Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
1, 2, 3 . . . dis die Paarl dié!

Onder die wakende oog van die Paarlberg se granietkop is daar hope vir ’n toeris om te geniet, skryf die Paarliet Ilse Zietsman.

Die Paarl is een van die oudste dorpe in Suid-Afrika en ’n heerlike kuier­plek vir toeriste.

Langenhoven het ’n voorliefde vir die Paarl gehad. Anders sou hy mos nie die bekende volksliedjie “Pollie, ons gaan Pêrel toe” geskryf het nie.

Doerie tyd was dit ’n gewilde liedjie, veral as daar piekniek gehou is. Die piekniekgangers sou dan ’n kring vorm terwyl die eerste versie gesing is. Met die tweede versie het elkeen ’n dansmaat gekies om mee te tiekiedraai.

Neem kunstige foto’s van die simmetrie by die Taalmonument voor jy jou vir ‘n piekniek neervly.Foto’s: Ilse Zietsman

Hou piekniek by die Taalmonument

Die Afrikaanse Taalmuseum en –monument se webwerf beskryf hulself so: “ . . .(die monument) vier die ontstaan en voortbestaan van Afrikaans. Almal wat Afrikaans kán of wíl praat of daarin belangstel, behoort hierdie unieke museum en monument te besoek om meer te leer oor dié derde grootste taal in Suid-Afrika.”

Dis egter nie net taalgeesdriftiges wat hiernatoe moet gaan nie; jy kan sommer net gaan om piekniek te hou. Tiekiedraai is nie verpligtend nie! Die Taalmonument is nie net ’n struktuur van klip en beton nie. Die tuine leen hulself by uitstek tot lekker ontspan; die uitsig dra natuurlik hiertoe by.

Die Taalmonument hou ook in die somer sterrekykpiekniekaande. Op hul advertensieplakkaat lees ’n mens: Beloer skitterende hemele met die OOG-kundiges en hul teleskope. Jy kan jou eie piekniekmandjie saambring of ene bestel. Die volgende sterrekyk-piekniekaande is op 22 Februarie en 21 Maart en begin om 18:00. Sorg dat jy vroeër kom om kunstige foto’s van die swierige, golwende lyne en sagte vorme van die Taalmonument te neem. Daar is baie hoekies en draaitjies waar jy vir selfies kan poseer.

In Februarie vier die Taalmonument sy 45ste bestaansjaar oftewel “45 fabelagtige jare”. Tydens die feesvieringe tree onder meer Die Heuwels Fantasties, Akkedis Band, Ramon Alexander en Lungi op. Kyk na die volledige program by www.taalmonument.co.za.

’n Swembad is onontbeerlik in die somer in die Paarl. By Cascade Country Manor kan jy heerlik in die tuin afkoel.

Bederf jouself by La Paris

La Paris-landgoed lê op die R301 of Wemmershoekpad tussen die Paarl en Franschhoek. Met ’n tikkie verbeelding kan jy jou verbeel dat jy ’n middag in die Franse platteland vertoef.

Die plaas waarop La Paris Bistro geleë is, dateer uit 1699. Voor jy vir middagete by die restaurant aansit, is ’n wandeling deur die tuin ’n móét. Op die middagetespyskaart kan jy onder meer kies tussen garnale gemarineer in veselperske en vars gemmerwortel, gebakte camembert met makataankonserf of gerookte varkribbetjies vir voorgereg; gourmetburgers, vis-en-tjips, biefstuk of vangs-van-die-dag vir hoofgereg; en ’n soutkarameltertjie, sjokoladebruintjie of gegeurde fudge vir nagereg. Daar is ook kroeghappies en ’n verskeidenheid slaaie en broodjies beskikbaar. Kyk na die res van die spyskaart by www.laparis.co.za.

Die deli-produkte is allesbehalwe te versmaai. Die proefbuisies met eetbare gedroogde blommetjies het my oombliklik verlei. Op die rakke is ook heuningbotter, papaja-atjar, beetblatjang, waterblommetjiepiekels, Marokkaanse lemmetjiekonserf en gepekelde komkommerlinte. Soettande kan uitsien na wortelkoek met vla, klapper-en-aarbeigegeurde kaaskoek, makarons (makrolletjies) in psigedeliese kleure en toffiepoeding wat in ’n flessie voorgesit word.

La Paris Bistro is ses dae per week (vanaf Woensdag tot Maandag) tot 17:00 oop. Op Vrydagaande is die bistro tot 22:00 oop.

’n Middagtee by The Light House is nie te versmaai nie.
’n Geurige omelet gevul met spek, feta en avokadopeer by La Paris Bistro.
Tydens middagtee by The Light House word onder andere keurige komkommertoebroodjies bedien.Foto:

Bly oor in die Paarl

Die Paarl het ’n magdom gastehuise. Drie wat uitstaan, is: The Light House Boutique Suites (www.thelighthouse.co.za) in Courtrai soos wat jy die Paarl vanaf die N1 binnery; Cascade Country Manor (www.cascademanor.co.za) in Dal Josafat net buite die Paarl; en d’Olyfboom (www.dolyfboom.co.za) in die hartjie van die Paarl.

The Light House is ’n boetiekgastehuis, ’n plek van lig met ’n asemrowende uitsig. As jy jou klaar aan die uitsig verwonder het, sal jy ongetwyfeld in hul leeskamer wil neersyg – óf met jou eie boek óf met een uit hul uitgebreide versameling. Dié versameling boeke sluit in leesstof oor fotografie, Afrika, binnenshuise versiering, mode, kuns, opera, argitektuur, wyn, wêreldstede, inspirerende sjefs, stylikone en Nelson Mandela.

By The Light House is middagtee ’n groot bederf. Delikate komkommertoebroodjies, ’n vars pienk roos nestel bo-op ’n sjokoladekoek en botterbroodjies (skons) word met dik geklopte room, konfyt en kaas bedien. ’n Driegang-aandete word op versoek vir gaste voorberei en in die eetkamer voorgesit, daar is ’n swembad vir hittige Bolandse dae en die uitsig vanaf die stoep noop jou om nog ’n wyle langer daar te vertoef.

Cascade Country Manor is in ’n ou herehuis tussen olyfboorde gesetel. Dié gastehuis spog ook met hul eie waterval, ’n paar minute se loop vanaf die uitgestrekte tuin met ’n swembad. Daar is ’n restaurant, ’n spa, en hulle maak ook hul eie olyfolie.

Alhoewel d’Olyfboom in Noorder-Paarl is, voel dit glad nie asof jy in die dorp self tuisgaan nie. Daar is vyf gastesuites, elk met sy eie dekor. Die uitsig vanaf d’Olyfboom is oor die hele dorp, die omringende plase en wingerde in elke rigting.

Meer oor:  Paarl  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.