Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Parys vir verliefdes
Of dit romantiese strate soos Monti en Trastevere in Rome is, langs die kanale van Amsterdam of die kersiebloeisels in Kioto . . . Daar is nie ’n beter manier om ’n stad te leer ken as deur die oë van iemand wat daar woon nie. Veral as die stad van liefde, Parys, jou met genoeg romanse opgesaal het om ’n boek daaroor te skryf.
Lily Heise, skrywer van die boek Je T'Aime, Me Neither, is ’n Kanadees wat die laaste paar jaar in Parys woon. Foto’s: Samarie Smith
Die romanse leef in so te sê elke Paryse straat – die rede waarom verdwaal so lekker is.
Alleenlopers kan ure by kafees in Parys vashaak X die ideale geleentheid om nuwe mense te ontmoet.
Onder: Romantiese pieknieks is aan die orde van die dag in Paryse parke.
Die bekende brug vir verliefdes, met die Notre Dame op die agtergrond, hang swaar onder die gewig van die liefde.
Die mooiste, rooiste vrugte is ideaal vir ’n romantiese piekniek.
April Lily Heise se liefdesverhale word op ’n speelse manier gedeel in Je ­T’Aime, Me Neither, met knaende SMS’e en e-posse van verliefde mans wat net die pap dikker wil aanmaak. “Dis alles ware verhale, al is dit in &rsqu
Sinne wat jy moet ken

■ Je t’aime: Ek het jou lief. Of sonder die persoon: J’aime le chocolat – Ek is lief vir sjokolade.

■ Tu me rends fou: Jy maak my mal! Of: Fou d’amour – dolverlief.

Le coup de foudre: Liefde met die eerste oogopslag.

■ C’est magnifique! Dis wonderlik! Dit kan gebruik word om enigiets van ’n plek of kos tot ’n persoon te beskryf.

Met ’n vinnige besoek aan die romantiese hart van Europa het ek ’n gids nodig gehad om my die mees romantiese hoekies uit te wys. Hoe dan beter as my vriendin se suster wat al meer as ’n dekade lank hier deur die stad aangegryp word en nou ’n boek oor haar liefdes­intriges uitgegee het?

“Ek is net so amoreus en vol pret soos die stad. Tog is ek nie ’n ware ‘Parisienne’ nie en my Kanadese naïwiteit kon dikwels nie teen die verleidelike krag van Parys opstaan nie, wat op baie romantiese teenspoed uitgeloop het,” skerts sy.

Lily Heise het “in die middel van nêrens” naby die dorpie Bancroft, drie uur noordoos van Toronto, Kanada, grootgeword.

“Ek was baie aan die lot van my verbeelding oorgelaat, wat my na verre lande en eksotiese plekke geneem het.”

Haar eerste fisieke reis was as uitruilstudent na Milaan, Italië.

Die klas se lentevakansie het ’n reis na Parys ingesluit.

“Dit was liefde met die eerste oogopslag. Maar al is Parys nou my huis, sal ek altyd ’n Kanadees in hart en siel bly.”

As derdejaarstudent was sy terug in Parys om ’n semester daar te voltooi.

“Dit was my eerste kans om die stad van nader te leer ken en ná my studies het ek as werkende persoon my pad weer teruggevind.”

Parys is beslis die wêreld se middelpunt van romanse, vertel sy, “al sny dié liefde met ’n tweesnydende swaard”.

“Daar heers ’n sterk, romantiese energie in Parys. Paartjies word meegevoer deur die romantiese aantrekkingskrag. En enkellopendes word maklik van hul voete af bekoor. Maar dan kan die liefdesborrel weer net so gebars word deur die stad se somtyds chaotiese natuur of ’n kortaf je ne t’aime pas: Ek is nie meer lief vir jou nie. Nét so!”

Toe besluit Lily om ’n boek oor haar mal liefdeslewe te skryf en dit met ander vroue te deel wat ook op soek is na die volmaakte liefde.

“Ons almal is soms in ’n romantiese dilemma toegespin en die meeste vroue sal hulle met een van die stories kan vereenselwig. Die boek is vermaaklik en vol humor sodat ons nie ons foute met verwyt moet onthou nie.”

Sy het die boek oor drie jaar geskryf en self uitgegee: Je ­T’Aime, Moi Non Plus (I love you, me neither), genoem na ’n liedjie deur die Franse musiekikoon Serge Gainsbourg, sinspeel op Franse romanse wat net so maklik gaan as wat dit kom.

“Daar is eenvoudig soveel maniere hoe ’n mens jou hier in romanse kan toevou. Kom ek gee jou ’n voorbeeld: Begin die oggend om jou chéri vir vars croissants of pain au chocolat na die plaaslike bakkery te stuur.

“Dan volg ’n besoek aan die Luxembourg-tuine. Hier kan jy sien hoe Parysenaars graag hul dag deurbring, pétanque speel of hand aan hand verby die beeldhouwerke drentel.

“Stap dan verby die Pantheon en deur die Latynse gebied se kronkelende agterstraatjies tot by Rue Mouffetard. Die onderkant van die straat is in ’n mark omskep waar jy vars eetgoed vir ’n piekniek kan koop.

“Les Arènes de Lutèce (’n weggesteekte Romeinse arena) of die oewers van die Seine is goeie plekke om jou kombersie oop te gooi.

“Ná die tyd kan julle deur die Marais wandel en een van die groot museums (Carnavalet, Picasso, Cognacq-Jay) besoek voordat julle die aand met ’n kersligete in ’n klein bistro afsluit.”

Raad vir besoekers

■ Wees spontaan. Dit is goed om planne te hê, maar sorg dat jy genoeg tyd het om in minder bekende straatjies af te dwaal en êrens vir warm sjokolade of ’n glas wyn te stop.

Beplan minstens een romantiese aandete in ’n restaurant wat bekend is om hul kos en atmos­feer.

’n Piekniek moet op jou lysie wees.

 Moenie bang wees om mekaar in die openbaar te soen nie. Die Franse is glad nie skaam om in die middel van die sypaadjie te stop en mekaar ’n hartstogtelike soen te gee nie.

 As jy alleen reis, moenie te skaam wees om met mense te praat nie. ’n Ruskans op daardie bankie is dalk die begin van ’n groot romanse!

■ Lily se boek is te koop by Amazon.com en ​loot.co.za.

Lily se romantiese plekke

Wat kan nou meer romanties wees as die flikkerende liggies van die Eiffeltoring van die oorkant van die Seine-rivier af? Foto: iSTOCK

1. Pont Alexandre III, een van die mooiste brûe in die stad.

2. Aan die rand van die Pont au Change-brug vir ’n uitsig op die Seine en Eiffeltoring in die verte en die feëverhaal-kasteel Conciergerie reg voor jou.

3. Op die weggesteekte trappe in Montmartre waar verliefdes ontmoet.

4. Saans in die agterstrate van Saint Germain om stilletjies ’n soen te steel.

5. Aan die oewer van die Seine om onder jou geliefde se arm in te klim en net die uitsig op die stad te geniet.

6. Kies ’n plek soos Trocadéro, van waar julle saans elke halfuur die flikkerende ligvertoning op die Eiffeltoring kan bewonder.

7. Die romantiese onderdak-straatjies in die Opera-distrik waar winkeltjies en kafees volop is.

8. Place des Vosges is ’n pragtige plein in Parys wat jou sommer na die verlede terugneem. Die skadu-bankies is ook ideaal vir verliefdes.

9. Versteekte parke soos in die Marais, met talle tuintjies en bankies vir jou en jou amoureux.

10. Oudmodiese bistro’s, sommige histories, waarop ’n mens maklik verlief kan raak. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.