Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Reis saam met Leon van Nierop in Positano

Die plaaslike inwoners het ons vinnig ingelig oor een van Positano se bekendes: Rafaelo. Hy kry altyd die beste tafels in Positano, en kies smulpaap-restaurante.

“Volg hom,” gee ’n plooiryke oumatjie raad.

Ons loop hom dikwels raak, probeer hom volg, maar ’n mens raak later oorbluf met die dorpie, want jy kan nie meer inneem nie.

Positano aan Italië se Amalfi-kus is poskaartmooi.Foto’s: Werner Klopper

Dit bedwelm jou en lag oopbek-vrolik met die wete: Jy kan nooit alles op ’n kamera vasvang nie.

Rafaelo verdwyn dikwels, net om die volgende dag weer deur die strate te slenterstap. Op die derde dag volg ons hom meer doelgerig. Hy loop met sy hond deur die strate asof die ruimte om hom aan hom behoort.

Waar hy ook al rondstap, maak mense plek vir hom tussen artisjokke en vye en knoop sagte geselsies aan.

Een van sy eerste aanmeld-plekke is ’n restaurant op pad na die La Dolce Vita-villa op Positano se klipperige strand.

Die restaurant onder op die strand behoort aan ’n Durbaniet wat ons vertel dat hy wintermaande terugkeer Durban toe, maar in die somer munt slaan uit die tsoenami van toeriste wat hier toesak.

“Op enige dag is hier meer toeriste as plaaslike inwoners,” vertel hy.

Terwyl Rafaelo met mense praat-gesels, eet ons pasta, drink rooiwyn, proe vars brood uit ’n oond wat oor die see en strand uitkyk, en sluk dit af met Amaretto. Ons slaag skaars daarin om klaar te eet of Rafaelo, wat plaaslike vissermanne met rooi broeke groet, is weer op dreef. Sy hond rem aan sy halsband, maar hy stap gemaklik, gaan staan om na die uitsig te kyk en soek na mense wat respek betoon.

Mense ontspan op die klipperige strand.

Salute op Positano

Jy moet jou stap hier ken, want taxi’s en busse swiep in papierdun-ruimtes verby. Nou paadjies wat na hotelle lei wys pyltjies na die bekende Hotel Marincanto. Jy het net ’n strand­stoel nodig om op uit te strek om die hotel se mooiste hoekies wat flambojant uitgestal word te besigtig.

En laer af op die strand, sien ons van hier bo af, die befaamde Chez Black-restaurant.

Bult op verby straat- en strandkuns wat teen mure pryk. Kromrug-omies met strooihoedjies wat beter dae geken het verewig veral Capri en vissersbootjies. Of hulle probeer die kerk Santa Maria Assunta met sy roomyshorinkie-koepel verewig.

Maar hoe kan ’n mens hierdie waardigheid op die punt van ’n kwas laai? Jy kan dit miskien met ’n Limoncello afsluk of ’n uur daarbinne deurbring en na die stilte luister. Maar die dorp se middelpunt bak net rustig in die son.

’nEg Italiaanse pizza in Positano.

Steeds agter Rafaelo aan waar hy breedgeskouer by die uitsigpunte verby loop – vistas omraam deur dennebome waarvan die takke ’n see-uitsig omhels.

Maar Rafaelo loop voort.

Selfs tannies met klikketieklak-trollies vol lipstiek-rooi tamaties, kruie en suurlemoene maak pad vir hom. Soms groet hulle, soms knik hulle net.

En doer onder sonsambrele: geel, oranje, pienk en blou. Spikkels kleur teen die son wat Positano se strandjies koester.

Rafaelo kies die pad Il Sentiero degli Dei teen die kop uit, maar net ’n snapsie daarvan, want dit is ongeveer 8 km lank. Ons loop genoeg kliptrappie-draaie om villas te sien wat die heuwels af golf, patio vir stoepkamer vir alkoof vir sitkamer . . . die luike as beskerming teen die son toegemaak. En orals die kenmerkende bome wat hande bak hou hemel toe.

Later terug op gebaande weë waar piazzas sitplek bied vir toeriste, of waar gladdebek-laaities sokker speel met punt-in-die-wind bofbalkepsies.

En agter hulle hang wasgoed oor die strate (meer realisties as in Jo’burg se Montecasino-strate), is daar stoepies waar paartjies mekaar liefkoos, en ou tantes wat deur vensters afkyk op die strate. Hier en daar is ’n straatkat wat stert kwispel na ’n ander oop venster met nog ’n kat. En nog een.

Oulike winkeltjies verkoop aandenkings (as jy die euro’s daarvoor het).

Af met die kronkelpad met ’n uitsig op grotte. En ver weg ’n boot met toeriste van Capri af. Die dorp bejeën die toeriste met die selftevredenheid van ’n filmster wat paparazzi opmerk – gewoond aan aandag en met niks meer om te bewys nie. Skoonheid spreek vir homself. Dit het nie ’n spieël of ’n selfoonlens nodig om dit te bevestig nie.

Mooi is net mooi.

En orals is stegies, elkeen met ’n eie persoonlikheid, bevolk deur piepklein winkeltjies vol aandenkings: teëls, rokke ontwerp vir wyedoek-danse en mosaïek-tafels groot genoeg vir ’n bruilofsmaal.

Totdat die groot man oor die straat loop, verby ruïnes wat die ou Positano wys, tot by ’n voorskootgrootte-restaurantjie met net vier tafels. Een is syne, die drie ander vir besoekers. Ons gaan sit. “Ons eet wat hy eet,” sê ek vir die eienaar wat hom aanvanklik nie aan ons steur nie – net aan Positano se bekendste inwoner.

Toe kom die pizzas met ’n onuitspreeklike volmond-Italiaanse naam. Net een byt en jy’t aptyt. Lekkerder as die lekkerste lekker.

Toe ons weer sien, is Rafaelo weg. Sy bord is leeg geëet. Die restauranteienaar skink vir ons nog glase rooiwyn.

“Op Positano,” sê ek.

“Salute,” antwoord die eienaar.

Kattewat ’n uiltjie knip is ’n algemene gesig in Positano.
Meer oor:  Toerisme  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.