Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leefstyl
Orania vier Afrikanerkultuur
Derde karnaval ’n groot lekkerte
Deelnemers aan die koeksister-eetkompetisie. Foto’s: John Strydom
Esterbeth le Roux wys hier haar krag teen Maryna le Grange, plaaslike goudsmid (met haar rug na die kamera). Schalk Albertyn was die skeidsregter.

ORANIA. – Die derde Orania-karnaval met die tema Afrikanerkultuur is onlangs gehou.

Met ’n verskeidenheid kosstalletjies met eg tradisionele geregte en drinkgoed, soos boontjiebredie, gemmerbier, kultuurmelk (mampoer) en natuurlik koeksisters, was dit ’n feestelike geleentheid.

Die karnavaloptog is een van die groot lekkertes waaraan die hele gemeenskap sowel as besoekers deelneem. Die sierwa van die Orania-beweging het vlae uit die Afrikaner-geskiedenis vertoon, soos die Vryheidsvlag, die Voortrekkervlag, die Vrystaat-vlag en natuurlik Orania se eie vlag met die Klein Reus.

Orania is ook die tuiste van die koeksister-monument en ’n koeksister-eetkompetisie was dus deel van die feestelikhede. Dié stroopsoet kompetisie is gewen deur Otto du Plessis wat in die eerste uitdun sewe koeksisters binne een minuut kon wegpak en in die eindronde, onmiddellik daarna, nog agt koeksisters verorber het.

Die grootste aanskoulikheid was egter die sterkmanvertoning wat deur die Lampbrecht-broers, Arno en Burger, aangebied is. Toeskouers is genooi om ook hul staal te toon. Die sterk broers het opgemerk dat hulle kon sien dat Oraniërs hul eie arbeid verrig en dat dit beslis ’n verskil maak aan hul fisieke krag.

Daar was vir almal iets om aan deel te neem en selfs die vroue kon teen mekaar armdruk. Schalk Albertyn, karnavalmeester, was die skeidsregter.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.