Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kalahari se juweel
Diep, diep, doer ver in die Kalahari lê een van Suid-Afrika se grootste juwele: die Kgalagadi.
Daar is min dinge so mooi soos die son wat oor die rooi duine van die Kalahari opkom. Van jou chalet se stoep wat uitkyk oor die Botswana-grens is hierdie prentjie een wat heerlik afgaan saam met vars boeretroos. Foto’s: Anena Burger

Dis Boesman-wêreld, dis grootwild-wêreld, dis ’n wêreld van uitgestrekte vlaktes en duine so rooi soos die sakkende son wat steeds ná millennia sy inwoners en gaste na hul asems laat snak.

Dis hier waar die woorde van die bekende ou liedjie “Born Free” by jou opkom as jy op die stoep van die Kgalagadi Lodge uitkyk oor die vlaktes van ­Bo­t­swana wat uitgestrek voor jou lê. Dit is nét hier, met ’n heerlike glasie wyn en jou voete opgetrek en uitgestrek voor jou wat die woorde, “Born free and life is worth living, but only worth living, ’cause you’re born free”, werklik tot hul reg kom.

Die Kgalagadi Lodge is ’n oase vir kuiergaste wat deur die jaar die bekende Nasionale Kgalagadi-oorgrenspark kom besoek.

Nie net spog die lodge met 28 chalets wat vir enige besoeker se behoeftes voorsiening maak nie, daar is ook 19 kampeerplekke, elk met sy eie ablusiegeriewe, vir diegene wat eerder nader aan die natuur wil wees.

Vir daardie warm somersdae is daar 'n heerlike swembad by die restaurant van die Kgalagadi Lodge waar gaste kan afkoel.
Ontspan in styl by die Kgalagadi Lodge terwyl ’n vleisbraaivuur brand.
Bo-op die rooi duine staan die pragtige chalets van die Kgalagadi Lodge en uitkyk oor die Kalahari. Van hierdie stoepe af kan gaste ver tuur oor die vlaktes van die Kalahari terwyl daar ’n lekker tjoppie op die kole braai.
Vir diegene met ’n groter aptyt is daar hamburgers wat enige honger sal stil.
In die ruim en gesellige restaurant van die Kgalagadi Lodge kan van heerlike wildsgeregte tot reuse-hamburgers geniet word.

Daar is ook ’n winkel met al die benodigdhede waarvoor ’n besoeker aan dié wêreld kan vra en ’n spoggerige restaurant wat heerlike geregte uit die omgewing bedien.

Die lodge is in 2012 deur SJ en Denise Koortzen, boorlinge van die Kalahari, begin.

Met bloed, trane en baie sweet het SJ en Denise hierdie droom om ’n familie-uitspanplek te begin, aangepak en dit bewaarheid.

Oor die park

Die Nasionale Kgalagadi-oorgrenspark het ná die samevoeging van die Nasionale Kalahari-gemsbokpark in Suid-Afrika en die Nasionale Gemsbokpark in Botswana ontstaan. Met ’n oppervlakte van meer as 3,6 miljoen hektaar is dit een van baie min oorblywende wildernisgedeeltes van hierdie grootte in die wêreld.

 Die paaie in die Kgalagadi-oorgrenspark is nie oral ewe toeganklik vir sedanvoertuie nie. Hoewel die paaie maandeliks in stand gehou word, word daar aanbeveel dat voertuie wat een van die viertrekroetes neem, ’n grondvryhoogte van 190 mm moet hê.

 Besoekers wat die park by ’n ander uitgang wil verlaat as waar hulle ingekom het, moet deur die grenspos by Twee Rivieren gaan en ’n verblyf van twee nagte is verpligtend.

SJ vertel met ’n groot glimlag van lekker-onthou hoe hulle as kinders elke Sondag by die Molopo Lodge uitgespan het.

Dit was in daardie jare nog in sy oupa se besit en smiddae is ’n lang tafel gedek vir die Sondag­ete.

“My oupa het altyd ’n spierwit safaripak gedra en die ou boksradiotjie het op die agtergrond gespeel,” vertel hy.

“Dit is daardie atmosfeer en gevoel wat ek weer hier vir besoekers aan die Kalahari wou kom skep.

“Daardie gevoel om te behoort en deel te wees van hierdie gasvrye wêreld.”

Die Koortzens het beslis in hul doel geslaag, want by hierdie lodge voel ’n mens sommer heel tuis.

Die lodge is 5 km van die Kgalagadi-oorgrenspark geleë en dit is vir besoekers aan die park gerieflik om hier te bly en bedags die park te besoek.

Die Kgalagadi Lodge is sowat 250 km van Upington.

’n Ou Boesman-legende lui dat as jy eers een keer die Kalahari-sand tussen jou tone gevoel het, jy altyd weer sal terugkom. Sprinkel die rooi sand mildelik oor jou tone en kyk self wat gebeur . . .

■ Vir verdere navrae besoek die webwerf by kgalagadi-lodge. co.za of kontak SJ en Denise Koortzen by 082 303 8768 of
083 225 0331.

Anena Burger het die Kgalagadi Lodge op uitnodiging besoek.

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.