Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Naweek
CD bly beste geskenk
Die heel eerste musiek-CD wat in winkels beskikbaar was, was Billy Joel se 52nd Street (CBS/Sony).
Billy Joel was eerste

Die heel eerste musiek-CD wat in winkels beskikbaar was, was Billy Joel se 52nd Street (CBS/Sony).

Dit het treffers soos “My Life” en “Honesty” bevat.

Dit is moeilik om te sê hoeveel CD’s wêreldwyd verkoop is, wat nog van hoeveel vervaardig is.

Die BBC het in 2007, toe die CD sy kwarteeu gevier het, berig meer as 200 miljard is toe al oor die wêreld heen verkoop.

Die digitale formaat wat gelei het tot CD’s se unieke kenmerke, het ook sy grootste vyand geword, met al hoe meer musiek wat deesdae afgelaai en op hardeskywe en geheuestokkies gestoor word.

– Wikipedia; npr.org 

Dit bly steeds die heel beste geskenk: ’n CD.

So meen prof. “Kees” Antonie ­Schouhamer ­Immink (67), wat die afgelope week deur die Universiteit van Johannesburg (UJ) met ’n ere-doktorsgraad vereer is.

Immink, ’n Nederlandse wetenskaplike, is die vader van die CD, DVD en Blue Ray.

Die invloed van sy werk is so groot dat dit byna onmoontlik is om vandag enige digitale klank of video te geniet sonder dat hy daarby betrokke was.

Hy sê hy is ’n ingenieur omdat hy ’n diep passie vir die wetenskap en ingenieurswese het.

“Sedert kindsbeen het ek altyd die passie gehad. Ek was gek na dinge wat beweeg het, soos stoomenjins, fietse, treine, bote.”

Die idee om die CD te ontwikkel, het reeds in die 1960’s begin, kort nadat ’n toestel ontwerp is waarop videobeelde gespeel kon word. Dit was ’n tegniese sukses, maar het kommersieel nie vlamgevat nie, sê Immink.

Saam met Philips in Nederland en Sony in Japan is met die idee begin om ’n skyf met net klank te ontwikkel sodat musiek in digitale vorm versprei kon word.

Die CD is uiteindelik in 1982 kommersieel bekend gestel. Hy het eers nie gedink dit sou ’n sukses wees nie. “Ek kon nie die toekoms voorspel nie.”

Vandag kan ’n mens byna nie jou lewe sonder ’n CD indink nie.

In sy huis staan sy gunsteling-CD’s “seker so ’n paar meter wyd”, spot hy.

Dit is vir hom steeds die beste geskenk wat jy aan ’n geliefde kan gee. Niks was so spesiaal as om Beethoven se Negende Simfonie op CD aan sy ma te gee nie.

“Ek kan my dit nie indink hoe dit moet wees om so ’n geskenk op ’n stokkie vir iemand te gee nie.”

Al koop mense minder CD’s, is dit steeds “fantasties” dat die CD nog nie heeltemal uitgesterf het nie, sê hy. “Ja, ek is teleurgesteld oor die afname in verkope, maar dit doen steeds baie goed.”

Die mite oor 74 minute

Hoekom was ’n standaard-CD aanvanklik 74 min. lank? Dit het eers later, toe dit ook as dataskywe gebruik is, tot 80 min. gegroei.

Tydens die ontwikkelingsfase is gewerk aan ’n laserskyf wat 60 min. se klank moes kon berg.

Die legende, wat gretig versprei is deur Philips se bemarkers, was dat Sony se projekhoof, Norio Ohga, se vrou ’n groot aanhanger van Beethoven se Negende Simfonie was.

Ohga het tydens onderhandelinge daarop aangedring dat die ­nuwe klankbergingstelsel minstens dié beroemde simfonie aaneenlopend moet kan weergee. Die langste vasgelegde weergawe van die Negende was een van 74 min. wat in 1951 by die Bayreuther Festspiele opgeneem is. 60 min. sou dus nie deug nie.

Immink ontken dit met ’n glimlag.

Hy sê die Japannese het geweet Philips het reeds ’n videoskyf-fabriek gehad wat CD’s met ’n deursnee van 11,5 cm sou kon maak.

Sony wou nie toelaat dat sy medewerker ’n voorsprong kry nie en wou sy eie fabriek eers klaar bou.

Ohga het volgens Immink tyd gekoop deur hulle almal terug laboratorium toe te stuur. Daar is tot op die nippertjie oor die grootte van die skywe onderhandel en toe ooreengekom op 12 cm.

Immink het die kodering van die data ontwerp en uiteindelik het dit beteken 74 min. en 33 s. se musiek kon op die silwer skywe gestoor word.

Wat, ja, so lank soos die Negende Simfonie was ... 

“Kees” Antonie Schouhamer Immink

Philips, Sony werk saam om kompakskyf wereld in te stuur 

Prof. “Kees” Antonie Schouhamer ¬Immink het in 1973 by Philips aan die aandrywingstelsel van dié Nederlandse maatskappy se nuwe ¬videoskyf begin werk.

Die skyf was 30 cm breed en kon ’n uur se musiek en beelde in analoog-formaat berg. Dit is in 1975 bekendgestel, maar mense het nie belanggestel nie. Philips het twee jaar later die produk gekanselleer.

Toe kom die voorstel dat ’n skyf vir musiek ontwikkel moet word omdat die mark soveel groter is.

Philips was reeds bekend as ontwikkelaar van die kompakte kasset en het belange in musiekmaatskappye gehad.

Hy het sy videoskyf-tegnologie vir die nuwe produk aangepas.

Aanvanklik is analoog-tegnologie gebruik, maar hulle het besef dit sal byna geen voordeel bo vinielplate hê nie. Die groefies was net so vatbaar vir vuiligheid en krapmerke as op vinielplate.

Toe het hulle na digitale tegnologie oorgeskakel en die res is geskiedenis.

Sony was besig met soortgelyke tegnologie en die twee maatskappye het hul kragte saamgegooi: Philips sou die skyftegnologie verskaf en Sony sy kennis van musiekformate. Dit was Sony, wat reeds die Walkman vervaardig het, wat voorgestel het CD’s moet kompakter as vinielplate wees.

Die twee maatskappye het wel, ná die ontwikkelingsfase en bekendstelling in 1982 van CD’s, in dieselfde mark met mekaar meegeding en hul eie produkte bemark.

De rocklegende Jimi Hendrix se album Electric Ladyland was 75 minute lank – dus net-net te lank vir die eerste CD’s.

Hendrix se lang asem

’n Standaard-CD berg 74 minute en 33 sekondes se musiek.

Elke sekonde daarvan bestaan uit 1,5 miljoen datagrepe wat voortgebring word deur kepies en bultjies van tussen 0,9 en 3,3 mikrometer in grootte wat in ’n baie dun groefie lê.

’n Hele skyf bevat meer as 19 miljard datagrepe en as jy die spiraalvorm van die groefie op ’n manier reguit kon maak, sou dit ’n hele 5,38 km lank wees.

Dit word deur ’n laserstraal gelees en die data word deur die speler gedekodeer terwyl die skyf teen stapspoed, 4,27 km/h, in die rondte draai.

Terloops, die rocklegende Jimi Hendrix se album Electric Ladyland was 75 minute lank – dus net-net te lank vir die eerste CD’s.

Toe die album in die vroeë 80’s op laserskyf heruitgereik is, is dit op twee skywe geplaas.

Dit is sedert 1997 op ’n enkele CD beskikbaar. – Kees Immink op

exp-math.uni-essen.de/

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.