Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Kom rock in Stormsrivier
Elvis, Marilyn en Fiela Komoetie nog springlewend in die Grootvoet-bos.
Elvis Diner naby Stormsrivier.
Om elke hoekie en draaitjie vind jy iets uit die rock-geskiedenis.
Raak nostalgies oor toentertyd.
Rohan Smit verbeel hom hy is Elvis op vanjaar se Elvis-fees.

Met die reusagtige geelhoutbome, die golwende branders en die gekwetter van voëls verwag ’n mens om Saul Barnard en ’n Grootvoet van Kringe in ’n bos-faam in die mosbegroeide woud en tussen die massiewe boomvarings van Tsitsikamma raak te loop.

Wat ek nié verwag het nie, was Elvis en Marilyn  . . . Dis nou Presley en Monroe.

Dit was ’n welkome ontmoeting.

’n Mens tref Marilyn’s, ’n vrolike, kleurvolle eetplek met swart-en-wit blokkiesvloere en kompleet met ’n pienk Cadillac in die middel van die vertrek, in die hartjie van die dorpie Stormsrivier in die Tsitsikamma aan.

Trek maar jou blue suede shoes aan, sit jou sonbril op en smeer ’n bietjie olie aan jou kuif, want hier gaan jy beslis ’n paar treë terugstap na die 1950’s en jou verbeel jy sit iewers in Las ­Vegas terwyl jy teug aan jou pienk dubbeldikmelkskommel.

Stormsrivier is ’n klein gemeenskappie wat hoofsaaklik op toerisme fokus.

Die dorpie bestaan net uit die pragtige plaaslike hotel, die ­Tsitsikamma Village Inn (wat beslis ’n besoek werd is), gastehuise, ’n internetkafee en ’n toerismekantoor, waar jy allerlei aktiwiteite kan bespreek – ­Canopy Tours, ’n bosbouertoer, perdritte en vele ander.

Marilyn’s is ’n bekende uithangplek in die dorp en dit is veral oor naweke dat dit hier gons.

Dit het voorheen aan die veteraanmotor-versamelaars Jan en Ann du Randt behoort

Dit was húl idee om die restaurant oop te maak waar hulle sommer terselfdertyd hul veteraanmotors en allerhande Elvis- en Marilyn Monroe-memorabilia kon uitstal.

Jan het intussen die plek aan Chris Sykes en Irma de Villiers verkoop.

Baie van sy ou voertuie is nie meer daar nie.

Besoekers kan steeds op die paadjie van nostalgie terugloop terwyl Marilyn in haar verleidelike stem vir John F. Kennedy “Happy Birthday” oor die luidsprekers sing.

Benewens die Ford en die Dodge Lancer is hier ook ’n paar ou motorfietse wat die motorfietsmense opgewonde sal maak.

Kiek ’n prentjie van jouself

Marilyn’s is ’n paradys vir sel­fies en foto’s en selfs al haat jy ’n kamera of selfportret, raak ’n mens vinnig meegevoer deur al die pruike, klere en kitare waarmee jy jou in die rol van ’n Hollywood-karakter kan inleef.

En as jy klaar jou Hollywood-foto as jou Facebook-profielfoto opgelaai het, kan jy gerus gaan aansit vir iets te ete.

Die Marilyn’s-biefburger is allemintig, met nie minder nie as drie burgerfrikkadelle (patties). Vir R130 kan jy maar weet jy gaan nie honger daar weg nie.

’n Gewone kaasburger met ordentlike skyfies sal jou so R49 uit die sak jaag.

In die wintermaande het hulle ook sop en kerrie op die spyskaart, maar ek sou sê die burgers bly die ding. Die dubbeldikmelkskommel kos R26.

As jy in Mei daar kuier, moet jy nie verbaas wees as jy Elvis in lewende lywe raakloop nie, want elke jaar dié tyd vind die Elvis-fees in die dorpie plaas, en dan kom al wat Elvis- en Marilyn-nabootser is hul talent wys.

En jy kan maar weet, Fiela en Benjamin Komoetie is self besig om daar iewers tussen die massiewe bome te rock ’n roll.

STAP IN DIE TSITSIKAMMA

Daar is verskeie staproetes in die Tsitsikamma.

Van die bekendste is die Otterwandelpad, wat in 1968 Suid-Afrika se eerste amptelike voetslaanroete geword het. Die Otter strek oor 42,5 km en dit neem vyf dae om te voltooi. Die roete wissel van seevlak tot ’n hoogte van 150 m.

Plaatbos bestaan uit vier roetes van 1 km tot 8 km deur die bos; Goesa is ’n gemaklike 2 km en Stinkhoutkloof strek oor 38 km. Waterpunte en piekniekplekke is beskikbaar, maar dit is wys om ook self voorsiening te maak.

Daar is heerlike koel poele waarin ’n mens kan swem.

’n Permit is nodig vir toegang tot die wandelpaaie wat ’n mens by die begin van elke staproete kan bekom.

Buiten die groot getal gasteplase in die omgewing is Nature’s Valley en Stormsriviermond die enigste ruskampe in die Tsitsikamma Nasionale Park. Ten volle toegeruste hutte is in albei kampe beskikbaar met ’n daaglikse skoonmaakdiens en beddegoed, handdoeke en seep.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.