Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Daar is net een plek soos Malta
Hoekom is Malta so ’n relatief onbekende toerismebestemming, wonder dié toeris ná ’n week lange besoek propvol asemrowende ontdekkings.

Nêrens elders op aarde kry jy ’n gebied vergelykbaar met die grootte van Malta wat oor soveel en so ’n groot verskeidenheid antieke oorblyfsels beskik en so goed met die moderne wêreld verweef is nie.”

Een van die talle kerke op Gozo. Daar is meer as 360 kerke op Malta. Foto: iSTOCK

Nogal breedsprakig, sou ’n mens kon sê as jy dié paragraaf in ’n toeristebrosjure van Malta lees.

Maar ná net ’n week daar is ek ’n skaamtelose ambassadeur vir Malta, en daardie brosjureskrywer is in die kol.

Dié plek het ’n ouwêreldse sjarme wat my met sy geskiedenis-, kultuur- en kunsskatte oorrompel het. Ek moet erken, voorheen was my enigste kennis van Malta die melding daarvan in die Bybel as die plek waar die apostel Paulus as ’n skipbreukeling beland het (Handelinge 27 en 28).

Ons aankoms op die besige lughawe in Valletta, Malta se hoofstad, het met die gewone rompslomp-roetine verloop. Toe ek en my vrou met ons bagasie aan die onderpunt van die roltrap kom, het ’n vriendelike vrou met ’n “Malta Transfer”-kaartjie ons voorgekeer.

Een van die tipiese nou straatjies van Valletta met ’n indrukwekkende koepel. Foto’s: Constant Steyn

’n Halfuur en €7 elk later was ons met Malta Transfer se bussie op pad na ons hotel in Sliema, Valletta se buurstad, ongeveer ’n halfuur se ry verder.

My eerste indrukke? Dié mense ry soos ons aan die “regte” kant (danksy hul Britse koloniale verlede) en almal praat Engels.

En die eiland is toe nie so droog soos ek gehoor het nie. Later het ek verneem dit was omdat Malta ’n buitengewoon goeie reënseisoen gehad het.

Ons het dadelik tuis gevoel toe ons die eerste aand, moeg ná die lang vlug via Dubai en Larnaca (Ciprus), ’n eetplek naby ons hotel gaan soek en met rugby op die groot skerm “verwelkom” is. (Ja, sowaar: die sesnasies-toets tussen Engeland en Skotland!)

Eers ’n bietjie oriëntering: Die eilandgroep lê 93 km suid van Sisilië en 288 km oos van Tunisië. Dit bestaan hoofsaaklik uit drie eilande – die hoofeiland Malta, soms Valletta genoem om verwarring uit te skakel omdat die land se naam ook Malta is, Gozo en Comino. Daar is ook ’n hele paar kleiner eilandjies. Comino lê tussen die twee hoofeilande, naaste aan Gozo. Die eiland Manoel lê in die hawe Marsamxett tussen Valletta en Sliema en is skaars ’n paar rugbyvelde groot.

Laasgenoemde was by ons besoek weens restourasiewerk nie vir toeriste toeganklik nie.

Ontdekkingsreis

Ons het gou ontdek Malta beskik oor ’n uitstekende openbare busvervoerstelsel. Met die naaste bushalte slegs sowat 100 m van ons hotel en teen €1,50 per persoon per dagkaartjie kon ons Malta letterlik platry. Die alomteenwoordige Hop On Hop Off-busdiens is ook beskikbaar, asook Malta se eie weergawe daarvan, Malta Sightseeing, maar as jy ’n paar dae tyd het, en self die omgewing wil verken, is die openbare busse aan te beveel.

As jy op die veerboot van Valletta na Sliema vaar en jy kyk terug, is dié uitsig op Valletta jou beloning. Let op die indrukwekkende stadsmuur.
Dié pragtige prentjie begroet jou as jy met die veerboot die Mgarr-hawe in Gozo nader.
Die reuse-kalksteenstawe van die Mnajdra-tempelgroep pas ná eeue steeds volmaak in en op mekaar. Die “jongste” van dié tempels op Malta dateer uit ongeveer 3000 v.C.
Geen foto laat werklik reg geskied aan die interieur van die St. John-katedraal in Valletta nie. Dié foto gee darem min of meer ’n idee van die verstommende Barokkuns.
Haasvleis in verskeie variasies is ’n algemene lekkerny. Die Maltese huiwer ook nie om perdevleis-geregte te adverteer nie . . .
Links is ’n deel van die Ggantija-tempels (3600 v.C) en regs op die agtergrond die nuwer Xewkija-katedraal (1952).
’n Onverwagse bonus: Ná ons besoek aan die Ggantija-tempels op Gozo, het ons dié groep Maltese vroue al dansend in hul nasionale drag aangetref.
Die Azure Window op Gozo. Ondanks waarskuwings dat dit lewensgevaarlik is, waag talle toeriste dit oor die rotsboog.
As jy my vra wat ek die langste sal onthou, sal ek sê die stokou kalksteen-geboue en stadsmure wat oral so ongelooflik behoue gebly het.

Ons het daagliks Valletta toe gery – my vrou om ’n konferensie by te woon (die eintlike doel van ons besoek daar) en ek om straatkaart in die hand die klein hoofstadjie met sy nou straatjies, voortreflike voorbeelde van Barok-argitektuur en interessante winkeltjies te voet te leer ken.

Die hoofstraat, Republic Street, is ’n wandellaan met net af en toe ’n afleweringswa wat baie geduldig tussen die toeriste deurluier. Die smal systraatjies – te wagte in so ’n ou stad – is wel vir motorvoertuie toeganklik, maar kan net ’n enkel ry voertuie op ’n slag hanteer.

Van geduld gepraat: die Maltese is ’n voorbeeld vir ons padvarkerige Suid-Afrikaners. Nêrens sien jy ’n motorbestuurder wat alles voor hom wil platvee om sy bestemming te bereik nie. Elkeen wag geduldig, en as dit nie anders kan nie, is die trurat sonder aarseling die oplossing om jou medebestuurder ’n kans te gee.

’n Fees van Barokkuns

Een van die hoogtepunte in Valletta was ’n besoek aan die St. John-katedraal wat met sy eenvoudige vooraansig glad nie sy verstommende Barokkuns-interieur verklap nie. Die kerk is in 1577 onder leiding van die militêre ingenieur en argitek Girolamo Cassar voltooi. Byna ’n eeu later het die Italiaanse kunstenaar Mattia Preti die sobere binnekant omskep in een van die beste en betowerendste voorbeelde van die Barokkuns ter wêreld.

Nog ’n moet in Valletta is die nasionale kunsmuseum waar nog manjifieke kunswerke van Preti en talle ander kunstenaars gesien kan word. ’n Mens staan oorbluf as jy na ’n skildery van Valletta, View of Grand Harbour, deur Louis Ducros (1748-1810) kyk en besef die stadsmuur en van die geboue op daardie doek lyk vandag feitlik nog net so.

Onvergeetlike besoekpunte

As jy my vra wat ek die langste sal onthou, sal ek sê die stokou kalksteengeboue en stadsmure wat oral so ongelooflik behoue gebly het. Malta is een groot stuk kalkklip, het ’n boer, Joseph Muscat, ons vertel. Op besoek aan sy boerdery het hy ons sy wynkelder gewys – letterlik ’n ou waterput wat in die kalksteen uitgegrawe is.

Die pragtige Valletta, die hoofstad van Malta, in die oggendlig. Foto: iSTOCK

Maar die antieke tempels is ook hoog op my lys van onvergeetlike besoekpunte. Op Gozo is die Ggantija-tempels – van die oudste vrystaande boustrukture op aarde. Die kompleks bestaan uit twee tempels êrens uit die jare 3600 tot 3000 v.C. Volgens sommige bronne is dit tot 1 000 jaar ouer as Stonehenge!

Aan die suidkus van die hoofeiland is Mnajdra, vir my die indrukwekkendste tempelgroep, hoewel ietwat bederf deur reusagtige tentstrukture bo-oor om verwering teen te werk.

Die oudste tempel uit hierdie groep kom ook uit die Ggantija-tydperk en die “jongste” toevoegings dateer kort ná 3000 v.C. Reuse-kalksteenstawe wat volmaak op en in mekaar pas, slaan jou asem weg.

Soos in die Middeleeue

Mdina, vir my die mooiste stad op die hoofeiland, is die oudste stad op Malta. Die stad is in die Middeleeue ommuur, maar het waarskynlik so merkwaardig behoue gebly danksy sy hoë ligging op ’n rotsagtige heuwel. Van ver af lyk die stadjie op die heuwel soos ’n reusagtige fort. ’n Staptog deur sy nou straatjies kan jou met min verbeelding tot in die Middeleeue verplaas.

Nog ’n hoogtepunt was ons dagbesoek per veerboot aan die eiland Gozo. Van die 20 minute lange vaart van Cirkewwa op die hoofeiland na die Mgarr-hawe op Gozo is dit die byna bonatuurlike blou kleur van die see wat ’n mens bybly.

Op dié eiland is Dwejra ’n onvergeetlike besoekpunt waar die Azure Window waarskynlik die aanskoulikste natuurverskynsel van die hele eilandgroep is.

Wind-erosie en seegolwe het hier ’n natuurlike rotsboog in en oor die see geskep wat soos ’n tafel in die diepblou seewater hang. Erosie sal uiteindelik die oorhand kry en die boog sal instort. Waaghalsige toeriste (wat my uitsluit) steur hulle egter nie aan die waarskuwings nie en loop graag oor die boog.

’n Onvergeetlike uitsig

’n Hoogtepunt – letterlik en figuurlik – op Gozo is ’n besoek aan die Cittadella, wat soos Mdina op die hoofeiland ’n Middeleeuse ommuurde stad is wat bo die omgewing uittroon. Ons het tot heelbo geklim en is met ’n onvergeetlike uitsig beloon.

En ’n laagtepunt? Dat ons net een dag op Gozo kon deurbring!

En nog een? Dat ons ná ’n week nog nie als op Malta gesien het wat ons wou nie.

Ten slotte ’n wenk: Koop nóú jou vliegkaartjie en maak seker jy kuier minstens ’n week daar. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.