Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
48 uur in Swakopmund
Die argitektuur van die geboue in Swakopmund is ’n plesier om na te kyk. Foto: Gerrie Janse van Vuuren

’n Blitsbesoek aan dié Namibiese kusdorp, wat omhels word deur die Atlantiese Oseaan aan die een kant en die duine van die Namib aan die ander, is net genoeg om ’n mens lus te maak om gou weer te kom kuier.

Dit was my eerste besoek aan Namibië, en met die eerste oogopslag was ek verlief op Swakopmund. Die Duitse koloniale argitektuur, die natuurskoon, die heerlike kos – alles het my laat wonder hoekom ek nóú eers hierdie wonderskone plek ontdek.

Ons het in Walvisbaai geland en ons vanuit die vliegtuig al verkyk aan die verlate skoonheid van die woestyn en die diepblou van die see. Suid-Afrikaners het gelukkig net hulle paspoort nodig om toegang te kry tot Namibië, en ons is vinnig deur die amptelike kanale en in ’n bussie op pad Swakopmund toe. Walvisbaai is baie industrieel en minder mooi, so ek het die hele 33 km tussen die twee dorpe uitgesien om te sien wat Swakop bied.

Ons blyplek vir die twee aande wat ons in die dorp gaan deurbring, is The Strand-hotel. Hierdie hotel spog met ’n onverbeterlike ligging, letterlik met sy tone in die sand. Die kamers het alles wat ’n toeris se hart kan begeer, van ’n uitsig oor die see tot ’n lekker groot TV waarna jy kan kyk terwyl jy op die koninggrootte bed uitgestrek lê.

The Strand-hotel (op regs) is ’n hanetree van die see af. Foto: Gerrie Janse van Vuuren
Die Butcher & Brewer-restaurant by The Strand-hotel voer ’n mens weg Duitsland toe. Foto: Gerrie Janse van Vuuren

Daar is ook ’n verskeidenheid restaurante by die hotel om van te kies, en ek weet steeds nie watter een is my gunsteling nie. Ons eerste maaltyd daar was middagete in die Farmhouse Deli (ontbyt word ook aan hotelgaste hier bedien) en die koffiemelkskommels en burgers met tuisgemaakte frikkadelle was die perfekte manier om ons Namibiese avontuur te begin. Die Farmhouse Deli se huislike dekor laat ’n mens sommer tuis voel, en dit is lieflik om te smul met die gedruis van die see in jou ore. Daar is ook onder meer panini’s, pizza, pasta en sop op die spyskaart, en die deli verkoop alles van soetgoed tot sout as jy ’n geskenkie wil huis toe neem.

Nog ’n lekker aspek van ’n reis na Namibië is dat die rand oral aanvaar word, en ’n rand is basies gelykstaande aan ’n Namibiese dollar, so daar is geen nare verrassings en sommetjies-maak nie.

Smul in Swakop

Ná ons groot middagete vaar ons Swakop se strate in om die dorp van nader te bekyk. Dit tref ons hoe skoon en netjies die strate is, en dit is lekker om oral Duits en Afrikaans te hoor (’n mens vergeet sommer jy is nie in Suid-Afrika nie). Baie van die geboue dateer van die vroeë 1900’s en is goeie voorbeelde van tradisionele Duitse argitektuur.

Ons loer in by die koffiewinkel Cordes & Co in Daniel Tjongarero-straat, wat spog dat hulle die “beste koffie in Swakopmund” bedien. Ons voel ons kan saamstem terwyl ons op die stoep sit en mense-kyk met dié aangeprysde koppie boeretroos in die hand.

Mooi spoelklippies op die strand in Swakopmund. Foto: Gerrie Janse van Vuuren

Laatmiddag is die ideale tyd vir ’n stappie strandlangs, en ons skop skoene uit en durf die koue van die water aan. Dit is yskoud, ja, maar verfrissend, en ons tel ’n hele paar pragtige spoelklippies in die mooiste kleure op om ons te herinner aan dié middag.

Aandete is in die hotel se Brewer & Butcher-restaurant. Dié eetplek sal ewe tuis wees in die hartjie van Berlyn, en daar was juis ’n Duitse musiekgroep aan die opwarm toe ons aansit. Hier word drie mikrobiere op die perseel gebrou, en ons word eers bederf met ’n bier-proe en ’n agter-die-skerms-kykie na hoe dit gemaak word.

Ek kies die tradisionele vis en skyfies terwyl my eetgenoot die lamskenkel nie kon weerstaan nie. Ek het in ’n pub in Oxford laas sulke lekker vis geëet, en die skenkel val sommer op sy eie inisiatief van die been af.

’n Pelikaan se spookasempienk kuif is net te oulik vir woorde. Foto: Gerrie Janse van Vuuren

Ontmoet Sakkie die seeleeu

Ná ’n lieflike nagrus waar die golwe ’n hanetree van ons hotelvenster ons aan die slaap gesus het, kies ons 07:00 koers na die deli vir ontbyt. Dis nog donker buite, so die cappuccino’s moet hard werk om die wiele van die dag geolie te kry. Ontbyt is ’n letterlike fees met alles van varsgebakte croissants en Duitse soetgebak tot vars vrugte, kase, koue vleis, Duitse wors soos bratwurst en natuurlik spek en eier in al sy gedaantes.

Met vol mae is ons gereed vir wat die dag inhou, en ons klim in die bussie wat ons na Walvisbaai se hawe neem. Hier klim ons op ’n katamaran van Laramon Tours saam met ’n verskeidenheid toeriste; ons hoor die gebrom van Duits en die skril stemme van Italianers. Almal drink diep aan hul “Namibiese koffie” – sjerrie – terwyl die katamaran stadig uit die hawe gly.

Flaminke vlug voor die kameras. Foto: Gerrie Janse van Vuuren

Ons is pas uit die hawe toe klouter ’n baie hans seeleeu ewe gemaklik op die katamaran! Hy is glo ene Sakkie, en volgens ons gids, Jackson, is hy so mak dat ’n mens hom selfs kan vryf! Sakkie vergryp homself aan die peuselhappies wat Jackson uitdeel en speel ewe geduldig model saam met die toeriste wat soos paparazzi op hom toesak.

Die volgende hoogtepunt is die pelikane wat majestueus aangevlieg kom en hul eie peuselhappies kom opeis. Wie het geweet ’n pelikaan is so indrukwekkend, en as jy die voorreg het om een van naderby te beskou, kyk tog hoe oulik is die pienk verekuif van agter.

Die katamaran vaar naby ’n sandbank verby waar derduisende seeleeus hulself tuisgemaak het, en hulle raas dat dit klap (dit klink kompleet soos kinders wat gil en jil).

Dit was pure bederf om ook ’n hele paar dolfyne (selfs ’n kalfie!) van naby te sien, en dit terwyl ek met ’n vars oester in die hand staan. Laramon Tours bedien onder meer ook ander happies vir die toeriste, soos souttertjies en calamari, maar die vars oesters wat net daar uit die baai gehaal word, is onverbeterlik.

So ’n toer word hoog aanbeveel, en die drie ure wat dit duur, glip heeltemal te gou verby.

Sakkie die seeleeu is ’n vriendelike kalant. Foto: Gerrie Janse van Vuuren
Smullekker oesters en ander happies op die katamaran. Foto: Gerrie Janse van Vuuren

Ry die duine-tuimeltrein

Gelukkig is die avontuur nog lank nie verby nie, en ná die water is dit tyd vir die duine. Ons gids, Ramon van der Merwe van Laramon Tours, verwelkom ons in sy 4x4, maar voor die woestyn stop ons eers by ’n strandmeer waar honderde flaminke pragtig pienk rondstaan.

Ons stop ook by ’n soutfabriek en Van der Merwe verduidelik die proses van sout uit seewater maak.

Die duine kom al hoe nader en skielik is ons in die woestyn toe ons by die Namib-Naukluft Nasionale Park inry. Dié park is sowat 48 000 m² en is die grootste park in Afrika. Die verlatenheid is treffend, en tog is daar oral lewe. Ons sien ’n eensame springbok, en toe ons stop en uitklim, grawe Van der Merwe ’n pragtige Namibiese sand-gekko (Palmato gecko) uit die sand en die diertjie sit ewe gedwee op sy handpalm dat ons hom kan bekyk.

Die kennismaking met dié palmato-gekko was ’n hoogtepunt van die duine-avontuur.

Langs die strand vlieg kormorante verskrik op en ons skrik self toe ons uitklim en Van der Merwe vir ons die menslike geraamtes wat sommer net daar lê wys. Dit is glo ’n begraafplek van die Topnaar-mense wat in ’n storm oopgewaai het, en die beendere is honderde jare oud . . .

Van der Merwe ry soos ’n wafferse cowboy met ons op en af teen die duine, en dit is duidelik dat hy hiér baie tuis voel en presies weet wat hy doen. Ons klou vir al wat ons werd is – dit is lekkerder as enige tuimeltrein. Die kontras tussen die ryk goudbruin van die duine en die ysige diepblou van die see sal my altyd bybly.

Ons stop by Sandwich Harbour en Van der Merwe pak peuselhappies en drinkgoed uit, en dan is dit tyd om die terugtog aan te pak.

Aandete die aand is in The Strand se Ocean Cellar-restaurant waar ons smul aan onder meer heerlike soesji, vars oesters, salm en mossels.

Ná so ’n propvol dag roep die kooi hard, en ons is net jammer dat dit ons laaste aand in die beeldskone Swakopmund is. Maar die see en die duine sal ons beslis weer sien . . .

  • Janse van Vuuren het as gas van O&L Leisure Namibië besoek. Besoek www.strandhotelswakopmund.com.
  • Vir meer inligting oor Laramon Tours, besoek www.laramontours.com. ’n Voldag ekskursie soos die een wat ons gedoen het, kos N$2 300 per volwassene en N$1 800 per kind onder 12 (N$1 300 as die kind onder vyf is). Dit sluit eet- en drinkgoed in.
Die kontras tussen sand en see is iets wat ’n mens altyd sal onthou. Foto: Gerrie Janse van Vuuren

Meer oor:  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.