertuie saamgestel en jy sal dit binnekort sommer ook kan aflaai en in jou ou i3 kan installeer.

Sê Zimmer, daar’s ’n mooi geluidjie vir Comfort, ’n humeurige klank vir Sport en in EcoPro sal als doodstil wees. Want jy ry mos nou op sy suinigste verstelling.

Knormoer is bly sommige mense het sulke soort probleme in hul lewe. Want hier sit hy en wonder of hy met sy geld gaan uitkom dié maand. En dis mos nou laf.

Hei, psssst, sê die Pirelli’s

Slap anderkant die Alpe in Italië sit die bandegroep Pirelli en grinnik deesdae oor sy jongste slim bande. Gewapen met ’n rammetjie-uitnek naam soos Cyber­ Tyre klits dié rubberwiel meer teerpadpasta warm as Fatti­’s en Moni’s self.

Die Cyber Tyre is met ’n rits sensors toegerus wat direk met ’n motor se blikbrein kan gesels. Dit meet banddruk en temperatuur, plus nog ’n paar eienskappe “wat jou padgreep help bepaal”.

Knormoer het nog altyd gedink ’n taaier is maar net daar om jou motor vorentoe mee te rol. Maar klaarblyklik is dit meer as net ’n biertjoep in die kleine.

Bande wat met die komper praat. Knormoer gaan voortaan selfs te bang wees om net aan die wiele te skop as hy gaan motors kyk by die handelaar.

Fokus, kêrels

Knormoer is seker jy het al menigmaal die oë gerol as jy ’n berig lees oor 16 gesteelde skape in ’n Corolla. Plus die vier makkers wat gaan skaapvang het.

Maar voordat jy jou land en sy mense afskryf, hou moed. Doer bo in die hartland van Oos-Europa het die popspeel landjie van Slowakye ook ruimhartig sy kant gebring.

Verlede week het die lang arm van Slowakye se gereg ’n Ford Focus afgetrek met ’n ietwat ongewone loonvrag op sy dak.

Kyk, die Focus-stasiewa was selwers nie op sy stukke nie. Die kantspieëltjie is met kleeflint vasgebind. Die modderskerm is verroes en die bakwerk was voor die builepes laas nie as ’n sif gebruik nie.

Maar op sy dak het die offisiere ’n byna volledige Peugeot 206 aangetref. Wel, minus die 206 se wiele en oorspronklike verflaag.

Die vier insittendes – ja, vier ouens het ingeklim nadat die Peugeot reeds die Focus se agtervering laat hensop het – het glo gaan motor koop in die naburige dorp. Maar nie een het ’n sleepwa gehad nie.

Wel, dis nie net ons boere (en taxi’s) wat ’n plan kan maak nie.

Die bestuurder is sy rybewys toe kwyt. Ja-nee, hier het iemand duidelik sy fokus verloor.

Meer oor:  Knormoer  |  Bmw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.