Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Addersnes se diamante

Om te delf loop deur jou are, skryf Marzahn Botha, dogter van een van Rysmierbult se diamantdelwers. 

Digger’s Inn is die versamelplek van delwers, boere en allerlei karakters. Foto’s: Marzahn Botha

Daar is twee dinge waarvoor bid nie help nie. Vir tandpyn en om ’n diamant raak te delf. Só het pa Gert Botha altyd gesê oor dié glinsterklippies.

Pa, ’n eertydse delwer op Rysmierbult en Muiskraal, en steeds een in hart, gees en karakter, kon nou vir jou ’n diamant bekyk as hy dié vonds uitgedolwe het.

Rysmierbult is ongeveer 30 km van Potchefstroom op die Carletonville-pad.

Toe ek in die laat negentigs daar gewoon het, was die diamante al min. Met ’n onlangse besoek het ek gesien hoe die diamantaarde ontkiem het tot suksesvolle mega- en mediumgroot boerderye vir aartappels, mielies en koring. Groot boere soos Herman Fouché en Fanie Kruger boer hier.

Herman, ’n jare lange vriend van oorle’ oom PG du Plessis het Sé Moér, die skrywer se plaas, gekoop. PG het ’n groot deel van sy lewe hier deurgebring en het die inspirasie vir stories soos dié in Tussen die riewe uit die omgewing geput.

Die groendakplaashuis aan die einde van ’n lang bloekomlaning sal binnekort as gastehuis oop wees vir die publiek.

Die groot bloekomboomlaning op wyle PG du Plessis se ou plaas, Sé Moér.
’n Ou wilgeboom op die oewer van die Mooirivier.
Gert Botha het lank hier op Rysmierbult gedelf.

Diamante, die hart van Rysmierbult

Pa is nou maar net ’n man met ’n swakheid vir die blinkklippies.

Kleintyd het ek gekyk hoe hy teen die goue uur van die dag die laaste panne op die tafel omkeer. Een vir een.

So sou ek staan en wag totdat Pa ’n diamant kry. Of nie.

As sy daar lê, sou hy haar vinnig gryp en in sy mond sit. Glo om al die rooigrond af te suig.

By die huis het hy die klippies op die skaal gaan weeg.

Wanneer daar baie klippies was, het hy sommer so alles ingegooi. Maar wanneer daar een mooi grote was, het dit die hele bakkie vol gelê.

Pa en ou oom Gert Petoors (Pretorius) het met hul growwe, vuil hande die gewiggies sorgvuldig, een vir een, opgepak. So asof hulle ’n vrou benader. Dan’t die diamante en gewiggies wipplank gery totdat dit op ’n reguit lyn gaan lê het. Ná die weegproses is die blinkklippies in suur gesit tot môre.

Daardie aande het Pa lekker geslaap.

Die ander tye was dit maar ’n geneuk met die slapery. Ek het altyd gedink Pa hoop en bid genoeg, maar op ’n kol het die Here nie meer so baie blinkklippies gestuur nie.

Toe verskerp die mineraalregwette en maak dit vir die private delwer nóg moeiliker om te delf.

Ek wonder partykeer of die grond nie maar net suf gedelf is nie. Maar die manne wat weet, sê nee, daar is nog baie.

In dié plaashuis het PG du Plessis en sy vrou, Marie, gewoon.
Oom Dougie van Wyk het die kroeg ­Addersnes besit en op sy dag vir PG du Plessis hoenderpote en -pensies bedien.

Drinkgate op Rysmierbult

Hoe minder Pa en die ander manne raak gedelf het, hoe meer sou hy sy sorge by Addersnes gaan verdrink.

Dit was die boer Dougie van Wyk se kroeg. Maar die deure is nou toe.

Nou is hier ’n ander gewilde kroeg, Digger’s Inn, waar die handjievol delwers wat nog oor is, hul lot bekla. Die boere, weer, vier hul goeie oeste by dié watergat.

Om terug te kom na die ou watergat se naam, Addersnes.

Die manne het sommer buite op kratte saamgedrom, ’n vleisie gebraai en kele natgemaak.

Oom Dougie en Charles Muller, nóg ’n boer, het altyd oor en weer gekuier. “Een dag kuier ons nog so, toe die vroue aangestap kom en vir ons sê ons sit soos ‘sleg adders’ hier en drink. Ons doop die plek toe sommer Addersnes,” vertel Dougie.

PG het glo ook soms hier gekuier en sy boeke vir die mense geteken. Wanneer hy met sy mede-“adders” in die kroeg gepraat het, het hy na hulle verwys as “addertjies.”

Oom PG se ou plaas is by Muiskraal, net neffens Rysmierbult. Sy vrou, tant Marie, wat nog leef, was glo eintlik die kranige boervrou wat die plaas aan die gang gehou het, terwyl haar man sy skrywe geskryf het.

Op ’n slag, vertel Dougie, het hy vir PG hoenderpote en -pensies met rissies gegee om te eet. Die pote het ’n stewige byt gehad. “Dan sluk ou PG dit af met baie wyn en raak rooi in die gesig.”

Hy’t aangedring om dieselfde hoenderpote vir tant Marie huis toe te vat. Ná die tyd het hy vertel Marie het dit geniet en hulle praat nou sommer daarvan as “Wes-Transvaalse prawns”.

Op ’n kol vra Dougie vir PG wanneer hy dan nou oor hom gaan skryf.

“Ek sê jou een ding, ek skryf nie tragedies nie,” was PG se antwoord.

Splintertjies blink

Dit is namiddag by Digger’s Inn en die min delwers wat nog hul geld, moed en hoop op die blinkklippies sit, daag op.

Hulle haal hul diamante uit om te wys. Dit lyk baie, maar hulle sê dis maar net klein splintertjies.

“Sien, die diamante is nog baie in die omgewing, maar die liksense vat te lank om te kry en die dieselpryse maak ons dood,” sê een moedeloos. Maar hy voeg by: “Kom ek vertel jou ’n ding. ’n Diamant is mooier as ’n kaal vrou op ’n strand, jy sien haar dadelik.”

Sou jy hierdie stukkie aarde besoek, moet jy vertoef om die ou skool en kerkie, met toestemming, te sien. Daar is ook ’n verlore delwershuisie langs die pad, verweerde pompe by die vulstasie, die ou treinstasie en begraafplaas.

Nog bekendes wat van hier af kom, is oudmin. Pik Botha en die Hollywood-aktrise Embeth Davidtz, wat in Schindler’s List en Nag van die 19de gespeel het. Terloops, PG het die draaiboek vir laasgenoemde geskryf.

Soos die dramaturg Chris Barnard in sy boek Oulap se blou geskryf het:

“Mense gee af aan die stof wat hulle trap, en hulle stemme hou aan weerklink in die klowe en die vlaktes waarlangs hulle getrek het. Rysmierbult en Muiskraal is ’n plek wat in baie se harte leef. Die stories van mense, diamante en oorlewing, lê verborge in die soet water van die Mooirivier en die rooi grond.”

Meer oor:  Diamantdelwers  |  Rysmierbult
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.