Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Reis
Airbnb – op die water

Sidder jy as jy dink aan ’n seevaart saam met 3 500 ander mense, ’n kroeg en “Kaptein” wat in die agtergrond blêr? Airbnb het ook adresse op die Atlantiese Oseaan. Herman Scholtz vind uit hoe so ’n ervaring jou horisonne verbreed.

Die uitsig vanaf die Kaap-na-Rio- tydens ’n 48-uur vaart vanaf die V&A-Waterfront tot in Langebaan. Foto: Herman Scholtz

Van die beste reiservarings wat ek al gehad het, was in woonstelle van plaaslike inwoners en nie hotelle nie. (Dis nie net omdat ek gewoonlik nie geld het vir hotelle nie. Belowe.)

Daar was Jonathan in Williamsburg, New York, waar ek een oggend per ongeluk uit my kamer gestrompel het reg tot op Amerikaanse televisie omdat ek a) nie besef het my gasheer is ’n bekende musikant wat ook groente as instrumente gebruik nie (ja, regtig), en b) nie geweet het hy is besig met ’n regstreekse uitsending wat ’n komkommer, tamatie en broccoli behels het nie.

Die uitsig vanaf die Ronin.Foto’s: Herman Scholtz
Die Kaap-na-Rio- waarop jy ’n 48-uur vaart vanaf die V&A-Waterfront tot in Langebaan kan geniet. Foto: Herman Scholtz
Die uitsig vanaf die Kaap-na-Rio- tydens ’n 48-uur vaart vanaf die V&A-Waterfront tot in Langebaan.. Foto: Herman Scholtz

En dan was daar Jana in Barcelona. Haar woonstel se badkamer is ín die kombuis (ja, regtig), maar van haar gasvryheid en glimlag kon ek ’n duisend maal meer leer oor Spanje en Kataloniërs as die vertrapping by die Sagrada Família net ’n klipgooi daarvandaan.

’n Airbnb-adres op die Atlantiese Oseaan was egter onbegane waters. Toe ek hoor jy kan selfs ’n plek bespreek om in 2020 saam op die katamaran Ronin te vaar in die Kaap-na-Rio-wedvaart, het beelde van adrenalien, seesproei van reusegolwe en – doer, in die verte – ’n eksotiese bestemming met kalm, glashelder water by my verbygeflits.

Komkommers en toilette in kombuise het skielik so vervelig geklink.

Maar helaas, vir iemand wat seesiek word in die bad, makliker sink as swem, in die algemeen ’n bietjie van ’n wuss is en maklik koud kry, was mý Kaap-na-Rio-wedvaart net ’n vaart van 48 uur vanaf die V&A Waterfront tot in Langebaan.

Dit was nogtans ’n bewys dat die luuksste passasierskepe en die klassieke daguitstappie op ’n mojito-en-bikini-seiljag toe nie die enigste soort seevaart-ervaring nie. Trouens, dit het my sooibrand gegee om te dink aan al die $20’s wat ek al betaal het vir ’n sonsondergangvaart in ’n nuwe plek om ’n “unieke perspektief” op die bestemming te kry.

Dis een ding om in ’n hotel op die see te bly en vanaf jou balkon te kyk en te wonder of die wit kolletjie doer onder skuim, ’n dolfyn of ’n plastieksak is. Dis nog ’n ding om vinnig op ’n boot te klim saam met ander toeriste.

Foto: Herman Scholtz
Jy kan selfs ’n plek bespreek om saam op die katamaran Ronín te vaar op die Kaap-na-Rio-wedvaart, ’n 48-uur vaart vanaf die V&A-Waterfront tot in LangebaanFoto: Herman Scholtz
Die Ronin, waarop jy ’n vaart van 48 uur vanaf die V&A Waterfront tot in Langebaan kan geniet. Links is die skipper, Mark Wannenburg.

Dis geheel en al ’n ander saak om op ’n seiljag te woon en te leef soos outentieke seevaarders dit doen. Dít is ’n propperse Airbnb-ervaring: nie in almal se smaak nie, maar ’n hele nuwe wêreld van reis.

Die oomblik wat die S/V Ronin die V&A Waterfront verlaat het, was die stilte amper ’n skok.

Al wat jou herinner dat jy en die twee ander mense op die seiljag nie weggeraap is nie, is die wind wat teen die seile slaan, die rustige geluid van golwe, die reuk van die see wat jy kan voel as jy jou hand ’n bietjie verder uitsteek en tientalle seediere wat rondom jou baljaar.

Hoe verder van die beskawing jy vaar, hoe groter is die besef van die nabyheid van die natuur. En natuurlik hoe groot die vragskepe en hoe klein jou tydelike tuiste is.

Die S/V Ronin is ’n katamaran wat 13,41 meter lank is en het ’n mas van 7,25 meter. “Ronin” is ’n Japannese uitdrukking vir “swerwende man”.

Ronin het vier kajuite, waarvan twee met dubbelbeddens toegerus is en die ander twee met enkelbeddens.

Buite is ’n gesellige tafel waar jy steeds geselsies kan maak met die skipper, en ’n groot dek aan die voorkant waar jy kan lê in die son, lees, of net die natuurskoon waardeer.

Niks gebeur teen vinniger as 10 km/h nie en by tye swem robbe en dolfyne vir lang rukke saam met jou.

Jy kan selfs ’n plek bespreek om saam op die katamaran Ronín te vaar op die Kaap-na-Rio, ’n 48-uur vaart vanaf die V&A-Waterfront tot in LangebaanFoto: Herman Scholtz
Jy kan selfs ’n plek bespreek om saam op die katamaran Ronín te vaar op die Kaap-na-Rio, ’n 48-uur vaart vanaf die V&A-Waterfront tot in LangebaanFoto: Herman Scholtz
Die binnekant van die Ronin.Foto’: allspiceyachting.com

Die eerste nag het ons gaan anker in ’n klein natuurlike baai by Dasseneiland, oorkant Yzerfontein. Om in die baai te kom, seil jy verby ’n skeepswrak tot amper teenaan die eiland en anker in rustige water.

Om die oggend wakker te word met die geluid van branders wat hard teen die rotse naby jou slaan, maar jy sit rustig en kyk na die pikkewyne wat van Dasseneiland af see toe gaan vir kos, is ’n belewenis wat eenvoudig nie op ’n reisagent se spyskaart is nie.

Die katamaran is etlike jare gelede gekoop deur die Louw-familie van Allspice Yachting en hulle het vir Mark Wannenburg oorreed om die permanente skipper te wees. Hy bly op die boot, gewoonlik by Houtbaai, wanneer Ronin nie vaar nie.

Mark is soos enige Airbnb-gasheer ten minste die helfte van die ervaring.

Hy is ’n deurwinterde seeman wat nie op sy hande kan tel hoeveel keer hy die Atlantiese Oseaan deurkruis het en hoeveel studente hy al opgelei het in seilvaart nie. Hy het as jong man by die vloot aangesluit vir diensplig en daarna byna ononderbroke op die see gelewe.

Ronin is sy huis, kompleet met sy eie boekrak. Die temas van die boeke is omtrent so divers soos sy wedervaringe: filosofie, seevaart, genetika, romans en selfs ’n verrassende Fifty Shades of Grey.

Sy verhale – as jy hom genoeg pols – is interessanter as enige boek. Soos sy jare lange “buurvrou” in Houtbaai, Anna, wat kaalvoet haar eie houtboot gebou het om alleen Europa toe te seil om haar kinders te gaan haal. “Sy woon deesdae op ’n plaas in die Oos-Kaap. Ek is nog nie reg om te trek nie,” voeg hy gou by.

Die binnekant van die Kaap-na-Rio waarop jy ’n 48-uur vaart vanaf die V&A-Waterfront tot in LangebaanFoto: allspiceyachting.com

Sy teddiebeer, Brutus, wat bo die stuurwiel staan gemaak word, was oor die jare dikwels sy enigste geselskap wanneer hy oor die wêreld heen geseil het om seiljagte af te lewer of aan ’n seilvaart deel te neem.

Mark ken die storie agter elke skeepswrak, eiland en baken langs die kus.

Sy Kaap-na-Rio-vertellings het ons in vervoering gehad. Dit was nie eens die interessantste vertelling in daardie 48 uur nie, maar verreweg die roerendste een was sy Kaap-na-Rio-ervaring in 2016, toe hy en ses ander gered moes word.

Die groep het ’n legendariese boot, die Voortrekker II, wat 30 jaar tevore deur die vloot gebou is, omskep tot die Trekker II om deel te neem. Mark en ander het álles in die projek gesit.

Die vaart het goed begin, maar op die derde dag – en 900 km van Kaapstad af – het die boot se stuurstang gebreek. Water het begin instroom.

Mark, die skipper, het eers ’n Pan-pan-sein gestuur terwyl die bemanning die boot probeer regmaak het. 16 uur later moes hy die moeilikste drie woorde oor die radio gebruik wat hy nog ooit gebruik het: “Mayday, Mayday, Mayday”.

’n Iranse vragskip was die naaste en het in ’n gewaagde poging met ’n tou die bemanning in rowwe see gaan red. Drie dae later is die kaptein van die Iranse skip boonop aan ’n hartaanval dood en Mark was saam in rou gedompel: enersyds uit empatie met hul samaritane en andersyds omdat sy “hele lewe” saam met die Trekker II weggedryf het.

“Ek wonder dikwels oor daardie dag,” vertel hy. “Wat sou gebeur het as die skip nie naby was nie? Wat sou gebeur het as ons net ’n bietjie harder probeer het?”

  • Herman was ’n gas van Allspice Yachting.
Wat jy moet weet

Reël vooraf met jou gasheer oor wat jy moet saamvat: bes moontlik ’n slaapsak, handdoek, warm klere en kos wat jy kan koop net voor jy opklim.

Volg Mark se raad oor die kos. Trouens, doen sommer voor julle vertrek saam met hom inkopies.

Drink die seesiekpil Stugeron, wat jy sonder voorskrif kan kry. Net vir ingeval.

Besoek allspiceyachting.com vir meer inligting en pryse. Hulle is buigsaam oor waar jy op- en afklim en hoe lank jy op die boot wil wees. Kontak Mark by mark@allspiceyachting.com.

Van hul ervarings is ook op Airbnb. Soek vir “Cape of Good Hope Sailing Adventure”.

    Reël vooraf met jou gasheer oor wat jy moet saamvat: bes moontlik ’n slaapsak, handdoek, warm klere en kos wat jy kan koop net voor jy opklim.

    Volg Mark se raad oor die kos. Trouens, doen sommer voor julle vertrek saam met hom inkopies.

    Drink die seesiekpil Stugeron, wat jy sonder voorskrif kan kry. Net vir ingeval.

    Besoek allspiceyachting.com vir meer inligting en pryse. Hulle is buigsaam oor waar jy op- en afklim en hoe lank jy op die boot wil wees. Kontak Mark by mark@allspiceyachting.com.

    Van hul ervarings is ook op Airbnb. Soek vir “Cape of Good Hope Sailing Adventure”.

    Meer oor:  Seevaart  |  Atlantiese Oseaan  |  Airbnb  |  Reiservarings
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.