
Wine On The River is die geleentheid om net ontspanne saam te kuier en nuwe mense te ontmoet.Foto: verskaf
Die 12de Wine on the River-fees vind dié naweek in die Robertson-wynvallei plaas.
Die pad hierheen alleen is al klaar ’n lekker wegbreek.
1. Gesinstyd
Die kleingoed het hul eie speelterrein en die hele gesin kan ook aan aktiwiteite soos perd-, trekker- en bootritte deelneem
2. Goeie wyn
Wynliefhebbers het die geleentheid om die hele vallei se wyne op een plek te proe.
Die nuwe #TastetheLifestyle-tent gaan ook verskeie aanbiedinge hê met begeleide proeë.
Bespreek sommer nou al jou plek vir een van dié interaktiewe proeë.
3. Smulpape
Niemand sal honger huis toe gaan nie.
Daar sal verskeie lekkertes wees soos toebroodjies van gepluiste vark (pulled pork), gourmet-happies, garnale en soesji, waterblommetjie-geregte, plaaslike charcuterie, kaas en olywe met verskeie opsies vir vegetariërs.
4. Eg plattelands
Hoe lief ons almal ook vir die stad kan wees, het ons ook ’n wegbreek nodig om die vars lug van die platteland te geniet. Besoekers kan teruglê en wolke tel óf wyne proe, of iets avontuurliks aanpak.
5. Doen jou deel
Die fees het ook ’n liefdadigheidselement met die eendresies wat die Sondag op die rivier aangebied word. Individue kan ’n geel eend koop teen R100 en besighede kan ’n blou eend koop teen R1 000. Die wenneers ontvang R5 000 en die winste word geskenk aan die Bonnie-People-projek. Verlede jaar is R250 000 vir dié doel ingesamel.
- Wanneer? 20-22 Oktober
- Waar? Oewer van die Breederiver, Goudmynplaas
- Koste? R120–R280; interaktiewe proeë kos R70 per persoon per sessie.
- Kontak: Besoek www.wineonriver.com of skakel 023 626 3167
Onthou! Versnit en die feesorganiseerdes ondersteun die verantwoordelike verbruik van alkohol. Maak gebruik van die gratis bussie tussen Robertson, Bonnievale en Montagu of bespreek ’n taxi as julle huis toe móét ry.