Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Agter die Ystergordyn . . .

As kind het sy gebid vir die kinders agter die Ystergordyn. Nou neem een van hulle vir Marinda Louw Coetzee op reis deur Bratislawa.

Marinda en Peter Chrenka by die ou Škoda-motor waarmee hy en sy pa in 1989 oor die grens gery het. Foto’s: Marinda Louw Coetzee

Die kommuniste het my as kind op my knieë gehad. Aand ná aand het ek vir die onkundiges onderworpe aan die Rooi Gevaar gebid: “Gaan asseblief met die kindertjies agter die Ystergordyn.”

Vir my was die Ystergordyn ’n grys sinkplaat-stortgordyn wat iewers aan ’n reuse- reling – amper soos ’n treinspoor – in ’n koue land hang waar kaalvoet kindertjies met pelsjasse rondloop.

Die prentjie in my kop was soveel anders as die een wat my begroet het met ’n onlangse reis na Slowakye (amptelik die Slowaakse Republiek) se hoofstad, Bratislawa.

In April is wilde-knoffel-sop, hier met geposjeerde eier en beetspriete bedien, oral in restaurante te proe. Foto’s: Marinda Louw Coetzee
’n Ou ondergrondse bunker is omskep in ’n tee-restaurant.
Varkgoulash met aartappelkluitjies is ‘n gewilde plaaslike dis. Foto:

Een van die EU se rykstes

Bratislawa lê aan w eerskante van die Donaurivier en sowat 70 km van Oostenryk se hoofstad, Wene, waar die grootste lughawe in die omgewing is. ’n Gedeelte van die Donaurivier was die grens tussen Slowaakse Republiek die kapitalistiese Europa en die kommunistiese Oos-Europa, waarvan Slowakye deel was. In 1989 het die gordyn begin val en in 1993 is Slowakye en die Tsjeggiese Republiek geskei en kon die nuwe Slowaakse Republiek finaal die juk van kommunisme afgooi.

Bedrywe soos mynbou en motorvervaardiging floreer en is groot werkverskaffers in ’n land met ’n werkloosheidsyfer van net 5%. Slowakye, wat ook grens aan Pole, Oekraïne en Hongarye, is ’n land van ou kastele, berge en Unesco-Wêrelderfenisterreine wat ’n reeks van meer as 700 grotte, oeroue woude en houtkerkies insluit.

Bote op die Donaurivier met die UFO in die agtergrond, die sewende langste hangbrug in die wêreld. Foto:

Hoewel klein – met sowat 427 000 inwoners – is Bratislawa een van die rykste stede in die Europese Unie (naas Hamburg en Luxemburg) met goeie openbare vervoer en Uber-dienste. Die ou deel van die stad krioel van besoekers in nou straatjies, roomyswinkels en kunsgalerye.

Die kindertjies agter die Ystergordyn het grootgeword en die stad is ’n lewendige kreatiewe bron van kos, kuns en musiek.

In die strate stap ons verby platewinkels, veganistiese roomyswinkels, byewas- en heuningprodukte, vakmansbiere, boetieks met ontwerpers- tweedehandse klere en ondergrondse bunkers, wat omskep is in musieksale en tee-restaurante.

Die Slowake vrek oor tee in enige vorm; van groentee-mengsels met vars uitgedrukte vrugtesap tot tee-likeurs gemaak volgens eeue oue resepte.

Die kasteelheuwel is al sedert die Steentydperk ’n landmerk en was op die grens van die Romeinse Ryk.

Die grys van kommunisme

Om egter agter die kap van die kommunistiese byl te kom, is ’n post-kommunistiese toer in Bratislawa met Authentic Slovakia net die regte ding, en teen €45 per persoon (sowat R720) absoluut die geld werd.

’n Wit Škoda stop voor die hotel waar ons tuisgaan. Peter Chrenka klim uit.

Ons begin by die oudste woonstelblok in die stad. Dié gebou uit 1956 was die eerste van honderde massa-behuisingsprojekte, in 50 skakerings van grys. Die bouwerk moes binne weke voltooi word. Die blokkige geboue is nou in vrolike pastelkleure geverf en huisves duisende werkende jongmense en gesinne.

Die fontein in die middel van Námestie Slobody (Vryheidsplein), met ’n reuse yster lotusblom in die middel, was eens die grootste in die stad. Nou is dit net ’n leë kom. In die tyd toe kos, skoolgaan en vryheid deur ’n onsigbare ysterhand beheer is, is die fontein onderhou, maar sal nou €1 miljoen kos om reg te maak. Dit gaan glo liewer gesloop word om plek te maak vir parkeerplek.

Op ’n heuwel in ’n lowerryke buurt van diplomatieke wonings staan die groot Slavín-monument van graniet. Dis gebou in tipiese kommunistiese styl; streng hoekige lyne, ’n 42 m hoë obelisk met ’n trotse soldaat wat die Nazi-kruis onder sy linkervoet vermorsel. Meer as 6 000 Sowjet-soldate lê hier in massagrafte begrawe, helde wat die stad van Nazi-besetting bevry het.

Dié houtpaal is die enigste aanduiding van waar die Ystergordyn, die grens tussen Slowakye en Oostenryk, was.

Anderkant die Ystergordyn

Peter onthou die kommunistiese era goed. Saam met sy pa het hulle bo van die Bratislawa-kasteel uitgekyk na Oostenryk net 4 km ver. “ ‘Wanneer gaan ons soontoe?’ het ek my pa gesmeekvra,” vertel Peter.

“ ‘Vergeet daarvan. Daardie is ’n ander land,’ was sy antwoord elke keer.

“En die dag toe die grens oopgestel is, het ons in hierdie Škoda geklim en saam met duisende ander ure lank tougestaan om oor die grens te ry. Dit het vier uur geduur. Ek kon darem ’n Milka-sjokolade kry, iets wat ek op TV gesien het, maar nie in ons winkels met karige voorraad te koop was nie.”

Standbeeld van die Slowaakse digter Pavlov Hviezdoslavov.Foto:

Waar’s die Ystergordyn? vra ek vandag waar ons van die Slavìn-monument uitkyk oor die stad. Hy wys na die oorkant van die rivier; anderkant die massiewe spierwit Bratislawa-kasteel na die omliggende landerye.

Doer! Wanneer gaan ons soontoe? vra ek.

Dié standbeeld is ’n voorbeeld van die moderne kuns wat deesdae in die stad pryk.

“Nou!” sê Peter en ons ry.

Ons ry verby vervalle fabrieke en olietorings en oor die moderne hangbrug wat net aan een kant van die oewer met kabels vasgegord is. Ons ry verby woonstelblokke en die “sigeuners se ghetto’s” en die plek waar ’n vlugtende jong man deur die grenspolisie se waghonde verskeur is, net ’n paar weke voordat die grens oopgestel is.

Ons stop onder ’n ou plataanboom. Geen draad of betonmure met glasskerwe of stortgordyne van kettings en metaal nie. Daar is slegs ’n houtpaal in die kleure van die Slowaakse vlag geverf en ’n ruïne van ’n bunker langs ’n vrolike lap goudgeel kanola.

En verby ons put-put-put ’n ou omie op ’n blou trekker – reg oor die Ystergordyn . . .

Met Ethiopian Airlines en Qatar Airways kan jy vir sowat R8 000 na Wene, Oostenryk, vlieg. Neem dan een van die gereelde Flixbus-busse tot in Bratislawa, so 66 km van daar af. Die rit duur 45 minute en kos min of meer €5 (R80). Of neem ’n Uber as jou tas nie wiele het nie.

By die vierster Hotel Danubia Gate betaal jy R1 200 per nag vir twee, met ’n stewige ontbyt ingesluit.

Pryse vir kos en doendinge in die stad is billik. Verwag om so tussen R50 en R80 vir ’n lekker sop en brood te betaal. ’n Bier kos R15 tot R30.

Meer oor:  Kommunisme  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.