Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Naweek
Parys – méér as ’n dorp

Al baie jare lank is Parys in die verre Noord-Vrystaat ’n heerlike snuffelplek vir mense wat baie hou van antiekeware. Maar dié naamgenoot van die Franse hoofstad en die omgewing om die dorp, is ook ’n heerlike bestemming vir ’n naweek of ’n vakansie.

Die kwartsietkoppies in die Vredefortkoepel wys duidelik hoe hierdie rotslaag vanweë die meteorietimpak uitgedruk is en nou koppies in halfmaankringe om die sentrale koepel-gedeelte vorm.Foto: Lientjie Mentz
Die ou mynkommissaris se kantoor op Venterskroon is nou die ­mu­seum in dié historiese gehuggie.Foto: Lientjie Mentz

Parys is een van daardie dorpe waar jy op een plek kan stilhou en jou verlustig in ’n groot verskeidenheid winkels – van die talle antiekewarewinkels, tot winkels wat spesialiseer in lekkergoed, gebak, dekor, boeke, leerware, speserye en klere. Maar die natuur hier in en om die dorp bied ook ’n besonderse bestemming wat dit beslis ’n

besoek werd maak.

Jan Fourie, 'n geregistreerde toergids, neem besoekers na plekke van belang in die Vredefort-koepel. Hier staan hy in 'n uitgediende goudmyn uit die laat 19de eeu. Foto: Lientjie Mentz

Terug in tyd

As jy werklik ’n rukkie lank wil deel word van ’n vergete era waar vroue behoorlik getooi is, dan is ’n besoek aan Kiki’s in Breëstraat ’n onvergeetlike ­ervaring.

Belinda Elrix, beter bekend as Madame Kiki, het die afgelope tien jaar ’n baie oulike ateljee ingerig met klere, skoene, juweliersware, hoede en ander bybehore uit toeka se dae waarin individue, paartjies en gesinne baie spesiale foto’s kan laat neem. In die aantrekhokkie hier is daar skeppings wat sy oor ’n dekade bymekaargemaak het en steeds gereeld met iets oud en spesiaal vir die ateljee aanvul.

Belinda sê sy het iets vir almal en niemand moet huiwer om hier in te stap en vir ’n

rukkie lank ’n dame of heer of seun of meisie uit die vorige eeu te word nie. Net vir ’n rukkie.

Terwyl jy moet poseer met ’n hoed en skouerkleed en koketterig bokant ’n handwaaier vir die kamera loer, neem Belinda en haar span die een meesterstuk ná die ander. Sy vertel die fotosessie is baie meer as net oulike kiekies wat van iemand geneem word. Vir haar is portretfotografie ook ’n vorm van terapie waar sy elke mens

spe­siaal laat voel. Boonop kan jy die foto’s wat hier geneem word, laat raam en in ’n spesiale plekkie in die huis ophang om jou te herinner aan ’n heerlike kuier in Parys.

Parys se historiese voetbrug oor die Vaalrivier pryk deesdae ook met liefde-slotte.Foto: Lientjie Mentz
Prettige rubberbootvaarte op die Vaalrivier is een van talle avontuuraktiwiteite by Parys.Foto: Real Adventures

Vir avontuurvrate

Die Vaalrivier wat dié dorp van Noordwes skei, asook die Vredefortkoepel-omgewing, bied wonderlike geleenthede aan mense om ’n bietjie avontuurlustig te raak.

Heelwat van die lodges in die omgewing bied hul eie avontuuruitstappies soos witwaterroei aan. Daar is egter ook ondernemings, soos Real Adven­tures, wat spesialiseer in ’n hele verskeidenheid water-aktiwiteite en ander prettige groeps­aktiwiteite.

’n Rubberbootvaart op die Vaal is ’n heerlike uitstappie vir groepe mense wat die eerste keer witwaterroei onderneem en eerder wil kuier as om teen ’n vaart na benede te tuimel.

Ek het saam met die gids ­Jonas Klaas ’n halfdag-roeitog onderneem en buiten die Big Daddy-stroomversnelling wat jou goed natspat, is die ander stroomversnellings net genoeg om die vaart interessant te hou. Die oewer al langs die rivier is mooi boomryk en daar is ’n ­ryke voëllewe. Ons het selfs twee likkewane gesien waarvan een slinks deur die water geswem het op pad na middagete (van voëleiers) op ’n klipeiland in die rivier.

Van die ander aktiwiteite wat aangebied word, is “tubing” waar jy met die rivier afdryf, gondelvaarte en ’n rustige vlotvaart. As jy die adrenalien wil laat pomp, oorweeg gerus die 45 m-abseil bokant ’n uitgediende granietsteengroef, laser-klei­skiet, verfbal en vele meer.

Gaan proe van die tuisgebroude bier by die Dog & Fig buite Parys.Foto: Lientjie Mentz
Drentel deur die talle winkels in Parys. Hierdie oulike deli genaamd Deeglik, is in Le Petit Paris, ’n klein inkopiesentrum in Breëstraat.Foto: Lientjie Mentz

Maak keel nat

Net buite die dorp op die Kopjeskraalpad, is die Dog & Fig-brouery wat mikrogebroude biere maak. Sit hier aan vir een van die plaaslike biere, of proe aan almal en besluit self watter een jou gunsteling is. Die Dog & Fig se Stewige Stout het reeds talle pryse gewen.

Johan Kruger neem gaste graag op ’n toer van die brouproses. Daar is ook ’n heerlike spyskaart met voorstelle van die plaaslike bier wat by elke gereg sal pas.

Ook in Breëstraat is die

Pickled Pig Ale House ’n gewilde bestemming. Hier kan besoekers kies uit ’n baie groot versameling mikrogebroude biere en dit terwyl hulle aan heerlike spyse smul.

Daar is heelwat unieke eetplekke in die dorp, soos Hoi Polloi, O’s (’n goeie plek vir skemerkelkies) en Ruby’s waar jy besonderse kos en ’n unieke atmosfeer kan geniet. Onthou net talle van die restaurante is nie Maandae en Dinsdae oop nie, so hou dit in gedagte as jy ’n paar dae in die dorp wil deurbring.

As jy honger en dors bly in dié dorp, is dit net jou eie skuld.

Leer oor die koepel

Kry hulle hier
* Vind meer uit oor Parys en die omliggende omgewing op die webwerf www.parys.co.za.

* Kontak Jan Fourie van Impact ­Dome Tours by 082 891 7163 of jan.fourie@parys.co.za.

* Vind meer uit oor die Venterskroon Inn by 079 424 8417 of stuur e-pos na 1969pear@gmail.com.

* Bespreek ’n fotosessie by Kiki’s by 082 452 9459 of stuur e-pos na madamekiki@vintagestudio.co.za.

’n Mens kan beswaarlik hier rond kuier sonder om meer uit te vind oor een van die uitsonderlike gebeurtenisse wat miljoene jare gelede in die omgewing van Parys plaasgevind het.

Die Vredefortkoepel, wat gelys is as een van Suid-Afrika se

Wêrelderfenisgebiede, is gevorm toe ’n meteoriet die aarde 2,023 miljard jaar gelede getref het. Dit is volgens geoloë een van die grootste meteorietimpakte wat nog op aarde plaasgevind het en is ook die oudste impakkrater wat op aarde gevind is.

’n Uitstappie saam met ’n toergids soos Jan Fourie van Dome Impact Tours in Parys om te gaan kyk na die geologiese bewyse van hierdie impakkrater, is beslis ’n moet as jy in die omgewing kuier.

Die hele krater is 300 km wyd van Welkom in die suide tot Johannesburg in die noorde. Die middelpunt van die meteoriet wat ongeveer so groot soos Tafelberg was, het die aarde in die omgewing tussen vandag se dorpe Parys en Vredefort getref.

Meteorietbewyse en goudmyne

Geoloë bestudeer die gebied al baie jare lank en Jan neem besoekers om ’n paar van dié besonderse rotsformasies self te sien.

Jan vertel dit is juis as gevolg van een van die formasies, naamlik die kwartsietkonglomeraat wat hier voorkom, wat mense aan die einde van die 19de eeu na die gebied laat stroom het op soek na goud.

Hy neem besoekers na een van die goudmyntonnels waar delwers in die tydperk van 1887 tot 1930 goud gemyn het. Anders as die goue boog wat danksy die meteorietimpak die gouddraende kwartsietkonglomeraat aan die buitenste rand van die impakgebied heelwat nader aan die aardoppervlak geforseer het, was die ontginning van goud hier in die koppies naby Parys nie so suksesvol nie. Daar kon in die tyd wat daar gemyn is, slegs sowat 123 kg goud ontgin word.

Al wat oorgebly het van die goudmynbedrywighede in die koppies naby Parys, is Venters­kroon, ’n eertydse myndorpie waar die mynkommissaris gewoon het. Hier was ook ’n hotel, ’n polisiekantoor en selle, ’n skool en die skoolmeester se huis. Die mynkommissaris se kantoor was later ’n skool en nog later ’n polisiekantoor. Die tronkselle was oorspronklik vir die mynkommissaris gebou en het later goed te pas gekom vir die polisie.

Kuier in die koepel

Vandag kan besoekers heerlik kuier by die Venterskroon Inn – ’n gesellige kroegie en restaurant met verblyf daarnaas.

Geniet iets te ete onder die koeltebome of gebruik Venters­kroon as basis van waar jy die koepel kan verken. (Die restaurant is Maandae gesluit.)

Die ou mynkommissaris se kantoor is vandag ingerig as ’n museum wat die geologie asook iets van die geskiedenis van die omgewing verduidelik.

As jy meer belangstel in die geskiedenis en kultuurerfenis,

is ’n toer deur die koepel net so interessant.

Jan gaan wys besoekers ook baie interessante rotsgravures wat volgens navorsing van die Steentydperk dateer en vertel staaltjies uit die Anglo-Boereoorlog.

Vir natuurliefhebbers is die erfenisgebied ’n wonderlike bestemming. Daar kom meer as 330 inheemse voëlspesies hier voor en hoewel dit deesdae op private grondgebied is en slegs per afspraak besoek kan word, word die grootste versameling olienhoutbome in die wêreld hier teen ’n koppie in die koepel aangetref.

As Parys en die Vredefortkoepel in jou truspieëltjie verdwyn, sal jy dankbaar wees vir die tyd wat jy hier kon kuier om meer oor die dorp en omgewing te leer.

Meer oor:  Parys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.