Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Clanwilliam: geskiedkundige trots
Dit is ’n groot jaar vir Clanwilliam. Die dorp is 200 jaar oud, die Blomkerk 150 en die veldblomskou 52. Boonop vir Strassbergers Veldskoen sy 180ste bestaansjaar sedert C. Louis Leipoldt se oupa, Johann Gottlieb, die fabriek in 1834 begin het.
Die ou Rectory (pastorie), wat vandag ’n gastehuis en een van die sewe nasionale gedenkwaardighede op die dorp is.
Otto Marais in die museum wat in die ou tronk gehuisves word.
’n Borsbeeld van Tolla van der Merwe in die museum, waar ’n hele kamer aan hom gewy is.
Die skrywer C. Louis Leipoldt se bronsbeeld staan voor die biblioteek wat na hom en sy vriend Pieter Lefras Nortier genoem is.
Die Blomkerk, waar die veldblomskou elke jaar gehou word. Foto’s: Clifford Roberts
Die toergids Stephnie Murray het die dorp se 200-jarige geskiedenis aan ons vertel.
Die ou Anglikaanse kerk.
Die trekker buite die padstal in Clanwilliam.
’n Historiese dorsmasjien wat in sy geheel per skip van Engeland ingevoer is.
Die museum in Clanwilliam wat in die ou tronk gehuisves word.

In die Cerderbergse dorp Clanwilliam is vanjaar baie te vier.

Dit is ook rooiboswêreld dié. Benjamin Ginsberg het die tee 110 jaar gelede begin uitvoer. Nou word dit al 85 jaar kommersieel aangeplant.

Clanwilliam was ook die tuisdorp van wyle Tolla van der Merwe, die bekende grapjas, wat vanjaar op 21 Augustus 71 jaar oud sou gewees het.

Rooibos se tuiste

Om al hierdie mylpale te vier gaan soek ons die stories op die dorp. Waar die pad teen die Piekenierskloofpas uitkronkel, is die veld oortrek met veldblomme.

Ons hou deur die dorp na die fabriek van Rooibos Beperk, waar die stigting van die Rooibosteeraad 60 jaar gelede gevier word. Dit was die tweede landbouraad wat op 1 September 1993 geprivatiseer is.

Rooibos lyk soos fynbos in die veld en word met ’n sekel in die hand geoes. Daarna móét dit in die warm son droogbak. Heuningbos, die ander unieke Suid-Afrikaanse bossie wat ook gewild by teedrinkers is, kom eksklusief in die Langkloof voor. Baie vervaardigers vermeng die twee bossies as alternatief.

Handgemaakte skoene

Strassbergers Veldskoen hier is een van die land se oudste skoenfabrieke. Hennie du Plessis en sy seun, JJ, vertel hul werkers is eerder soos familie as soos personeel.

JJ lag as hy sy begindae daar onthou. “Ek kom toe slim geleer by my pa aan en verwag my eie kantoor. My pa het my egter in die fabriek laat werk. Dit het my agt maande gekos om elke masjien te leer gebruik en te bemeester voordat ek na die volgende een kon aanskuif. Toe ek daar klaar is, gee hy my ’n groot tas vol skoene en sê ek moet die skoene gaan verkoop. ‘Eers as jy aan die ander kant van die draad gestaan het, sal jy weet hoe om verkoopsverteenwoordigers te behandel,’ was sy woorde.”

Ene Gert (Speen) Smit, wat skoene hier gekoop het, het glo ná 23 jaar ingekom, sy skoene uitgetrek en gesê hy is nou al so moeg vir hulle, maar kry hulle nie opgedra nie! Hulle het dit weggeneem en vir hom ’n nuwe paar gee.

Nie net nóg ’n museum

Die volgende dag ontmoet ons Otto Marais, ons toerleier, by die museum. In die voorste ­kamer is ’n uitstalling van C. Louis Leipoldt, wat ’n paar jaar hier gewoon het.

Die biblioteek op die dorp is na Leipoldt én sy vriend Pieter Lefras Nortier genoem. Nortier was ’n dokter op die dorp, en hy en Leipoldt het graag in die berge gaan stap. Jy kan juis Leipoldt se graf by een van hul gunsteling-kuierplekke buite die dorp besoek.

Leipoldt se oupa Johann Gott­lieb Leipoldt, ’n sendeling van Duitsland, het Wuppertal hier naby begin, en sy nering was ook dié van skoenmaker. Die skoenfabriek is destyds daar deur hom begin met die stigting van die Wuppertal Instituut 1830, wat later Strassbergers geword het.

Ou foto’s van historiese geboutjies wat verbou, gesloop of behoue gebly het, versier ’n muur. Ons sien ook die vroueselle en die perdemeul in ’n buitegebou, en ons leer meer van die lewe op die dorp. Die roomysmaker van 1923 is verbasend gevorderd, en die perdestang wat medisyne in die perd se bek laat drup, is vindingryk vir 100 jaar gelede.

Toergids op die dorp

Sondagoggend, ná ’n plaasontbyt in die Saint du Barrys Country Lodge, ontmoet ons die toergids Stephnie Murray voor die museum. Sy vertel hoe die vroeë boere van die Kaap die binneland begin verken het deur met ossewaens oor die Piekenierskloofpas te trek. Dan het hulle die waens daar uitmekaargehaal, die stukke begrawe en die onherbergsame gebied verder te perd verken. Simon van der Stel was onder die eerste pioniers. Hulle het tot by Springbok gaan ondersoek instel en later koper daar ontgin.

Die sub-drosdy is in 1808 op Jan Dissels Valleij – toe reeds ’n gemeenskappie van ’n paar plase – gestig.

Sir John Cradock, die goewerneur, het besluit die naam Jan Dissels Valleij moet van 21 Januarie 1814 na Clanwilliam verander word. Dit was ter ere van sy skoonpa, Robert Mead, die graaf van Clanwilliam.

Veediefstal deur die plaaslike San-mense was ’n groot probleem, veral omdat die naaste landdroskantoor in Stellenbosch was. Later het Tulbagh bygekom, en 1808 is ’n sub-landdrosstreek gestig; vandaar die datum 1808 op die ou tronk, wat vandag die museum is.

Stephnie wys ons die dorp se sewe nasionale gedenkwaardighede: die ou tronk, die eerste landdroskantoor, die woonhuis waarin die sekretaris en ander personeel van die landdroskantoor gewoon het, die Blomkerk, die Anglikaanse kerk, die Rectory-gastehuis en die Setlaarshuis.

Die eerste meisie wat matriek in die Kaapkolonie geskryf het, ’n Ierse setlaar, het dit in die Rectory (pastorie) afgelê en met lof geslaag.

Sy wys ons die huis waar Leipoldt van sy vierde verjaardag gewoon het. Dit is nie tot gedenkwaardigheid verklaar nie.

Die Blomkerk is in 1864 gebou en het later te klein geword vir die groeiende gemeente. Die argitek Carl Otto Hager is genader om die kerk “met so min geld as moontlik” te vergroot. Die kerk dra vandag nog die bynaam “Korrespondensie-kerk” omdat Hager nie geld gehad het om die kerk te besoek nie en die gemeente nog minder om hóm te besoek. Die bouprojek is per brief afgehandel.

In 1964 is ’n nuwe NG kerk gebou, en die ou kerk word nou vir die jaarlikse veldblomskou gebruik.

Die pastorie van die Anglikaanse kerk wat rondom 1830 gebou is, is in ’n gastehuis verander.

Ons stop by die Leipoldt-Nortier-biblioteek, waar dié mans se bronsbeelde pryk.

“Toe Nortier gesterf het, het hy 1 000 pond agtergelaat. Sy voorwaarde was dat die biblioteek binne twee jaar ná sy dood gebou moes word en dat die res van die geld deur die dorp ingesamel word.

“Langs die biblioteek praktiseer Nortier se agterkleinseun Jas Strauss nou as dokter.”

Sy wys ons Criterion-gebou, wat in 1820 aan John Foster behoort het. Dit is in die Barok-styl. Ons gaan kyk ook na die Kunshuis, wat aan Stephanie Stone behoort en voorheen ’n losieshuis vir meisies was.

In die Anglikaanse kerk se tuin staan 23 silwerkruise, almal ter nagedagtenis aan Britse soldate wat in die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) in die distrik gesneuwel het.

Die kerk se klok is gegiet deur dieselfde mense as dié wat die Big Ben in Londen gemaak het.

Die kerk se hoofingang is nie aan die hoofstraat se kant nie, want daar is geglo dat die altaar aan die oostekant moet wees, daar waar die son opkom, waar die lig en die Woord vandaan kom.

Binne heers ’n gewyde stilte, en die kerk ruik na wierook.

“Die kerkie is vir 70 mense gebou, en daar is vandag vier eikehoutbanke en die res van sederhout. Nie lank nie, toe word die kerk te klein en moes aangebou word. Vandag is die naaf die ou kerkie, maar min mense weet dit,” vertel Stephnie.

’n Heerlike geskiedkundige besoek aan ’n spesiale dorp kom tot ’n einde. So tussen die veldblomfoto’s langs die pad deur besluit ek stilletjies om binnekort terug te kom.

Goed om te weet

 Bespreek jou geskiedkundige staptoer saam met Stephnie by pens@telkomsa.net, of bel haar by 084 870 0001.

■ Vir meer inligting oor die dorp en sy vieringe, bel Esther Steen van die toerismekantoor by 027 482 2024, of besoek ​www.clanwilliam.info.

 Volg die Rooibosroete vir ’n oornagervaring of ’n tweedagreis. Daar is onder meer geskiedkundige besienswaardighede, restaurante, teedrinkplekke en verblyf langs die pad. Besoek ​www.rooibos-route.co.za vir nader besonderhede, of bel Sanet of Marietjie by 027 482 1007.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.