Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
1000 WOORDE
Die bittereinder-Boere van Patagonië
Ná die Anglo-Boereoorlog het ’n groepie Boere besluit om Suid-Afrika vir Argentinië te verruil. Die rolprentmaker Richard Finn Gregory praat oor sy kortfliek The Last Boers of Patagonia, wat volgende jaar ’n vollengte-dokumentêr word.
Thenis ’Ty’ Dickason maak ’n grappie met sy suster Catalina ‘Kik’ Dickason in Sarmiento waarheen die Boere destyds uitgewyk het op soek na water.

Tussen 1902 en 1908 het 600 Afrikaanse Boerefamilies na Argentinië vertrek. Hoeveel mense praat nog Afrikaans in dié streek?

Niemand weet presies nie, want die gemeenskap het oor die jare meer gefragmenteerd geword. Ek het een skatting gehoor dat so min as tien mense nog werklik vlot praat, maar dis dalk effe pessimisties. Die meeste mense raai daar’s tussen 50 en 200 mense wat die taal redelik goed bemeester.

Waar woon hulle?

Die meeste Afrikaners woon rondom twee sentrums in Patagonië – hul eerste nedersetting, Comodoro Rivadavia aan die kus, en Sarmiento in die binneland waarheen die Boere getrek het op soek na water. Dis sowat ’n twee en ’n halfuur lange vlug (suid) vanaf Buenos Aires tot by Comodoro Rivadavia. Van daar is dit nóg twee uur per huur­motor na Sarmiento. Comodoro is waar die Boere olie raakgeboor het terwyl hulle in 1907 op soek was na water, en toe word dit ’n groot olieproduserende stad. Sarmiento is veel kleiner – met sowat 8 000 inwoners – en is soortgelyk aan ’n Karoo­dorpie.

Was dit aanvanklik moeilik om met hulle kontak te maak?

Dit het sowat ses maande (met tussenposes) geneem om te probeer kontak maak met mense wat nog Afrikaans praat. Ek het uitgevind nie baie mense gebruik Afrikaans steeds as ’n skryftaal nie. Hulle skryf in Spaans, en gesels onder mekaar in Afrikaans, wat verklaar hoekom ek nie ver gekom het met aanlyn boodskappe in Afrikaans nie. Toe ek eers Facebook-kontak gemaak het met van die jongeres, het kommunikasie heelwat beter gevlot.

In The Last Boers of Patagonia is daar ’n varkie wat skynbaar net Afrikaans verstaan en ’n meisie met ’n tatoeëring van ’n protea. Wat was die mees verrassende dinge waarop jy afgekom het in Sarmiento?

Ek het kultuur- en taalhindernisse verwag omdat hulle al só lank in Argentinië is. Die oomblik toe ons egter begin Afrikaans praat, het ons mekaar perfek verstaan. Ons het ure aaneen gesels en grappies gemaak – maar in ’n landskap wat heeltemal Argentyns gelyk het. Dit was nogal onrusbarend om in Argentinië te wees, maar te praat asof ons in die Karoo sit.

Is dit net die ouer mense wat nog Afrikaans praat – of het hul kinders darem hier en daar ’n woordjie baasgeraak?

Net ’n paar van die kinders het ’n paar woorde of sinne opgetel. Byna almal wat ek ontmoet het wat vlot kon praat, was ouer as 60.

Ek hoor selfs ’n tannie van die hartpionier Chris Barnard het in Patagonië gewoon.

Skynbaar wel! Ek het foto’s en verskeie dagboeke gesien wat sy oor baie jare geskryf het. Mense sal verbaas wees om te hoor hoeveel Afrikaanse families nageslagte in Patagonië het. Ek het met vanne soos Botha, Van der Merwe, Kruger, Visser, Venter en Myburgh te doene gekry.

Daar’s vrese dat Afrikaans binne die volgende tien jaar sal uitsterf in Patagonië. Jou mening?

Ja, dit het reeds in ander gemeenskappe gebeur, soos in Mexiko. Maar in Patagonië is daar só ’n liefde vir die Afrikaanse taal en kultuur dat ek werklik hoop hulle kan ’n manier vind om die taal te behou. Dit sal wel beteken hulle moet onderwysers vind om ’n hele nuwe generasie Afrikaans­sprekendes te onderrig – en dít sal geen geringe prestasie wees nie.

Was enige van hierdie bittereinder-Boere al in Suid-Afrika, en volg hulle die nuus in dié land?

Ja, ’n paar lede van die Boere­gemeenskap in Comodoro Rivadavia het die land al besoek. Hulle het vir my foto’s en gedenkboekies gewys en my vertel hoe hulle dit hier geniet het. Die meeste volg nie die nuus nie omdat hulle Afrikaans nie eintlik as skryftaal ken en gebruik nie. Hulle is egter baie nuuskierig oor die lewe hier.

Maak hulle nog biltong van llamavleis (dis ’n kameelagtige skaap) en drink hulle nog brandewyn en Coke?

Ek het van die ouens ontmoet wat op skaapplase woon wat biltong maak van guanacovleis – ’n soort klein (wilde) llama. Ek het dit nog nie geproe nie, maar ek hoor dis heerlik.

Brandewyn en Coke is nie so gewild nie – die Patagoniërs hou meer van Fernet Branca en ­Coke. Hulle hou wel van Amarula, en dit word daar in drankwinkels verkoop.

Bruce Chatwin het in sy reisverhaal In Patagonia (1977) die Boere as volg beskryf: “They lived in ­fear of the Lord, celebrated Din-gaan’s Day and took oaths on the Dutch Reformed Bible. They did not marry outsiders and their daughters had to go to the kitchen if a Latin entered the ­house.” Hou dit nog steek?

Nee. Die gemeenskap is vandag deel van die hedendaagse Argentynse samelewing. Ek het gehoor destyds was daar ondertrouery, waarskynlik om godsdienstige redes (die meeste Argentyne is katoliek terwyl die Boere protestants is). Chatwin het geskryf die Boere in Pata­gonië is ’n onvriendelike spulletjie, maar in my ervaring is presies die teenoorgestelde waar.

Het jy in daardie afgeleë plek ’n dieper insig gekry in wat dit beteken om ’n Suid-Afrikaner te wees?

Beslis. Die een ding wat ek oor myself geleer het, is dat daar ’n baie groter Afrikaanse invloed op my Suid-Afrikaanse identiteit is as wat ek ooit vantevore gedink het. Skielik was ek dankbaar dat ek 12 jaar lank Afrikaans geleer het, en ek het die digterlikheid en skoonheid van die taal waardeer.

Ek het ook gevind dat ek heeltemal op my gemak was met die Afrikaanse kultuur wat ek daar teengekom het. Dit het my laat besef in Suid-Afrika is ons dalk te gepla met die verskille tussen Engels en Afrikaans en Xhosa en Zoeloe en al die ander tale. Ons het saam grootgeword en mekaar dus beïnvloed en dit was wonderlik om dit te kon op prys stel.

Wanneer word die vollengte-dokumentêr Boere op die Aardsdrempel (of in Engels The Boers at the End of the World) uitgereik?

Hopelik teen middel volgende jaar. Ons is nou nog op soek na befondsing en geskikte vennote. Ons kan gekontak word by ​hello@goodworkpictures.com.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.