Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Naweek
Doendinge dié naweek
Hannes Müller in Groet die grotman.

Lus om die naweek bietjie uit te kom en nie net te sit en bibber en beef nie?Hier is 'n paar doendinge.

Deanre Reiners in PASS(ings).

Die Rooy-kosmark word weer Sondag van 09:00 tot 15:00 gehou in die Van Rooyen-saal in Piet Bosmanstraat, Potchefstroom. Produkte soos egte Hollandse stroopwafels, boereworsrolle, vullende Hollandse krokette, Maleise lamskerrie, gevulde pannekoeke, beesstert met stampmielies en aromatiese koffie sal te koop wees. Sandkuns is beskikbaar vir die kinders, en daar sal kunsvlytstalletjies wees asook ’n kunsuitstalling deur Malcolm Cowan. ’n Verskeidenheid wyne en biere sal ook beskikbaar wees. Toegang is gratis. Bel Tania by 079 918 2092 vir enige navrae of besoek die Facebookblad van Rooy Food Market.

Kom stap Sondag saam deur Melville, sekerlik een van die interessantste voor­stede van Johannesburg, wat reeds in 1896 ontstaan het. Beleef die ongelooflike veranderinge wat in net meer as 100 jaar plaasgevind het. Van die dae voor hoë mure, elektriese heinings en internetkafees, toe ’n windpomp en ’n rondloperkoei in die erf nie ongewoon was nie, en ossewaens en perdekarre nie parkeerprobleme in 7de Laan veroorsaak het nie. Ontdek ook hoekom Melville tans boaan besoekers aan Johannesburg se lys is. Die toer kos R90, wat verversings ná die tyd insluit. Die geselskap vertrek om 13:30. Bel Nel by 011 726 1448 of 083 373 0159 vir meer inligting.

PASS(ings), vandag in die Pierneefteater in Pretoria, tree in gesprek met John Donnelly se bekende toneelstuk The Pass. Dié produksie deur VNA Productions, met Deanre Reiners en Vianney Henry ­Farmer, plaas vriendskap onder die vergrootglas. Onder regie van Quintin Wils speel die stuk af ’n aand voor Liam se troudag. Hy en sy skoolvriend dink terug aan die verlede en hul dae as opkomende rugbysterre, drieë, meisies en glorie. Die stuk het ’n ouderdomsbeperking van 15 jaar. Dit begin om 19:00 en kaartjies kos R100. Skakel 012 329 0709 of stuur e-pos na info@pierneefteater.co.za om te bespreek.

Die bekende Johannesburgse Bach-koor lewer Sondag om 15:00 ’n vertoning in die Bedfordview Metodistekerk met onder meer Bach se “Magnificat in D”, een van die komponis se mees gevierde werke. Die koor tree op saam met die Apple Green ­Orchestra onder leiding van Tim Roberts. Ander werke sluit in die Howard Goodall-verwerking van Psalm 23 en John Rutter se “The Lord Bless You and Keep You”. Die kerk is op die hoek van De Wetstraat en Van Buurenweg in Bedfordview. Kaartjies kos R125. Bespreek by quicket.co.za.

Hannes Müller is weer die naweek op die verhoog in Groet die grotman in die ­Mardi Grasteater by Carnival City in Brakpan aan die Oos-Rand. Dit is ’n verwerking van die bekende Broadway-produksie deur die Amerikaanse akteur en dramaturg Rob Becker oor die kompleksiteite van romanse en verhoudings. Op eie bodem het Tim Plewman dit in Engels bekend gemaak. Plewman het dit ook vroeër vanjaar in Las Vegas, Amerika opgevoer, die eerste keer dat hy dit buite die grense van Afrika opvoer. Die vertoning is vandag en môre om 19:30. Kaartjies kos R130 tot R150. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Doendinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.