Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Afgesny: Elke winter in Alaska is grendeltyd

Die dorpie Valdez, Alaska, lê winters diep onder die sneeu. Foto: Marc Lester/Anchorage Daily News/Getty Images
In die wintermaande is Alaska grootliks afgesny van die buitewêreld. Byna soos die tyd van inperking wat ons nou beleef, filosofeer Ilse Zietsman. 

Alaska is die Verenigde State van Amerika se noordelikste deelstaat. Dis heeltemal geskei van die res van die land, daar bo langs Kanada se koudste dele.

Dis die grootste deelstaat met ’n oppervlakte van 1,53 miljoen km², maar is een van die yl bevolkste wêrelddele (1,2 inwoners per halfkilometer) op ons planeet. Boonop woon omtrent die helfte van alle Alaskiërs in die grootste stad, Anchorage, en sy buitewyke.

Dit is weliswaar die grootste stad, maar dit is nie die hoofstad van Alaska nie. Dié eer kom Juneau toe. Juneau en Ketchikan, ’n veerbootrit van 18 uur suid vanaf Juneau, val binne die enigste streek in Alaska waar die gemiddelde maksimum dagtemperatuur bó vriespunt in die winter is. Ketchikan is die eerste “groot” stad (dit voel en lyk soos ’n dorp) wat jy in Alaska teëkom as jy vanaf Seattle in die deelstaat Washington noord reis.

Winters in Alaska is lank en bitterlik koud; die somers is kort en koel.

Winters in Alaska is lank en bitterlik koud; die somers is kort en koel (hoewel dit soms warm kan raak; in 2019 het Alaska die warmste somer in menseheugenis beleef – op 4 Julie is ’n temperatuur van 32 °C in Anchorage gemeet, terwyl die somertemperature daar gewoonlik rondom 15 °C draai).

Behalwe vir die klimaat wat die lewenstyl in Alaska bemoeilik, kan baie van die dorpe slegs per boot of vliegtuig bereik word.

In die dorpie Valdez, Alaska, is dit in die wintermaande groot werk om sneeu te skoffel. Foto: Marc Lester/Anchorage Daily News/Getty Images

Om in Alaska te woon, beteken om op verskeie maniere ingeperk te wees. Alaska het sy eie jaarlikse inperkingstyd in die wintermaande.

In Valdez, ses uur se vlieg noord vanaf Juneau en net oos van Anchorage, raak dit in die winter eers teen laatoggend lig en teen vroegmiddag is dit reeds skemer. Dus geskied baie van die inwoners se daaglikse roetine in die donker.

Alaska se nommerplate.

Die winters leer jou selfstandig wees

Baie Alaskiërs verlaat egter hul dorpe in die winter en keer eers terug wanneer die weer meer gematig is. In haar boek, If You Lived Here, I’d Know Your Name: News from Small-Town Alaska, skryf Heather Lende, ’n inwoner en streeksjoernalis van Haines, dat sowat 2 400 inwoners in en om Haines in die Chilkat-vallei woon. Sy reken egter dat sowat ’n derde êrens anders oorwinter.

Haines lê net 150 km noord van Juneau, maar dit neem tussen twee en ’n half uur – met ’n nuwe veerboot – en vier en ’n half uur – met ’n oue – om die afstand af te lê. Haines het nie ’n hospitaal, inkopiesentrum, fliekteater, McDonald’s of verkeersligte nie. Ook nie ’n dokter wat regdeur die jaar beskikbaar is nie. In die hoërskool is minder as 100 leerlinge. Sommige wintersdae kom die nasionale koerante nooit in hul dorp uit nie.

Staatsgesubsidieerde veerbote vaar na die dorpe wat net per boot of vliegtuig bereikbaar is. In die somer vaar daar meer veerbote as in die winter en ’n mens kan buite staan en die omgewing bewonder.

Om êrens anders te kom, moet jy “honderde wildernismyle ry,” skryf Lende, maar desnieteenstaande wil baie min inwoners op Haines dit enigsins anders hê. Dis juis waarom dorpe in Alaska vir lang tydperke sover moontlik selfstandig moet wees.

Selfs om te vlieg is nie altyd ’n opsie nie. Nóg vir Alaskiërs nóg vir hul besoekers. Lende se skoonsuster was een Kersfees vir twee dae in Seattle gestrand omdat Alaska Airlines nie kon vlieg nie; hulle moes wag tot die sneeu op die Juneau-lughawe geskraap kon word om landing moontlik te maak.

In Juneau aangekom was daar geen vlugte nie; sy moes op die veerboot klim om by haar eindbestemming te kom. Met haar aankoms in Haines het sy verklaar: “Julle moet trek. Híér kan julle nie langer woon nie.”

Sy het dalk ’n punt beetgehad!

Selfs die diere moet aanpas om Alaska se winters te oorleef, soos hierdie haas wat ’n sneeuwit voorkoms kry. Hierdie bord is in een van die nasionale parke te sien.

Dis ’n gevaarlike plek

Lende verklaar in haar boek dat “die dood ’n groot deel van die lewe in Haines is”. Ja, mense sterf aan hartaanvalle en kanker soos op enige ander plek. Alaska is egter gevaarlik om in te woon.

Iemand wat Lende ken het by ’n krans afgeval toe hy bokke gaan jag het; iemand anders het in die see verdwyn toe hy seekomkommers gaan uitduik het. Daar is gereeld vissersbootjies wat in die ysige water omslaan of private vliegtuigies wat in berge vasvlieg of eenvoudig verdwyn.

Skagway, wat soos Juneau net per boot of vliegtuig bereik kan word, het vyf kerke, een biblioteek en een bank.

Selfs in die warmste somer in menseheugenis in 2019 het dele van Alaska nog steeds só gelyk. Foto: Ilse Zietsman

In die somer is die hotelkamers in Skagway volbespreek en wemel die restaurante, koffiewinkels en kroeë van derduisende toeriste. In die winter is dit ’n perd van ’n ander kleur. Volgens Skagway se toerismebrosjure is hier net meer as 1 000 permanente inwoners wat regdeur die winter in hul tuisdorp aanbly.

Tydens my besoek in die Amerikaanse somer van 2019 het ’n kelnerin sowel as ’n kroegman egter hierdie syfer in twyfel getrek toe ek hulle uitvra oor wat hulle doen om in die winter besig te bly. Volgens dié twee, sowel as ander inwoners, skat hulle dat slegs sowat 600 mense in Skagway die ysige temperatuur van tot -18 °C en dik sneeu trotseer.

In die wintermaande kyk hulle die meeste van die tyd televisie, of speel speletjies as hulle dit wel waag om vriende te besoek, het die twee jong mense vertel. Soms maak een kroeg oop waar hulle af en toe gaan uithang.

Dis nog erger om in Utqiagvik te woon, lees ek nadat ons terugkom. In Utqiagvik, die noordelikste dorp in Alaska, kom die son vir omtrent twee maande, vanaf November tot Januarie, nooit op nie. Dus is die hele dorp gedurende hierdie poolnagtydperk in permanente donkerte gehul.

Boonop vergelyk ons eerste weke van inperking met Utqiagvik se status as ’n “klam” dorp. Dit beteken jy mag drank besit, maar dit nie koop of verkoop nie. Jy mag jou eie drankies ook net “binne perke” saambring en geniet. Jy mag wel rook as jy wil.

Dis belangrik dat die meeste voorraad vir die wintermaande ook in die warmer maande afgelewer word. Foto: Ilse Zietsman
In die somer moet jy opgaar

Alaska is in die algemeen dúúr, juis omdat omtrent alle produkte ingevlieg of per veerboot ingebring moet word. Utqiagvik is nóg duurder – wat baie inwoners noop om op verskillende maniere self dit wat hulle nodig het, in te voer, eerder as om opgejaagde pryse by die drie plaaslike kruidenierswarewinkels te betaal.

Die Alaskiërs weet hoe om voorbereiding vir die winter te doen sodat hulle genoeg afwisseling op hul spyskaarte het.

Gedurende die somer rook hulle salm wat hulle self vang. Baie mense het hul eie rokerye (smoke houses) in hul agtertuine, vertel Lende in haar boek.

Nadat die salm gerook is, word dit in ’n tradisionele mengsel van water, sout en bruinsuiker gebottel en tot die winter gebêre. Soms word witwyn en speserye ook bygevoeg.

Vars bessies wat hulle self pluk, word omskep in konfyt, bessiestroop en bessiepasteie. Die bessiestroop word in pannekoekvulsels, vrugtedrankies, botterbroodjies en muffins gebruik of saam met kaaskoek geniet.

Lende sê sy moes al hierdie kosgewoontes aanleer toe sy na Alaska verhuis het.

Alaskiërs is nie skaam om vir vriende, kennisse en mededorpenaars wat na ’n ander bestemming vlieg, te vra om iets soos ’n vars avokado, ’n sakkie tamaties of ’n veselperske terug te bring nie. Soms steek jy dit weg en vertel nie eens vir jou kinders daarvan nie.

Vars vrugte en groente is haas onverkrygbaar tydens Alaska se wintermaande. Soms is knolgroente beskikbaar, maar dit kan maar bra verlep voorkom. Alaskiërs is nie skaam om vir vriende, kennisse en mededorpenaars wat na ’n ander bestemming vlieg, te vra om iets soos ’n vars avokado, ’n sakkie tamaties of ’n veselperske terug te bring nie.

Soms steek jy dit weg en vertel nie eens vir jou kinders daarvan nie, het ’n leser van The New York Times in ’n artikel gebieg!

In dorpe soos Utqiagvik en Haines ken almal mekaar, maar met die ergste winterkoue kuier selfs bure min oor en weer.

Winternaweke is basketbalwedstryde by die hoërskool in Haines ’n gewilde bymekaarkomplek. Sondae is die kerk voller as dit bibberkoud is.

Om jou pos by die poskantoor te gaan haal – daar bestaan nie iets soos posaflewering nie – word beskou as ’n geleentheid om te gesels met wie jy ook al daar raakloop.

’n Vrouebusbestuurder in Seward (as jy nie vlieg nie, neem dit 43 uur en 45 minute per bus en veerboot na Juneau) het aan my beaam wat Lende geskryf het: “In baie dorpe in Alaska het die inwoners nie beroepe nie. Hulle werk so hard en soveel ure as moontlik tydens die somer wanneer die toeriste hierheen stroom. In die winter rus hulle en bring kosbare tyd binnenshuis deur saam met hul gesinne.”

Dit klink na ’n lewenstyl wat kan werk!

  • Bykomende bronne: Wikipedia, Google Maps en Alaska: A Photographic Journey deur Stevens Dana Bunker.
Meer oor:  Alaska  |  Winter  |  Grendeltyd  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.