Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Naweek
KUIER
Breëstraat die nuwe Langstraat?
Heerlike ontbyt om ’n tikkie jolyt by die dag te voeg by Café Frank.
Die pragtige gebou waarin Birds’ Boutique Café is, is tipies van die statige eetplekke in Breëstraat.
Die sjiek en sexy kroeg van die HQ-restaurant-en-kroeg. Dit kan netso wel in New York wees.
’n Kleurryke sitkamer in die kloppende hart van die ou stad by die Cape Heritage-hotel.
Volstruiseiers en ander aandenkings van die Karoo by Avoova.
Stillewe met vars brood en groente in Isola se landelike kombuis.
Breëstraat is vol keurig gerestoureerde historiese geboue wat ’n ouwêreldse atmosfeer skep. Foto’s : herman lategan

Die skinderstories loop dík in die Kaap dat Breëstraat die nuwe Langstraat is. Herman Lategan het sy ore gaan uitleen.

Breëstraat is ’n beleë straat, maar ook ietwat van ’n verleë straat.

Wie sou kon dink dat van die oudste en mooiste strate in die Kaap ’n verbysterende Jekyll-en-Hyde-agtige persoonlikheid kan hê? Ek was sprakeloos, skaamkwaad vir my eie stad.

Selde het ek sulke nors, brandsuur mense in een dag teëgekom. Vanwaar, Gehasi? Boonop soos labberlotte (slordige of traak-my-nieagtige mense).

Terselfdertyd, soos twee aparte lobbe van ’n avokado, het ek lanklaas sulke gul, warmhartige en gasvrye mense teëgekom.

Net eers ietsie oor die jukskeibrekers en japsnoete. Dié straat is vol ersatz über-modieuse ­sake-eienaars en hul kliënte wat dink hulle besit kopiereg op die woorde kief en hip. Asseblief.

’n Mens bel sommer die stadsraad se afvalherwerkingsaanleg en stuur hulle soontoe.

Jy sien hulle kloek-kloek waar hulle kamma nonchalant by sypaadjiekafees sit en rinkink met hul slimfoon. Yskoud, hulle kan mekaar skaars in die oë kyk.

Stap verby. Want oral in dié straat is daar ligpunte.

DVD Nouveau is een van hulle. Op sy dag was hierdie een van die skrywer Hennie Aucamp se geliefkoosde plekke, juis omdat daar ’n wye verskeidenheid kunsflieks is. Daar is ook ruim versamelings Afrikaanse, Nederlandse en Belgiese DVD’s.

Loer hier, loer daar

Straat af, ’n paar treë op na links in Waalstraat, is daar die splinternuwe Isola-restaurant in ’n gebou met die mooiste swart ­teëls op die buitemure en ’n Sophia Loren-rooi Vespa buite.

Isola beteken “eiland” in Ita­liaans, die personeel is meestal warmbloedige Italianers met vuur in hul oë en daar is ’n klein binnehof waar verliefde paartjies kan koer. Ek het die een eienaar, Alberto Crovetto, ontmoet; ’n robuuste Italianer met groot hande (vol deeg) wat die kuns van kook by sy ouma geleer het. Ag, moeder, man.

Terug in Breëstraat is daar Birds’ Boutique Café, geleë in een van die mooiste horingou geboue in die Kaap. Voor dié bistro is daar antieke bloekombome met kolossale wortels wat die voorstoep plek-plek laat kraak. Dit voel soos die Karoo.

Buite kwetter wildevoëls in die takke en binne speel hulle ’n klankbaan van geveerdes wat roep. Hiert jy, wat voel dit of ’n grasparkiet saggies aan my pap oorlel knibbel! ’n Mens sal mos begin giggel soos een wat papegaaislaai gerook het.

As jy voel jou pê is pap, kan jy perdalks akupunktuur oorweeg om spanning, pyn, selfs verslawing te verminder. Loer in my dr. Lan net langs Birds en gaan met ’n oop gemoed.

Oorkant die pad is die haarkapper Barnet Fair. Laat kap jou kapsel daar deur ’n paar jongmans wat soos teelperde runnik terwyl die skêre klap.

Om die draai is ’n hoogtepunt die kunsgalery van Shaileen Davis, THE d’VINE art ROOM at New Heritage Galery. Net langs haar galery is (luidens ’n gedenkplaat) die oudste wingerdstok in Suid-Afrika.

Shaileen is veeltalig, sy praat ook Frans, Afrikaans en Spaans én sy kan dans totdat die son opkom.

Sy is van die stylvolste, mees kosmopolitiese en sjarmante vroue wat ek ken en haar kennis van kuns strek ver en wyd, net soos die vele lande waarheen sy al gereis en in gewoon het. Gaan koekeloer gerus na haar kunswerke; ’n verruimende ervaring.

Vergeet die suurknolle

Om jou dag af te sluit kan jy ’n katspoegie van Breëstraat in Strandstraat na een van vele nuwe toneelstukke gaan kyk. Jy kan ook by Alexander Upstairs eet. Binne is die dekor ouwêrelds, maar die toneelstukke is vars, modern, avant-garde.

Hierdie teater behoort aan twee jongmense, Nicholas en Edward, wat oneindig baie energie, vernuf en vernuwing aan die dag lê en jou met ’n glimlag by die voordeur groet en sal sorg dat jou teater- en koservarings die moeite werd is. Vergeet maar van die suurknolle.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.