Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Voetspore aan Ierse Noordkus
’n Middeleeuse kasteel, ’n natuurverskynsel wat jou asem wegslaan, ’n brug oor ’n afgrond en ’n seekosmaaltyd soos min aan die Noordkus van Ierland.
Die ruïnes van die Dunluce-kasteel het ’n dramatiese uitsig op die Noord-Atlantiese Oseaan. Foto’s: Gerrie Janse van Vuuren
Dwaal ’n bietjie rond tussen wat oor is van die Dunluce-kasteel.
’n Mens deel die ervaring met baie ander toeriste, maar die Causeway is gelukkig groot genoeg vir almal.
’n Mens stap langs die kus om by die Carrick-a-Rede-brug te kom.
Die steil trappies af na die brug is amper erger as die stap oor die brug.
The Dark Hedges is ’n belewenis en ’n fotograaf se droom.
​VOOR JY GAAN

Vir meer inligting oor die Dun­luce-kasteel en die Carrick-a-Rede-brug, besoek ​discovernor­thern­ireland.com.

Besoek ​nationaltrust.org.uk vir meer inligting oor die Giant’s Causeway.

As jy meer wil weet oor The Bushmills Inn, gaan kyk by

​bushmillsinn.com.

Hou die weervoorspelling dop, want ’n oop dag is die beste vir ’n besoek aan die noordkus.

’n Mens wil nie daar opdaag en alles is die hele dag toe onder die mis nie.

Voor ons besoek aan Ierland het ons ’n dilemma gehad: Vir die Ierse Republiek het ons as Suid-Afrikaners nie visums nodig nie, maar om wettig in Noord-Ierland te reis, het ons Britse visums nodig (teen amper R1 400 stuk).

Daar is geen grensposte op die eiland nie – dit is soos om oor provinsiale grense te ry, maar tog wil ’n mens nie sonder ’n visum in die Verenigde Koninkryk betrap word nie.

Ek was egter vasbeslote – ek gaan nie die Smarageiland besoek sonder om ook die wonder van die Giant’s Causeway in Noord-Ierland met my eie oë te sien nie.

Dit was ’n wonderlike besluit, want ons het ’n onvergeetlike sonskyndag aan die noordkus deurgebring.

Dit duur sowat 90 minute per motor van die hoofstad Belfast en amper twee uur van waar ons naby die stad Omagh tuisgegaan het.

Ons eerste stilhouplek was die ruïnes van die Dunluce-kasteel in die distrik Antrim, tussen Portballintrae en Portrush.

Die eerste kasteel is in die 1300’s hier gebou en die huidige ruïnes dateer van die vroeë 1500’s.

Dunluce klou verbete aan die harde vulkaniese krans vas en ek kon sien dit is net ’n kwessie van tyd voordat hy in die koue Noord-Atlantiese Oseaan daar ver onder intuimel.

Dunluce was die tuiste van onder andere die McQuillan-familie en die MacDonnell-stam. Later, tot ongeveer 1690, het die graaf van Antrim en sy gesin daar gewoon.

Van die laat 1690’s was Dunluce verlate, totdat dit in 1928 onder die voogdyskap van die staat gekom het.

Rondom die kasteel is die “verlore dorp Dunluce” – dié klein dorpie is in die Ierse rebellie van 1641 heeltemal vernietig, maar in 2011 is oorblyfsels daarvan met argeologiese opgrawings gevind.

Oudiogidse wat maklik in jou broeksak pas, is beskikbaar, maar selfs daarsonder is dit wonderlik om so ’n uur of wat tussen die ruïnes rond te dwaal en op verweerde vensterbanke te leun en te wonder wie almal oor die eeue heen na dié uitsig gestaan en kyk het.

In ’n deel van die kasteel is unieke klippe van die Giant’s Cause­way met hul kenmerkende vier tot sewe hoeke in die mure ingebou.

Die rotse maak ’n mens sommer haastig om die Causeway self te sien. Net tien minute nadat ons in ons huurmotor gespring het, hou ons stil by die indrukwekkende besoekersentrum wat in 2012 geopen is (die vorige een het in 2000 afgebrand).

Maar eers is dit tyd vir ’n koffie by The Nook, ’n oulike kroeg ’n hanetree van waar jou Causeway-avontuur gaan begin.

Met kafeïen in ons bloedstroom was ons reg vir die besoekersentrum, waar dit wemel van toeriste. Hier kan ’n mens aandenkings van jou besoek koop. ’n Prettige interaktiewe uitstalling vertel ’n mens die storie van Finn McCool, ’n Ierse reus, en Benandonner, ’n Skotse reus, wat glo verantwoordelik is vir die Causeway.

Die Ierse legende lui dat Finn vir Benandonner uitgedaag het tot ’n tweegeveg en ’n pad na Skotland (die Causeway) gebou het. Toe Finn egter Benandonner sien aankom en besef hy is baie groter en sterker, moes hy haastig ’n plan maak om sy bas te red.

Finn se vrou, Oonagh, het hom toe vermom as ’n baba en toe Benandonner opdaag, het Oonagh vriendelik vertel haar man is net gou uit, maar kyk hoe oulik is ons baba!

Toe Benandonner die massiewe “baba” sien, het hy groot geskrik en teruggehardloop Skotland toe. Soos hy gevlug het, het hy Finn se pad vernietig en die oorblyfsels van die pad is wat ons vandag ken as die Giant’s Causeway.

Dié en ander wonderlike stories is op die multimedia-oudiogids. ’n Mens sit die oorfone op en laat die stem van ’n gids, ene Jimmy, in jou oor gesels oor al die besienswaardighede.

Dit is soveel pret om, gewapen met die oudiogids, van die besoekersentrum af te stap en Jimmy vertel sover soos jy gaan waarna jy moet kyk. Daar is die kameel, die skoorsteen en Finn se orrel, om net ’n paar te noem.

Die Causeway self is indrukwekkender as wat ek my verbeel het. Die kenmerkende klippe en kranse is die gevolg van intense vulkaniese aktiwiteit miljoene jare gelede (ek hou steeds meer van die Finn McCool-legende).

Dit is ’n fotograaf se droom, maar ’n mens moet meer as een keer ander toeriste vra om eenkant toe te skuif. Dit is ’n belewenis om die rotse van nader te bekyk.

Ons kon ure daar deurgebring het, maar die honger het begin knaag.

Die Causeway se raaiselagtige kolomme.

Teësinnig sê ons toe totsiens vir die Causeway en ry die kort entjie na die dorpie Bushmills. Dit is die tuiste van die Old Bushmills Distillery, die oudste distilleerdery ter wêreld waar daar al vir 400 jaar whiskey gemaak word.

Die oudste deel van die geskiedkundige The Bushmills Inn dateer van 1608.

Die hotel is in die 1820’s gebou en was ’n hawe vir moeë besoekers wat die dag by die Causeway deurgebring het. Hier het die whiskey, wat die dorpie wêreldbekend gemaak het, lafenis vir liggaam en siel verskaf.

Van die vroeë 1890’s af kon mense met ’n trem na die Causeway ry en het al hoe minder mense die herberg besoek. Vir die volgende eeu is dit gebruik as ’n private tuiste, ’n fabriek waar fietse gemaak is en selfs hoenders het op die eerste verdieping nes geskrop.

In 1987 is begin met restourasiewerk en in 2009 is dit uiteindelik voltooi. Vandag het The Bushmills Inn 41 lieflike kamers, konferensiegeriewe, ’n rolprentteater en ’n restaurant waar ’n mens aan fynproewerskos kan smul.

Die restaurant is knus en karaktervol en dit voel asof ’n mens op ’n tydsreis gaan wanneer jy oor die drumpel trap.

Ons het ons in ’n sonnige deel van die restaurant tuisgemaak en ek het dadelik ’n Rusty Nail (Black Bush Whiskey en Irish Mist-likeur) bestel.

Die uitgebreide spyskaart het van ’n gourmet-hamburger tot pasta en slaaie, maar ons het geweet ons kan niks anders as seekos bestel nie.

’n Mens is hier heeltyd bewus van die Noord-Atlantiese Oseaan en ons kon nie wag om die supervars seekos te proe nie.

My keuse was Dalriada cullen skink, ’n natuurlik gerookte skelvisfilet, geposjeer in ’n romerige vissop en bedien saam met baba-aartappels, ’n sag geposjeerde eier en gekapte grasuie.

Ek is versot op skelvis, want dit is iets wat ons nie in Suid-Afrika kan kry nie (die “skelvis” wat ons in die supermark se vrieskas kry, is eintlik gerookte en gekleurde stokvis).

Dit was ’n onvergeetlike maaltyd.

Manlief het die Atlantiese seekosbord bestel met ’n verskeidenheid vars vis, steurgarnale, skulpvis, salm en varsgebakte brood. Varser kan jy nie kry nie en ek het sommer lekker saam gesmul aan die mossels en gerookte salm.

Versadig en tevrede was dit tyd om die Carrick-a-Rede-brug aan te durf.

Ná ’n rit van 15 minute langs die kus het ons in die parkeergebied gestop van waar ’n mens so ’n kilometer moet stap om by die brug te kom, wat goed was ná ons massiewe seekosmiddagete.

Die brug – 20 m lank en 30 m bo die rotse en onstuimige see – is ’n skakel tussen die vasteland en Carrickarede, ’n piepklein eiland.

Vir meer as 350 jaar het salm-vissermanne ’n brug na die eiland in stand gehou en telkens herbou. Die huidige permanente brug is in 2008 gebou en is van hout en staalkabels gemaak.

As jy bang is vir hoogtes, bly maar eerder op die vasteland staan en geniet die uitsig.

Vir my was die ergste eintlik die steil, nou trappies wat ’n mens moet af om by die brug uit te kom. Dan is dit net ’n geval van oë reguit voor jou en een tree ná die ander.

Op die eiland kan ’n mens ’n bietjie rondloop, maar die lekkerste is om jou op die sagte groen gras neer te vly en vir die seevoëls te kyk.

As jy weer die moed bymekaar geskraap het, kan jy weer die brug aandurf.

Ons het ons dag aan die Noordkus afgesluit met ’n besoek aan The Dark Hedges, ’n pragtige laning beukebome wat in die 1800’s deur die Stuart-familie geplant is. Dit is in Ballymoney in die distrik Antrim en is nogal ’n uitdaging om op te spoor, maar beslis die moeite werd.

Die laning is al in verskeie flieks en TV-programme, soos Game of Thrones, gewys en dit is duidelik hoekom. Daar is iets geheimsinnigs en onvergeetliks aan die grasieuse bome wat so oor die verlate pad buig.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.