Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
RONDRITS
Terug na die natuur
SANParke se Stormsriviermond-ruskamp.
Die uitsig van die Pear Tree Cottage in Stormsrivier.
Marilyn’s 60’s Diner in Stormsrivier.
Uitsig vanaf die restaurant by die ruskamp.

Net om by die piekniekplek in SANParke se Stormsriviermond-ruskamp te sit en na die beeldskone see te kyk, is al genoeg rede om die pad te vat na dié oostelike punt van die Tuinroete. Maar daar is ’n paar ander redes wat ’n besoek aan Stormsrivier die moeite werd maak.

5 dinge om te doen in en om Stormsrivier

1. In die middel van die karaktervolle dorpie staan die Marilyn’s 60’s Diner, kompleet met pienk Cadillac, ­Marilyn Monroe-afdrukke en jolige jukebox. Jy kan hom nie in Darnellstraat miskyk nie, en jy wil ook nie. Dis ’n eet-en-kuierplek met meer persoonlikheid as wat jy al ooit gesien het. Langsaan word die Tsitsikamma se eerste craft-bier ook deesdae gebrou, so niemand ly dors nie.

2. Die Tsitsikamma Village Inn is ’n pragtige ouwêreldse hotel wat soos ’n oudtydse dorpie uitgelê is. Die hotel het drie restaurante, waaronder De Oude Martha, wat die lekkerste kos in die distrik bedien. Hul lamskerrie (R85) is hemels. Die Inn het tot die einde van die jaar ’n spesiale aanbod: twee nagte met ontbyt, ’n All American-burger by Marilyn’s, ’n uur lange toer deur die woude op ’n Segway én ’n zipline-toer teen R1 343 per persoon wat deel. 042 281 1711 / info@tsitsikammahotel.co.za

3. Ons het by die Pear Tree ­Cottage in Formosastraat in die dorp gebly (R325 per persoon, per nag). Dis ’n knus selfsorg- hout­hut vir twee met die mooiste uitsig oor ’n inheemse tuin en die berge.

Dit is stapafstand van die hoofstraat en die beginpunte van die dorp se talle staproetes, maar wanneer jy saans daar vir jou ’n vuurtjie aansteek, voel dit of jy salig alleen in die wêreld is.

082 427 5248

4. Om te kan sê jy het die Tsitsikamma gesien, is een ding. Maar as jy wil sê jy het die Tsitsikamma gedóén, moet jy ’n harnas en ’n helm aansit en die woud van tussen die bome se krone leer ken op ’n boomtoptoer deur Stormsriver Adventures (R495 per persoon vir drie ure). Jy gly met kabels van tot 92 m lank van boom tot boom.

Tussen die glyery deur kry jy die kans om die woud vanaf platforms van ongeveer 30 m hoog te bekyk. Dis vet pret en alles vir ’n goeie doel.

Die toere verskaf werk vir die plaaslike gemeenskap en is baie betrokke by opheffingswerk in die omgewing.

042 281 1836 / ​adventure@­gardenroute.co.za

5. Die Stormsriviermond-ruskamp is sonder twyfel een van SANParke se mooiste kampe. Alles is pragtig: die see, die woude, die fraai swemstrandjie by die ruskamp en die wonderlike hangbrug oor die mond.

Maar vir ’n onvergeetlike ervaring kan jy vir R399 met ’n kajak en ’n lugmatras in die rivier invaar. Jy kan die kranse aan weerskante vanuit stil waterpoele lê en bewonder of van ’n krans afspring as jy meer avontuurlustig is.

Of jy kan natuurlik albei doen, net om te kan sê jy het die Stormsrivier óók gedoen.

042 281 1607 / ­​grace.valela@sanparks.org

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.